Gebraaide steak met chimichurri

0
117
steak_resep.jpg

’n Smaaklike bord gebraaide steak met chimichurri is net die regte ding na ’n lang dag by die werk. En dan is dit boonop nog vinnig om voor te berei. Basta met ure voor die stoof staan!

Genoeg vir 4-6
Tyd: 30 minute

BESTANDDELE
2-3 rooi of geel soetrissies
2 x 700 g lendeskyf, in blokkies gesny
30 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
100 g vars roketblare, vir opdiening

CHIMICHURRI
2 tamaties, ontpit en gekap
1 rooi-ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, gekneus en fyngekap
’n groot handvol vars platblaarpietersielie, gekap
5 ml droë origanum
5 ml rooipeper
5 ml paprika
5 ml fyn komyn
1 lourierblaar, fyngekap
80 ml olyfolie
60 ml rooiwynasyn

METODE
1 Kry matige tot warm kole gereed. Braai die soetrissies oor die warm kole (of onder die oondrooster). Verwyder van hitte, bedek met kleefplastiek en hou eenkant vir ’n paar minute om te sweet. Skil, verwyder pitte en sny in blokkies.
2 Vir die chimichurri: Plaas al die bestanddele in ’n mediumgrootte mengbak en meng goed deur.
3 Plaas die lendeskyfblokkies in ’n groot mengbak en bestryk met olyfolie. Ryg die vleis om die beurt met die blokkies soetrissie op houtvleispenne. Geur na smaak.
4 Braai oor baie warm kole tot gaar na smaak, ongeveer 15 20 minute. Sit voor met die sous.

Bronne:
Artikel: Vickie de Beer, bygestaan deur Jana van Sitter en Innemari Rabie
Fotograaf: Lee Malan
Met komplimente van Food and Home Entertaining