Gee die gevoel ’n naam

2322

Woede is ʼn sterk emosie, maar dit kan voordelig wees. Omdat ons dit nie kan vermy nie, moet ons ons kinders leer om dit reg te hanteer.

Net soos opgewondenheid en blydskap is woede ook ʼn natuurlike emosie. Dit is daarom belangrik dat ons ons kinders moet leer om die gevoel ʼn naam te gee en effektief daarmee om te gaan.

Laat hulle toe om soms stoom af te blaas

Die fout wat ons as ouers gereeld begaan, is om ʼn deksel op die woede te sit. Ons straf ons kinders as hulle kwaad word. Ons moet egter besef dat die woede op sigself nie die probleem is nie. Dis vir hulle nodig om kwaad te word, want dit help met oorlewingsmeganismes en die onderskeid tussen reg en verkeerd.

Onthou jy nog die kere wat jy woedend was en toe sommer daardie doenlysie kafgedraf het? Of jy was so vies dat jy besluit het om groot veranderings in jou lewe te maak – met positiewe gevolge.

Ongelukkig gebeur dit dat woede ons oorweldig, en dan kom die uitdagende gedrag by jou kind na vore (dalk as gevolg van ’n gevoel van magteloosheid?). Dis die geskop, geskree, geslaan, die neerval op die vloer, die tiener wat ʼn deur toeklap. Woede veroorsaak ook spanning vir al die huismense, want dit laat jou buite beheer voel.

Noem die emosie by die naam en hanteer dit beter

Kinders wat emosies verstaan, kan erken dat hulle kwaad is en kan ʼn naam daaraan gee. Dan word maniere gevind om seker te maak die kwaadheid kry hulle nie onder nie. Jy kan hulle help om sin te maak van die woede deur dit te identifiseer en reg te hanteer. Leer kinders van kleins af om hulle emosies uit te druk. Hulle moet ’n emosionele woordeskat ontwikkel en hulle gevoelens reg kan uitdruk, anders hou die rebelse gedrag aan.

Dit is belangrik om nie iemand anders se woede met ons eie uitbarstings te probeer oplos nie. Dit help nie jy skree terug as Sussie op Boetie gil nie. Bly kalm, haal asem en probeer vasstel waarom jou kind so reageer. Woedeuitbarstings volg dikwels omdat daar nie in die basiese behoeftes voorsien is nie – jou kind is dalk moeg of honger. Wees ingestel op wat jou kind, met sy spesifieke persoonlikheid, kan hanteer en wat nie. Hy voel dalk oorweldig deur ʼn onlangse groot verandering, soos ʼn nuwe skool, ʼn nuwe sussie of boetie, of bemerk dalk onderliggende spanning in die huis.

Wys eerder dat jy verstaan hoe hy voel. Sê iets soos: “Ek kan sien jy is nou baie kwaad.” Nadat die emosie geïdentifiseer is en waarskynlik ook die rede daarvoor, kan jy maniere opnoem om jou kind te help om kalm te word. Sommige kinders vind baat daarby om heeltemal uit die situasie verwyder te word. Ander hou weer daarvan om iets bekends of sags vas te hou, soos ʼn spesiale teddiebeer. Vir ander is dit net nodig dat ons na hulle luister.

Erken negatiewe emosies, maar verduidelik dit

As jy leiding gee oor hoe om die sterk emosie te hanteer en maniere gee om te kalmeer, beteken dit nie jy keur die gedrag goed nie. Dis ook belangrik om duidelike grense te stel vir uitdagende gedrag, veral wanneer ander mense seergemaak of te na gekom word. Sê iets soos: “Ek kan sien jy is kwaad, maar dis verkeerd om iemand anders te slaan of seer te maak. Omdat jy Boetie geslaan het, kan jy nie verder speel nie.”

Wanneer jou kind weer rustig is, kan hy aangemoedig word om verder te speel. Gesels ook oor maniere om volgende keer sy woede anders uit te druk. Ek kan onthou hoe opgewonde ek was toe my dogtertjie eendag gesê het: “Mamma, ek is nou so kwaad, dit voel of ek kan skree!” Wat ʼn deurbraak! Sy kon haar emosie ʼn naam gee en sy kon verduidelik hoe dit haar laat voel het. Die wonderlike ding was dat dit nie vir haar nodig was om te skree nie.

As sy aggressiewe gedrag en woede egter aanhoudend gebeur en inmeng met sy vermoë om te leer en te ontwikkel, is dit dalk tyd om by ʼn professionele persoon vir hulp aan te klop.

Lizanne du Plessis, ouerskapkenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.