Gebed maak haar droom waar

507

Almal het gesê die besigheid sal nie ’n sukses wees nie, maar Zelna Thys en haar man het besluit om te bly bid, glo en vertrou.

Dit gaan nie werk nie… dit gaan doodeenvoudig net nie werk nie.” Dís wat almal gesê het hier in die gemeenskap waar ons bly. Niemand wou in ons droom glo nie, maar ek en my man het besluit om te bid en vas te byt.

Jare lank het ons gedroom van ’n plek waar ’n mens wegneemetes kon verkoop. Jy weet mos, ’n takeaway-winkel. Ons het al ’n naam uitgedink en alles haarfyn beplan. Daar was nie ’n tekort aan planne nie, maar niks wou uitwerk nie.

Toe my man boonop sy werk verloor, het alles skielik verkeerd geloop. Dinge het sleg gelyk en die droom was besig om baie gou in die niet te verdwyn. Ons wou-wou moedeloos raak, maar het besluit om elke oggend saam te bid. Ons sou aanhou vra vir wat ons al jare lank so bitter graag wou hê.

Ek kan verstaan dat almal ons afgeraai het om met die projek te begin. Die gebou waaruit ons die winkel wou bedryf, was reeds daar, maar daar was nie ’n sent vir toerusting, personeel of die bestanddele om die kos mee te maak nie.

Aan die begin was daar wel vrese oor “wat as”. Dan het ons twee die Bybelverse van voor af weer gevat en dit gebid – vyfuur in die oggend by die winkel. Ons het geglo dat gelowiges regtig op Sy woord kan staatmaak.

’n Jaar later was die onderneming aan die gang! Dit het boonop goed gevaar. Aan die manier waarop dit vooruitgegaan het, kon ’n mens sien dat Hy baie planne daarmee gehad het. Daardie droom is waar gemaak om ’n rede.

Wat ek uit die hele ervaring geleer het? Eerstens dat Hy woord hou. Dit wat Hy ons belowe, realiseer. Hy is nie soos mense wat mooi beloftes maak, maar nooit doen wat hulle sê nie. Hy laat jou nooit in die steek nie, maar bedoel elke woord, en voer dit op die regte tyd uit.

As jy vandag voel soos ek en my man destyds gevoel het – reg om moed op te gee – dan wil ek vir jou sê: Hou moed. Die Here se tyd is nie ons tyd nie. Die dinge sal gebeur wanneer die omstandighede daarvoor reg is. Al vat dit jare, moenie moedeloos raak nie. Jou gebede sál verhoor word.

Dinge loop soos dit moet en ek prys Hom vandag daarvoor! Somtyds moet ’n mens aanbeweeg na ’n nuwe fase van jou lewe. Toe my man ’n konstruksiebesigheid begin, het ek besluit om saam met hom die groot sprong te waag. En weer word ons wonderlik geseën met alles wat ons saam daar aanpak.

Onthou net, wanhopige en desperate trane roer God nie. Net geloof doen dit. Die rede is dat jou trane nie jou omstandighede sal verander nie. Maar jou geloof veroorsaak ’n reaksie op jou woorde en só verander jou omstandighede.

Gebede is nie bedoel om Sy arm te draai om iets te kry nie, veral nie rakende dinge wat Hy reeds vir jou kom doen het nie. Dink mooi oor wat jy vra en begin op ’n manier bid waar jy nie meer vir God probeer oortuig om iets te doen nie. Dit beteken dat jou gebede nou eerder op jou omstandighede gemik sal wees.

BID SÓ VIR ’N WONDERWERK

“Seën asseblief my man se werk.” “Mag ons asseblief die huis verkoop kry sodat ons geld het om al die skuld af te betaal.”

Dié tipe gebede is volgens die patroon van sommige van Dawid se gebede in die Psalms. Daar het egter iets belangriks gebeur sedert Dawid so gebid het – Jesus het gekom en die wêreld vir altyd verander.

Ons kan nie meer ons gebede skoei op hoe iemand gebid het voor die Heilige Gees uitgestort is nie.

Dis glad nie nodig om Hom om te praat nie. Hy wíl dit graag vir jou doen! Kyk wat sê Jesus in Johannes 16:23: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.”

Miskien is jy ’n bietjie skepties en wonder dalk wat nie deel is van hierdie “alles” nie? Wel, hier is goeie nuus vir jou – daar is niks wat nie hierby ingesluit is nie.

Jy kan hierdie vraag ook anders vra: Hoeveel geloof het ek nodig om ’n wonderwerk te kry? Niks meer geloof as wat jy reeds gekry het nie. Jy hoef nie jou geloofspiere teenoor Hom te bult nie. Hy is reeds aan jou kant!

Lodewyk Spies