Gebore om besonders te wees!

0
770

Glo jy sukses is net vir ander? Hierdie leuen is jou grootste vyand sê Lynette Beer. Jy mág uitstaan en word wie jy bedoel is om te wees.

Elke mens word gebore om iets besonders te doen. Om te ontdek en te lei en die lewens van ander aan te raak. Ons is almal bedoel om iemand te wees, om ons merk te los en die wêreld te verander. Ons word gebore om alle beperkings wat ander op ons plaas, te oorskry. Om suksesvol en uitnemend te wees.

Jy is beslis nie gemaak om doodgewoon en middelmatig te wees nie, maar om buitengewoon te wees. Om dit reg te kry, moet jy verby jou omstandighede leef, reguit na jou doel toe, eerder as om daardeur gedefinieer te word. Jy hoef nie ’n slagoffer van ’n moeilike situasie te wees nie.

So, wat het dan gebeur? Wanneer het jy besluit dat die pad na uitnemendheid nie vir jou bedoel is nie en dat jy met ’n saai lewe tevrede moet wees? Hoekom laat jy toe dat vrees en die stemme van negatiewe mense jou ontmoedig en gevange hou?

Miskien leef jy hierdie leuen omdat jy nie bewus is van die krag van die onderbewuste en hoe dit jou negatief kan beïnvloed nie. Jy wag nie eers dat ander beperkings op jou plaas nie, jy doen dit sommer self!

As jy weet hoe jou gedagtes werk, sal jy hierdie konsep goed verstaan. Die paadjies in jou brein wat oor ’n tydperk deur jou negatiewe denke veroorsaak is, het destyds as klein groefies begin. Elke keer wat jy dieselfde negatiewe gedagte dink, word daardie groefie dieper, tot dit later ’n diep sloot is.

Dus, hoe meer ons die leuens glo wat ons vir onsself vertel, hoe dieper word die groewe. En hoe meer val ons vas in dieselfde denkpatrone. Later word dit die enigste manier waarop ons kan dink.

Hoe meer gevestig hierdie denkpatrone is, hoe moeiliker sal dit wees om te verbreek en hoe meer sal dit jou lewe beperk. Onthou, die enigste verskil tussen ’n groef en ’n graf is die diepte daarvan!

Dit mag nie gebeur nie, want jy is nie gebore om verslaan te word nie. Jou lewe gaan daaroor om iets met betekenis te skep, om ’n verskil te maak. Jy behoort spontaan, dapper en vry deur die lewe te huppel omdat jy weet jy kan enigiets regkry.

Met die regte kennis en aanmoediging kan enigiemand die mens word wat God haar geskep het om te wees. Onthou, jy het die potensiaal en jy is perfek bedraad om jou eie, unieke merk te maak!

’n Mens se verwagtings het ’n groot invloed op jou lewe. As jy min verwag, gaan jy min kry; as jy nie glo dat dinge beter gaan word nie, sal dit ook nie. Wanneer jy egter goeie geleenthede soos ’n bevordering of salarisverhoging verwag, sal jy ook baie meer sukses en guns beleef.

Dis egter belangrik om geduld te hê. As jy verwag dat dinge altyd volgens jou voorwaardes en skedule moet gebeur, raak jy ’n verbitterde vrou wat deur almal vermy word.

Die stres en angs wat mense elke dag moet verduur, kan hulle laat glo dat alles onmiddellik moet regkom. Geloof en die vertroue dat dinge tog op lang termyn sal uitwerk, gee vir jou sekerheid en verminder jou stres en angs. Jy sal dan tonne meer energie hê om aan jou drome te werk en jou doelwitte te bereik.

Natuurlik is dinge soos die regte geleentheid, goeie hulpbronne en slim tydsberekening ook nodig. Die ruggraat van sukses kry ons egter eerder in outydse konsepte soos harde werk, vasbeslotenheid, geloof in jouself en deursettingsvermoë.

Ons manier van dink bepaal ons lewe

Ons gesindhede en oortuigings het ’n groot effek op die manier waarop ons die wêreld sien en hoe ons daaroor voel. As jy gedurig deur angs geteister word en altyd aan jouself twyfel, is die kanse goed dat die probleem in jou gedagtes lê. Natuurlik bedoel jy nie om negatief te dink nie en besef jy dalk nie eers dat dit die geval is nie.

Die vraag is: Hoe kan jy verwag om geseënd te wees en jou beste lewe te leef as jy altyd fokus op dit wat verkeerd kan loop?

Om positief te leef, moet jy eers ’n positiewe uitkyk ontwikkel. Jy mag nie energie verkwis deur op negatiewe gedagtes en negatiewe herinneringe te fokus nie. Dis eintlik eenvoudig: Voor jy nie jou gedagtes en manier van dink verander nie, sal niks in jou lewe verander nie. Dit wat jy aanmekaar dink, is dit wat uiteindelik vir jou waar sal word.

Daarom is ongelukkigheid ’n blote gewoonte. Om gelukkig te wees is ook ’n gewoonte. Die keuse is joune. Watter een gaan jy kies?

Dis nie maklik om daardie nare gewoonte te verbreek nie, maar dis moontlik. Begin deur vas te stel presies hoekom jy jou oor sekere dinge bekommer.

Sodra jy daardie gedagtes geïdentifiseer het, moet jy hulle vasvat en verander. Die lewe is te kort om jou energie te bestee aan bekommernis oor wat ander mense dink of oor wat dalk kan gebeur.

Die lewe is soos ’n motor. Dit het ’n vorentoerat en ’n trurat. Elke mens besluit self in watter rigting sy wil ry. As jy op jou probleme fokus en glo dat jou drome nooit waar sal word nie, is jy besig om in trurat te ry. Hoe sal jy ooit die resies kan wen?

Dit is nie jou omstandighede wat jou negatief maak nie. Dit is jou houding teenoor daardie omstandighede.

Ons kry elke dag die geleentheid om ons gesindheid te kies. Ons kan kies om gelukkig en optimisties te wees en te glo dat ons ons drome gaan verwesenlik. Of ons kan kies om negatief te wees en net op die probleme te fokus.

Moenie wag vir alles om te verander voordat jy jou houding verander nie. Kry eers die regte houding, dan is die kans groot dat die situasie ook sal verander.

Wees realisties, die lewe is goed en sleg

As kinders word ons geleer om groot te droom en na die sterre te reik. Soos ons grootword, kry ons seer en die wêreld en ander mense stel ons teleur. Dan hou ons stadig maar seker op om groot te droom en goeie dinge te verwag.

Dis eintlik maar ’n verdedigingsmeganisme. Deur laer verwagtings te koester, stel jy jouself nie so baie bloot aan teleurstelling en seerkry nie. Baie mense staan soggens op en verwag ’n slegte dag – dan is hulle nie teleurgesteld as dit regtig so verloop nie.

Die gevolg van hierdie ingesteldheid is dat ’n mens begin glo dat niks wat goed is, ooit met jou gebeur nie. Jy stap by ’n vertrek in en verwag dat niemand van jou gaan hou nie. Jy gaan winkel toe en verwag om nie te kry wat jy soek nie. Jy gaan vir ’n onderhoud en verwag om nie die werk te kry nie.

Dit help natuurlik nie om onrealisties te wees nie. Ja, jy sal slegte dae hê. Ja, daar sal frustrerende dinge gebeur wat jou hele dag kan omkrap. Jy sal nie die mooi huis kry wat jy begeer nie. Jou kinders sal jou teleurstel. Jy kan ernstig siek word. Jy sal uitdagings en teleurstellings hê.

Die meeste mense gee egter te gou moed op. Hulle dink dat die lewe veronderstel is om maklik te wees en dat hulle alles met die minste moeite moet kry. Maar die lewe is goed én sleg – daar sal sukses én teleurstelling wees. Om te dink dat die lewe net goed moet wees, is ’n blote fantasie. Dit sal jou laat twyfel of jy ooit ’n kans op sukses sal hê.

Jy moet jou dag reg begin, want dit gee die toon aan vir wat kom. Elke oggend as jy uit die bed uit opstaan, behoort jy te sê: “Iets goeds gaan vandag met my gebeur.” Leef dan met hierdie helder visie en verwagting. Dwarsdeur die dag behoort jy iets goeds te verwag – soos ’n kind wat wag om ’n geskenk oop te maak.

’n Goeie gesindheid is nie vanselfsprekend nie, veral nie as jy dit nie doelbewus kies nie. Jou natuurlike ingesteldheid is gewoonlik negatief en dit beperk jou lewe en jou verwagtings.

Moenie toelaat dat die negatiewe dinge jou beheer nie. Besef dat dit nie permanent is nie, maar slegs tydelik en dat die situasie ook weer kan verander.

Niemand is perfek nie, maar jy kan altyd verbeter

Ons kan nooit volmaak wees nie, maar ons kan elke dag probeer om beter te word. Om met die ou gewoontes te breek en nuwe gewoontes aan te leer, is harde werk. Dis hoekom baie mense moed opgee en terugval in hulle gemaksone. As jy egter vasbyt en deurdruk, sal dit dubbel en dwars die moeite werd wees.

Almal maak foute, dis waar, maar as jy nie gewillig is om daaruit te leer nie, sal jy nooit groei nie. As jy aanhou om iemand anders of iets anders vir jou ongeluk te blameer, sal jy nooit besef hoekom dit met jou móés gebeur het nie.

Dieselfde probleem sal herhaaldelik en op verskillende maniere in jou lewe voorkom, totdat jy die verantwoordelikheid aanvaar om op daardie terrein te verander en te groei.

Baie mense hoop hulle word beter deur op hulle tekortkomings en mislukkings te fokus en hulleself daaroor te verwyt. Om te probeer om ’n emosionele probleem op te los terwyl jy jouself afkraak, is baie soos om ’n vreemde taal te probeer aanleer terwyl jy jouself met die handboek oor die kop slaan! Dit sal net glad nie werk nie.

Aanvaar dat jy ’n onvolmaakte mens is, maar neem dan stappe om te verbeter. Jy is net soveel werd as ander mense en jy is, nes hulle, ook bestem vir ’n buitengewone lewe. As jy reg dink, word jou aandag nie meer so baie afgelei omdat jy jouself bly kruisig nie. Daarom kan jy baie beter daarop fokus om jou probleme te hanteer.

Moenie in die slaggat trap waar jy besluit dat jou situasie so spesiaal en ongewoon is dat dit nie oorkom kan word nie. Soms kan mense op die verdediging wees omdat hulle glo dat hulle swak punte hulle uniek maak. Jy sal steeds ’n unieke mens wees as jy jou probleme oorkom het – net ’n baie gelukkiger een!

Een van die grootste struikelblokke wat jou daarvan weerhou om sukses te behaal, is om te weier om te glo dat dit moontlik is. Wees op die uitkyk vir negatiewe voorspellings wat jy maak oor jou vermoë om as mens te groei. Stop sommer nou dadelik die gedagtes wat enigsins klink soos: “Ek sal nooit verander nie – ek is al te lank soos ek is.”                                                          

Verwag dat goeie dinge met jou sal gebeur

Probeer altyd om vir jouself dieselfde raad te gee as wat jy vir jou vriendin met ’n soortgelyke probleem sou gee. Onthou die dinge wat jy in die verlede gedoen het wat moeilik was en baie moeite geverg het om te hanteer. Skep moed – dis moontlik om dit weer reg te kry!

Om jou hele lewensuitkyk te verander is dalk makliker gesê as gedaan. Dit maak sin om die lewe anders te benader, maar die oomblik wat jy begin om op hierdie nuwe manier te dink, begin jy dalk weer twyfel.

Dit kom daarop neer dat jy nie meer op daardie onproduktiewe, outomatiese manier sal reageer nie maar doelbewus die alternatief sal kies. Dit mag selfs die teenoorgestelde reaksie wees van jou gewone manier van optree.

Wanneer jy vasgevang raak tussen die keuse om jou denke te verander en om steeds vas te hou aan jou ou denkpatrone van die verlede, is jy in ’n toestand van kognitiewe dissonansie. Jy weet dat jou ou manier van dink nie honderd persent reg was nie, maar jy is ook nie doodseker dat die nuwe manier die regte een is nie.

Jy weet dat ’n argument waar is in jou kop, maar dit voel nie so in jou hart nie. Dit word ’n kop-na-hart-probleem genoem. As jy byvoorbeeld vir jare al glo dat jy minder werd is as ander en dat jy ander se goedkeuring nodig het om gelukkig te wees, kan dit baie moeilik wees om skielik anders te dink. Jy weet dis die regte manier, maar jy kry dit nog nie met jou hele hart reg nie.

Wanneer dit gebeur, moet jy doodeenvoudig optree asof jy reeds glo dat die nuwe oortuiging waar is. Soos wat jy elke dag aangaan om nuut en anders te dink, sal jou brein mettertyd bewyse bymekaar maak wat jou nuwe oortuigings sal versterk.

Die beginsel is eenvoudig: Verwag groot dinge en glo dat God ’n unieke en wonderlike plan vir jou lewe het. Leef doelgerig daarvolgens en jy sal die oorvloed en harmonie aantrek wat jy verdien.

Daar is baie mense wat nie hulle volle potensiaal bereik nie. Nie omdat hulle nie die talent of vasbeslotenheid het nie, maar omdat hulle nie regtig glo dat hulle bestem is om ’n buitengewone te leef nie.

Vra die regte vrae en kry ’n betekenisvolle lewe

Die lewe kan ook gesien word as ’n vasvra met vrae en antwoorde. En vrae vertolk die primêre rol.

As ek vir jou sê dat jy op ’n sekere manier moet optree, gee dit jou nie baie opsies nie. Maar as ek vra: “Wat dink jy is die regte optrede in hierdie situasie?” nooi dit jou uit om daaroor te dink en self te kies.

Hierdie proses vind aanmekaar in die brein plaas, maar ’n mens kom dit nie agter nie. Na ’n rukkie raak jy gemaklik en reageer bloot soos jy gewoond is. Dit is dan dat ’n mens ophou vorder, en stagneer.

Sodra jy ophou vrae vra omdat jy dink jy ken reeds die antwoorde, beperk dit jou keuses en kanselleer ’n klomp groeigeleenthede.

Watter tipe vrae is die beste? Nie praatjies oor koeitjies en kalfies nie, maar vrae wat jou sal uitdaag en nuwe geleenthede kan skep, byvoorbeeld: Wat kan ek uit vandag se ervaring leer? of: Wat omtrent my gesin maak my gelukkig?

Sulke vrae ontsluit ’n unieke stel antwoorde wat tot sekere emosies aanleiding gee. Wat dan weer tot ’n sekere aksie (of gebrek aan aksie) lei. Met beperkende vrae kry ’n mens beperkte resultate. Lewensveranderende, vooruitskouende vrae lewer baie beter resultate.

Sommige mense hou van vrae soos: Hoekom is ek so ongelukkig? Wat as ek eerder ’n ander keuse gemaak het? En: Hoekom gebeur dit altyd met my? Omdat hierdie tipe vrae terugskouend is, kan dit jou in die verlede laat vasval.

Wat kan ek leer uit hierdie ervaring? Wat kan ek anders doen om vorentoe te beweeg? En: Waarvoor is ek dankbaar? is meer bemagtigend. Dit daag jou uit en sit jou aan die dink op pad na ’n beter lewe.

Hoe meer konkreet die vrae, hoe meer konkreet sal die antwoorde ook wees. En hoe meer positief die vrae, hoe meer positief die antwoorde. Kwaliteitvrae bring kwaliteit-antwoorde en skep ’n kwaliteit-lewe.

Dit maak nie saak as dit aan die begin moeilik is of jy nie al die antwoorde ken nie. Jou gedagtes het nie grense nie. Die antwoorde is daar – dis net dat jou kop ’n bietjie deurmekaar is, omdat jy dit nooit voorheen so gedoen het nie. Hoe meer vrae jy vra, hoe helderder sal jy begin dink en hoe duideliker sal die antwoorde uiteindelik wees. En is sukses jou voorland!

Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid”. Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.