Gebeur goeie seks dan net in die flieks?

4363

Hoe wonderlik as ons elke aand sweet-sweet in mekaar se arms kon lê: bevredig in hart, siel en lyf langs die liefde van jou lewe…

Ongelukkig gebeur dit net in flieks of stomende fiksieverhale. Die regte lewe, vir selfs besonder gelukkig getroude paartjies, lyk egter heeltemal anders.

’n Gebrek aan kennis laat ons onwaardig voel

Die waarheid is dat bitter min mense enige opleiding het in die vaardigheid van seks. Ons is hoogstens ’n boekie in die hand gestop met ’n paar ontstellende feite oor swangerskap en menstruasie, en dit dikwels op ’n ouderdom waar ons reeds met maandstondes kennis gemaak het. Met ons gebrek aan kennis en vrymoedigheid het ons dus net twee leermeesters: onsself en die media.

Wat gemaak as jy van nature skaam, konserwatief of bedees is? Of as jy nie waagmoedig of kreatief is in die lus-afdeling nie? Om jou eie leermeester te wees is nie altyd maklik nie. Die meeste tydskrifte wat jou leer hoe om ’n vonk in die slaapkamer te hê, gee wenke wat geen werkende, gewone ma elke dag kan navolg nie, wat nog te sê vroue wat heupvervangings gehad het of hoogswanger is.

Jy moet buig soos ’n warm fizzer, beweeg soos ’n opgewende speelgoedhasie en op jou man spring soos ’n uitgehongerde jakkals ten einde sy ego te streel en die vlam brandend te hou.

Die regte lewe se slaapkamerprentjie lyk anders as in flieks

Die gevaar is dat ons ons eie sekslewe mettertyd meet aan dit wat ons in boeke lees of op die kassie of grootskerm sien – met die noodwendige slotsom dat ons passie kortkom, en dat ons nie avontuurlustig genoeg en nie mooi genoeg nie. Ons eie flenniepajamas word ’n aanklag. Ons bene wat sonbruin kort, die beenhare wat al begin uitgroei het en die bedkassie vol pille, boeke of bababottels word ’n herinnering dat ons nie great seks het soos ander mense nie.

Ai, die ontnugtering as jou man jou probeer optel vir daardie Basic Instinct-oomblik waar jy gedrapeer om hom klou terwyl julle passievolle seks teen die muur het – net om te besef dat jy sukkel om bo te bly en hy nie sterk genoeg is om jou op daardie hoogte vas te hou nie.

Die harde realiteit is dat julle seks het met die nuus wat op die agtergrond blêr, of die honde wat mekaar in die tuin aanval, en dat dit nou nie heeltemal die romantiese musiek is wat op ’n hoogtepunt eindig saam met die orgasme soos in die flieks nie. Die koue, harde feite skree: Vervelig!

Raak lief en lus vir jou eie realiteit

Die beginpunt en hoogtepunt van seks lê eintlik in jou kop. Vergeet vir ’n slag van dit wat jy al in ’n fliek gesien het. Wees doelbewus eerder gefokus op die man by jou – hoe jy oor hom voel en hoe hy jou in daardie oomblik láát voel. Vergeet van die laken met die teevlek op. Besluit vir jouself dat dit fantasties is om seks te hê ten spyte van die televisie se geraas of die kinders se bakleiery of gelag daarbuite.

Die beste seks begin nie by die regte musiek, oomblik of aanraking nie. Die beste seks word beoefen deur mense wat ingestel is op mekaar – wat doen wat hulle doen omdat hulle mekaar liefhet en emosioneel of fisies begeer.

Gretha Wiid, huweliksgroei, seksualiteit en tieners

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.