Gee jou drome ’n “makeover”

0
66
droom.jpg

Spyt dat jou jongmens drome nog nie waar geword het nie? Dis tyd om daardie drome ’n makeover te gee.

Jy het altyd gedroom van ’n lewe wat anders is as die een wat jy op die oomblik het. Jy sou dalk eerder voltyds wou skilder of op die Franse platteland wou bly terwyl jy kookklasse aanbied.

Dis egter nie ’n eenvoudige ding om te doen nie. Daar is net te veel dinge wat jou keer. Jy glo jy sal nog ééndag daarby uitkom, want vanoggend moet jy huis skoonmaak en vanmiddag moet jy die kinders karwei. Môre het weer ander dinge – en so stel jy jou beter lewe aanhoudend uit.

Maar jy het deurentyd die knaende gevoel dat jy iets misloop, dat jy nog nie bereik het wat jy moes nie.

Moet egter nie die fout maak en sommer net aanvaar dat jy nog dieselfde drome het as tien jaar gelede nie. Onthou, die wêreld is nie staties nie. Dit verander gedurig. En jy ook.

Jy wou dalk op agttien ’n lugwaardin word sodat jy die wêreld kon sien. Dit help nie om daarby vas te steek nie – jy weet goed jou kort, plomp lyfie sal nie in daardie uniforms pas nie! En jy word in elke geval karsiek as die motor om die eerste draai gaan.

Wat jy moet doen, is om jou drome van voor af in oënskou te neem. Goed, jou dae vir lugwaardin wees is verby. Hou op om jou daaroor te verknies. Maar jy wou nog altyd graag reis. Maak dit dan jou nuwe doelwit en begin vandag om daarvoor te spaar.

Onthou, dis nooit te laat nie. Daar is baie vroue wat op sestig begin skryf of ’n nuwe stokperdjie begin beoefen. Tog, hoe vroeër jy kan begin, hoe beter – dan lê daar nog baie goeie jare voor.

Stel vir jou langtermyndoelwitte. Daarsonder sal die sleur van elke dag jou tyd en jou hele lewe insluk. Dis klein goedjies soos TV kyk, huis skoonmaak en Facebook wat jou tyd steel.

Hierdie dinge dra glad nie by tot die toekoms wat jy wil hê nie. Dis eerder die groot-prentjie-dinge wat jou lewe betekenis gee, soos om ’n nuwe vaardigheid aan te leer wat jou nader aan jou droom sal bring.

[pagebreak]

Stel die regte, realistiese doelwitte

Hoe weet jy waarna jy nou eintlik moet streef? Die beste manier is om te vra: Waaroor sal ek eendag op my sterfbed spyt wees? Werk dan van daar af terug en besluit wat jy vandag reeds kan begin doen om jou lewe te verander.

Voordat jy egter met jou makeover kan begin, moet jy jouself eers goed leer ken. Dis soos ’n voorkomsverandering: Jy moet weet hoe jy nou lyk en hoekom jy nie tevrede is met jou voorkoms nie sodat jy kan weet hoe jy eintlik wíl lyk.

Jy het dus twee “foto’s”. Die een wys jou prentjie nou, met foute en al, en die ander een wys jou prentjie ná die tyd. Die regte “haarstyl”, “grimering” en “klere” kan wondere vir jou verrig!

Jy moet dus jou swakhede en sterkpunte ken. Dis belangrik om so realisties as moontlik te wees. Vra iemand wat jou goed genoeg ken en wat eerlik met jou sal wees om jou hiermee raad te gee. Dit help nie jy droom nog altyd daarvan om die Idols-kompetisie te wen, maar jy kan nie eers noot hou nie!

Waak daarteen om nie jou eie waardes en drome opsy te skuif en te doen wat iemand anders van jou verwag nie. Jou pa wil dalk bitter graag ’n naamgenoot hê voor hy te oud is. Moenie swanger raak tensy jy seker is dit is wat jy ook graag wil hê nie, anders gaan jy dalk oor tien jaar spyt wees jy het nie eers jou jong lewe geniet nie.

Maak dit vir jouself maklik om sukses te behaal

Jy het al voorheen probeer om meer te oefen. Dan het jy vol geesdrif begin, maar dit was te uitputtend en later het jy dit gelos. Of jy het gedroom van ’n skattige baba. Jy het egter glad nie besef hoeveel doeke jy sal moet omruil en met hoe min slaap jy sal moet klaarkom nie!

Enige leefstylverandering is harde werk en moet regtig deel van jou lewe word. En dit gebeur nie oornag nie.

Gelukkig is daar maniere hoe jy dit makliker kan maak. As jy wil oefen, moet jy elke dag ’n tyd skeduleer en jou drafskoene aantrek, of jy lus is of nie! Dan weet jy: As dit sesuur is, is dit draftyd. Later word dit dan eintlik moeiliker om nié te gaan oefen nie, omdat jy dit as ’n gewoonte gevestig het.

Gestel jy wil ’n nuwe taal aanleer. Moenie die CD en handleiding in ’n kas bêre nie. As jy eers moeite moet doen om dit uit te haal, sal dit jou sommer van die begin af ontmoedig. Plaas dit op ’n plek waar jy dit maklik kan bykom, soos langs die TV se afstandbeheer. Stel dan vir jou ’n doelwit om eers vyf nuwe woorde te leer voor jy saans die TV mag aanskakel.

As jy gesonder wil eet, haal éérs al die ongesonde kos uit die yskas. Pak dit nou vol met gesonde snoepgoed soos vrugte en groente. Uiteindelik is jý die een wat jou eie toekoms bepaal, niemand anders nie.

[pagebreak]

Verwag soms terugslae en vier altyd jou suksesse

Goed, jy het die klawerbord en bladmusiek gekoop, ’n les gekry en jou eerste liedjie leer speel. Maar nou besef jy eers hoeveel oefening dit nog sal verg voor jy jou eerste gig sal kan doen. Moenie dat die realiteite jou heeltemal oorweldig nie.

Een manier is om jou doelwitte neer te skryf. As jy byvoorbeeld elke keer jou tyd neerskryf nadat jy klaar gedraf het, sal jy voel jy maak darem vordering. Of besluit watter oulike liedjie jy volgende op die klawerbord gaan speel.

Dis beter as om sommer net lukraak te begin. Al verbeter jy nie, sal dit help om te sien hoeveel moeite jy al gedoen het.

Die beste planne kan natuurlik ook misluk. Jy kan nie altyd alles beheer nie. Wees dus voorbereid dat dinge kan skeefloop en moenie sommer moed verloor nie. Besluit vooraf hoe jy dit gaan hanteer as iets nie reg uitwerk nie. Uiteindelik gaan dit oor die kwaliteit lewe wat jy het en of jy vrede in jou hart het.

Doen een ding op ’n slag en fokus al jou aandag en tyd daarop, anders is jy met ’n horde klein goedjies tegelyk besig en kan jy nie eintlik wys wat jy al vermag het nie

As jy dit kon regkry om iets in jou lewe te verander, vier dit! Daardie gevoel van trots en bevrediging maak al die harde werk die moeite werd. Geniet dit en laat dit jou aanvuur vir die volgende rondte. Onthou, een ding op ’n slag!

Verwerk uit Reinvent Yourself deur Rebecca Webber.