Gee jou kind genoeg selfvertroue

0
668
kinders_selfvertroue.jpg

Vir kinders met selfvertroue is dit makliker om eendag hulle plek in die samelewing te kan volstaan.

As ma bekommer jy jou oor baie dinge. Bring ek genoeg tyd saam met my kinders deur? Leer ek my kinders goeie maniere en die regte waardes? Presteer my kind goed genoeg? Gaan hy eendag ’n goeie werk kry? Die lys is baie lank. Maar het jy al ooit gewonder of jou kind genoeg selfvertroue het om eendag sy man te kan staan in die grootmenswêreld? Genoeg selfvertroue hou immers baie voordele in.

In sy boek Gee jou kind selfvertroue verduidelik dr. Pieter van Jaarsveld dat kinders met ’n positiewe selfbeeld en genoeg selfvertroue goed in die skool aanpas en akademies beter presteer. Hulle is ook meer kreatief en in staat om dinge self te doen. Hulle maak makliker vriende omdat hulle ander mense aanvaar en ander húlle aanvaar. Om jou kind met genoeg selfvertroue groot te maak kan daarom help om baie van jou bekommernisse op daardie lysie dood te krap!

Hier is wat jy moet doen en nie moet doen nie:

Moet hom nie verkleineer nie, fokus op die positiewe

Moet nooit iets sê soos: “Dink jy ’n luiaard soos jy gaan eendag werk kry?” Niemand reageer goed op kritiek nie. Fokus eerder op die ontluikende volwassene in jou kind. Wat doen hy goed? Vertel hom daarvan. Kritiek is sinvol as jy vir hom sê wat hy verkeerd gedoen het, watter invloed dit op ander mense gehad het en wat hy miskien kón gedoen het. Maar wees versigtig om hom as persoon aan te val.

Gee hom sekere verantwoordelikhede sodat hy kan groei

Mense met ’n swak selfbeeld is dikwels in hulle dop gekruip en konsentreer net op hulleself. In plaas van om die kind oor homself te laat tob, probeer hom betrokke kry by die huishouding en huistakies. Die verantwoordelikheid in en om die huis gee aan hom die gevoel dat hy behoort, dat hy iets beteken. Dit verhoog sy gevoel van eiewaarde en laat hom kosbaar voel wanneer hy iets vir die ander gesinslede beteken.

Moenie die hele tyd raas nie, sien party foute oor

As hy gedurig hoor hoe ongehoorsaam, onbetroubaar en swak hy is, sal hy later aanvaar dit is wat mense van hom dink en ook só oor homself begin dink. Probeer om elke dag jou kind te laat voel dat hy ’n betekenisvolle en besonderse mens is. Kinders moet tereggewys word wanneer hulle verkeerd doen, maar ook geprys word vir dit wat hulle goed gedoen het en die uitwerking wat dit op ander mense gehad het.

Lees ook: Dinge wat jy nooit moet sê nie

Beplan saam aan sy toekoms, moenie vír hom kies nie

Moenie vir jou kind besluit watter beroep hy eendag moet volg nie. As jou kind se keuse van beroep jou nie aanstaan nie, maak dit nie daarvan ’n slegte keuse nie. Dit beteken ook nie jy moet opgee nie, net beheer oorgee aan jou kind wat nou ’n jong volwassene is. Hulle neem dalk besluite waarmee ons nie altyd saamstem nie, maar hulle het die reg om dit te doen, solank jy hom ook toelaat om die verantwoordelikheid vir sy keuses te aanvaar.

Moet hom nie probeer verander nie, gee aanvaarding

Om as kind aanvaar te word is baie belangrik vir die ontwikkeling van ’n positiewe selfbeeld. Respekteer jou kind as unieke mens met sy eie gevoelens, belangstellings en idees. Skenk aandag aan sy emosies en gedagtes. As jy moeite doen om na jou kind te luister as hy met jou praat, stuur jy dié boodskap uit: “Wat jy dink, is vir my belangrik omdat jý belangrik is.” Laat hom toe om homself te wees en fokus op sy sterk punte.

Wees lief vir hom en maak seker dat hy weet

Liefde is die grondslag vir ’n gesonde selfbeeld en selfvertroue. Soos kinders die onsekere weg na volwassenheid aanpak, benodig hulle baie liefde. Maak seker hy kry dié soort liefde daagliks. Wanneer jy dit vir jou kind wys en sê, gee jy hom die gevoel dat hy waarde en betekenis het. Maak ook seker hy weet jy het hom lief omdat hy jou kind is en dat jou liefde iets is wat nooit sal verander nie.

Dr. Van Jaarsveld sê die beste manier om vir jou kind selfvertroue te gee, is om selfvertroue te hê. Om geloof in jouself te hê. As jy nie self die vaardighede het nie, hoe kan jy dit aan jou kind oordra? Jý is jou kind se grootste verwysingsraamwerk! Laat staan al die bekommernisse, tree met selfvertroue op en help jou kind om aan ’n blink toekoms te bou.

Vertaal en verwerk uit ’n artikel van Anna Stewart.

Lees meer: “Perfekte” mammas bestaan nie. Jou sogenaamde “foute” staan dalk in jou pad om jou kind onvoorwaardelik lief te hê.