Gedagtes wat jou so lamlê

2379
geloofsplan

Almal ken die gevoel: Vrees vir môre, vrees oor jou geldsake of jou veiligheid. Mense bekommer hulle siek! Gelukkig kan jy ophou stres en vry leef.

7-dag geloofsplan

Almal ken die gevoel: Vrees vir môre, vrees oor jou geldsake of jou veiligheid. Mense bekommer hulle siek! Gelukkig kan jy ophou stres en vry leef.

DAG 1
Jy kan jou angs deur geloof oorwin

Jy het seker ook al elke moontlike scenario van mislukking in jou kop afgespeel as jy met iets nuuts moet begin. Vrees oor alles wat kan skeefloop, is seker die grootste ding wat mense daarvan weerhou om enigiets aan te pak. En tog, as jy nooit iets nuuts aanpak nie, sal jy ook niks bereik nie. Dan gaan jou volle potensiaal verlore.

Dis veral mislukkings uit die verlede wat mense keer om te groei en hulle verhoudings strem. Hoe kan jy ooit voluit vorentoe leef as jy bly agtertoe kyk? Vrees behoort nie die laaste woord oor jou optrede te hê nie. Dit is beslis nie groter as God nie, hoewel dit soms julle verhouding kan belemmer.

Vrees is ook nie alles wat oor jou as mens gesê kan word nie – dis maar een emosie. Maar hoe keer jy dat hierdie een emosie jou hele lewe lamlê? Jy kan dit slegs oorkom deur jou vol te maak met hemelse vrede sodat jy vry kan leef.

Sagaria 9 vertel van Jesus wat nederig is en op ’n donkie ry. Dit is 520 jaar voor Sy geboorte alreeds aangekondig. En dit het presies net so gebeur! As die Woord dus sê dat Hy omgee en vir jou sal sorg, kan jy dit gerus maar glo.

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie (Sag. 9:9).

DAG 2
Die duiwel probeer om jou hoop te vernietig

Die woorde “moenie bang wees nie” kom talle kere in die Bybel voor. Maar waarom dink jy word dit so baie herhaal? Omdat jou Pa maar alte goed besef dat twyfel jou kan verlam en kan keer dat jy by jou doel uitkom.

Vrees is glad nie deel van die oorspronklike beeld waarvolgens ons geskape is nie. Die duiwel het kom inmeng omdat hy graag ons geloof in God en die Woord wil afbreek. Hy weet dit sal ons bietjie vir bietjie laat twyfel en ons uiteindelik in koue vrees laat beland. En dat ons dan onder Sy beskerming sal uitbeweeg – want vrees staan lynreg teenoor geloof.

Die vraag is, na wie luister jy? Na die Vader van geloof en hoop of na die vader van vrees en die verwagting van slegte dinge, wat die basis van vrees is? Jy kan elke dag kies waarmee jy jou hart gaan volmaak: vrees of hoop.

Jy is oneindig kosbaar – dit is lankal aan die kruis bewys. Jou naam raak nooit verlore tussen al die ander name op die lys nie. Omdat jy so spesiaal is, hoef jy nooit bang te wees vir wat mense aan jou kan doen of vir ander beproewings nie. Nie een van daardie dinge kan jou Vader se liefde vir en in jou uitwis nie.

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim. 1:7).

DAG 3
As jy bang is, wil jy eerder wegkruip

As kind het jy altyd weggekruip nadat jy iets verkeerds gedoen het. Ongelukkig doen grootmense dit ook, soos Adam en Eva in die tuin. Dit is wat vrees doen – dit laat jou jou kop teen die grond vasdruk soos ’n volstruis.

Jy sien elke dag mense wegkruip agter hoë mure, traliehekke en alarms. Ons steek ons ware gevoelens ook weg agter valse glimlagte, of agter mooi woorde wat ons nie regtig bedoel nie. Soms skuil ons agter ons verlede of ons tekortkominge omdat ons bang is om te waag.

Vrees steel jou lewenskwaliteit en verhoed dat jy jou volle potensiaal bereik. Party mense is te bang om weer lief te hê omdat hulle voorheen seergekry het. Dan gebruik hulle werk, kinders of stokperdjies as ’n kruk. Hulle wil of kan nie die uitdaging van die lewe met al sy teleurstellings hanteer nie.

Om lugtig te wees vir mense kan al die mooi dinge wat jy probeer bereik, in die wiele ry. Dit kan selfs veroorsaak dat jy bang is om uit jou huis te gaan! Dis baie beter om eerder ontsag te hê vir die Een wat die slegte dinge wat ander jou toewens, tot jou eie voordeel kan gebruik.

As jy altyd bang en gespanne is, ontneem jy jouself ’n groot deel van die lewe! So ’n oorversigtige uitgangspunt strook beslis nie met jou vryheid as Christen nie.

As jy vir mense bang is, kan jy in ’n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig (Spr. 29:25).

DAG 4
Vrees keer dat jy jou doel bereik

Vrees belemmer dikwels jou verhouding met die Here. Dit maak dat jy nie uitkom by wat vir jou beplan is nie, omdat jy nie volledig op Hom vertrou nie. Tog is daar al talle kere bewys dat jy wel op die hemelse beloftes kan staatmaak.

Dit was vrees wat veroorsaak het dat Petrus gejok het toe hy gevra is of hy die Meester ken. En ons doen dit ook! Jy ken seker die gevoel: Jy word soms met ’n verskriklike beklemming in die middel van die nag wakker en dan kan jy nie weer slaap nie. Dis hierdie gevoel wat jou verhinder om jou drome na te jaag of om vol liefde na ander uit te reik. Dit maak dat jy jouself in ’n tronk toesluit en die sleutel nog weggooi ook!

Vrees kan nie deur rasionalisering of deur selfbeheersing beheer word nie. Jy kan dit net oorkom deur te leer hoe om heeltemal op die liefdevolle sorg van jou Pa te vertrou. Jy weet mos dat jy nooit alleen is nie.

Jou vrees vir “sê nou” is gewoonlik die ding wat jou oortuig dat jou probleme net té groot is. Maar het jy al agtergekom dikwels is dit waaroor jy jou bekommer iets wat in elk geval nooit gaan gebeur nie? Stop daardie onnodige getob sommer vandag nog. By Hom ís alle dinge moontlik. Glo dit doodeenvoudig met jou hele hart.

In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ’n mens aan my doen? (Ps. 56:12)

DAG 5
Glo net dat jy nooit alleen is nie

Jou lewe lê voor jou – dit maak nie saak of dit lank of kort gaan wees nie. Dit is vol potensiaal, nuwe vriendskappe, nuwe ontdekkings en nuwe passies. Jy kan kies of jy elke dag weer gaan wegkruip agter verskonings omdat jy te bang is vir nuwe uitdagings of vir mislukking. En of jy uit jou wegkruipplek gaan klim en begin leef.

Liefde moet eerder die dryfveer in jou lewe wees. Johannes se uitsprake dat liefde vrees kan verdryf klink dalk vir jou net té eenvoudig. Jy wonder miskien of dit nie een van daardie oorvereenvoudigings is wat sielkundiges uitdink, maar wat nie kan werk nie. Is dit nie ’n kitsantwoord waaraan ’n mens jou nie te veel moet steur nie?

Vrees is nie ’n emosie wat ’n mens ontgroei nie. Tot in jou oudag bly dit lewendig by jou. En tog sê Johannes dat hierdie vrees deur die liefde hokgeslaan kan word! Niks is groter as God nie, en by Hom ís alle dinge moontlik.

Wanneer jy dus alleen en bang voel, onthou jy is nooit aan jou eie lot oorgelaat nie. Daar is Iemand wat elke tree saam met jou stap – jy moet net vra wat jy nodig het. Die Skepper het jou gemaak omdat Hy iemand wou liefhê en niks sal ooit daardie liefde vir jou verander nie.

Waar daar liefde is‚ is daar geen vrees nie‚ maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie (1 Joh. 4:18).

DAG 6
Liefde laat jou bekommernis gou verdwyn

Om liefgehê te word, daardie spesiale gevoel van “ek behoort aan”, is een van die lekkerste ervarings wat ’n mens kan hê. Dit laat jou veilig voel in ’n wêreld vol onsekerheid en pyn.

God is só lief vir jou dat Hy vir jou ’n aarde geskep het waarop jy kan floreer en gelukkig wees. En Hy het sy enigste Seun vir jou aarde toe gestuur. Wat meer het jy nodig? Jy is vir altyd veilig!

Het jy al gesien hoe klein kindertjies skielik nie meer bang is as hulle ouers naby is nie? Dis omdat hulle weet: Pappa en Mamma het my lief; hulle omvou en beskerm my met hulle liefde. Hulle is gekoester in daardie liefde en daarom is hulle nie angstig en vreesbevange nie.

Ons moet dieselfde liefde oral so begin uitleef. By ons huise: Ons moet in vrede met ons huismense leef en mekaar nie die hele tyd probeer afkraak nie. Ons moet rondom ons ’n veilige ruimte skep, gevul met liefde. Dan sal vrees sommer heeltemal op die agtergrond gaan staan.

By die werk: As die agape-liefde daar sigbaar is, kan mense sonder vrees werk – en so tot hulle volle potensiaal kom. In ons breër gemeenskap: Wanneer die gee- en omgeeliefde na vore kom, word vooroordele en vrees vir mekaar agtertoe geskuif. Dan is die wêreld sommer ’n beter plek, vir almal!

“Julle moet nie ontsteld wees nie; glo in God, glo ook in My” (Joh. 14:1).
DAG 7
Laat hierdie vyf dinge jou hoop gee

Wanneer jy snags wakker lê of voel dat vrees jou keel wil laat toetrek, moet jy onthou:

God is in beheer. Jy moet diep in jou hart weet dat, al is dinge buite jóú beheer, die Skepper van dinge is nog steeds in beheer. En om moedeloos te word oor jou omstandighede is niks nuuts nie. Gelowiges deur die eeue het dit ook ervaar – maar hulle is nog altyd beskerm en bewaar in gevaarlike tye.

Bly hoop. Om te hoop is baie soos geloof. Jy vertrou op dinge wat jy nie kan sien nie. Dalk is dit waarom hoop so moeilik is. Daarsonder kan geen mens egter lewe nie! Solank as wat jy hoop, kan jy aangaan.

Onthou die goeie dae. Enige mens raak soms moedeloos oor al die slegte nuus. Wanneer jy bekommerd raak oor jou en jou gesin se veiligheid, moet jy veral die kere in die verlede onthou toe alles goed uitgewerk het. Al jou vrese is ’n mors van tyd.

Lewe vreesloos. Dis onmoontlik om tegelyk gelukkig en vreesbevange te wees. Die heel beste oplossing is om jou vrese te herken, hulle te erken en hulle om te ruil vir die hemelse liefde en vrede.

Hou moed. Moed beteken nie dit sal altyd goed met jou nie, maar jy het beslis moed wanneer jy die uitdagings op jou pad aanvaar omdat jy weet Iemand kyk goed na jou.

Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie (Ps. 138:8).