Geduld is iets wat jy moet oefen

0
21
geduld.jpg

In ’n samelewing waar alles vinnig gebeur, het ons geduld verleer. Oefen weer om geduldig te wees.

Ons leef in ’n kits-samelewing: kitskoffie, kitsbanke en restaurante met kitskos. Ons is gewoond daaraan dat ons behoeftes baie vinnig bevredig word. My rekenaar is redelik vinnig, maar party dae wil ek teen die mure uitklim as dit te lank neem om ’n lêer oop te maak! Ja, om haastig te wees en vinnig resultate te wil verkry, is deel van ons bestaan. Ons raak ongeduldig met onsself, ander mense en selfs met God!

Maar helaas neem sommige goeie dinge tyd om te realiseer, soos om op ’n gesonde wyse gewig te verloor! Hoe jy elke dag van die maand gaan leef en eet, gaan bepaal hoe jy oor dertig dae gaan lyk en voel! Doen elke dag jou deel, volg die raad op hierdie webwerf en neem die regte besluite, dan sal jy ’n reuse sukses behaal.

Wanneer ons in Kolossense 3 lees dat ons geduldig moet wees, sê Paulus ons moet geduld soos klere aantrek. Dit is met ander woorde ’n aksie wat ons moet uitvoer. Jy moet dus besluit om meer geduldig te wees. Dalk dink jy: Ja, maar ek is ongeduldig gebore. Dan is die vraag: Was daar al kere wat jy bewustelik gekies het om geduldiger te wees, miskien met ’n baie belangrike persoon of dalk jou werkgewer? Wel, as jy toe gekies het om meer geduld te hê kan jy dit altyd doen!

Vra God om vir jou ’n langtermynvisie te gee wat ’n gesonde leefstyl betref. Vra Hom om vir jou in die proses rustigheid, vrede en geduld te gee.