Garnaal-, tamatie-en-aspersie-risotto

0
143
garnaal.jpg

’n Lekker lang kuier om die etenstafel is die toppunt van geselligheid. Bederf jou kuiergaste met hierdie heerlike geregte soos Garnaal-risotto.

Genoeg vir 4
Tyd: 35 minute

BESTANDDELE
1,25 liter groenteaftreksel
125 ml witwyn
8 tiergarnale, skoongemaak en doppe verwyder
50 g botter
1 ui, fyngekap
300 g arborio-rys
1 klein bakkie rosa-tamaties, gehalveer, met enkele heles
1 bondel aspersies, afgewerk en in 5 cm-stukke gesny
40 g parmesaankaas, gerasper (plus ekstra vir opdiening)
seesout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
vars basilieblare, vir opdiening

METODE
1. Plaas die aftreksel en witwyn in ’n middelslagkastrol, voeg die garnale by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut.
2. Smelt die helfte van die botter in ’n groot braaipan oor lae hitte. Braai die uie daarin tot sag.
3. Voeg die rys by en meng goed in die botter. Voeg net genoeg warm aftreksel by om die rys te bedek. Kook en roer af en toe, tot vloeistof geabsorbeer is.
4. Voeg een of twee opskeplepelsvol aftreksel op ’n slag by die rys en roer goed. Wag tot alles geabsorbeer is voordat nog aftreksel bygevoeg word. Die rys sal baie romerig word.
5. Voeg die tamaties en aspersiestukke by en herhaal die proses met die aftreksel vir ’n verdere 5 minute. Voeg die garnale en oorblywende aftreksel by en kook vir 5 minute of totdat die rys net sag is.
6. Roer die oorblywende botter en 40 g parmesaan by en geur na smaak.
7. Sit dadelik voor met vars basilieblare en gerasperde parmesaankaas.

Deur Leila Saffarian, bygestaan deur Nomvuselelo Mncube. Foto’s deur Roelene Prinsloo.