Gee jou kind se kosblik ’n makeover

0
611
kosblik_idees.jpg

’n Gesonde kosblik is presies wat jou kind nodig het vir ’n helder toekoms. Pak só die beste opsies in.

Koskeuses vir kosblikke

Die meeste ma’s is al raadop. Wat pak jy elke dag in jou kind se kosblik? Die bekende Marmite-broodjie maak gewoonlik meer as een keer ’n week sy verskyning in Sussie se kosblik. Soms is daar nie eers tyd om ’n toebroodjie te maak nie; dan stop jy haar sommer ’n paar rand in die hand om by die skoolsnoepie ’n draai te maak.

Kosblikke vir pouses is die ideale manier om jou kinders in die rigting van beter eetgewoontes te stuur. Verduidelik van jongs af vir hulle hoe die regte kos hulle die energie gee om die skooldag te voltooi en naskoolse aktiwiteite te geniet.

’n Gesonde kosblik bevat meer “kos” en minder brood. Voor jy na die brood gryp, pak byvoorbeeld eerder ’n gekookte eier, meer groente en vrugte of die vorige aand se oorskietvleis in.

In plaas van…

Oorweeg eerder…

Toebroodjieham

Koue repies hoender of kalkoen

Weense worsies en polonie

Frikkadelle of biltong

Wit brood

Volgraanbrood, deegdoilies (wraps) of rogkraakbeskuitjies

Aartappelskyfies

Ongegeurde springmielies

Vrugtekelkie in stroop

Vars vrugte of wortelstokkies, peul-ertjies of babamielies

Lekkergoed en koekies

Rosyne, vrugterol of -stafie, neute of jogurt

Vrugtesap en gaskoeldrank

Verdunde 100%-vrugtesap, melk of water

Gewilde kosblik-makeover

Lisa Prinsloo is ’n 11-jarige laerskoolleerling. Ons het gaan kyk na wat gewoonlik in haar kosblik is en voorstelle gemaak vir gesonder opsies.

Probeer altyd om ’n gebalanseerde kosblik in te pak met bestanddele uit al vyf voedselgroepe: proteïene (hoender, rooivleis of vis); suiwel (kaas, melk of jogurt); stysel (soos brood of springmielies); vrugte en groente; en vette (soos grondboontjiebotter).

Lisa se kosblik

Die gesonde opsie

Hoekom is dit beter?

Toebroodjieham met mayonnaise op wit brood

Fyn hoender met blaarslaai en mosterd op volgraanbrood

Minder sout en kilojoules en meer vesel

Aartappelskyfies

Wortelstokkies, bone en babamielies met tzatziki-sous

Minder vet en ’n paar groenteporsies vir die dag

Vrugtekelkie in stroop

Vars druiwe en pynappelskywe

Minder suiker en kilojoules; vrugteporsies vir die dag

Hardekoekie

Hawermoutkoekie

Minder vet en meer vesel

Pak só

’n Studie het bevind dat minder as ’n derde van ouers poog om kos wat verkoeling nodig het, verkoel te hou in kinders se kosblikke. Hou jou kind se kos veilig om te eet deur jogurt, kouevleis en ander bederfbare kossoorte koud te hou.

Laat jou kinders help om hulle kosblikke vir die volgende dag in te pak. Dink saam aan gesonde versnaperings en laat hulle soms toe om te kies wat op die volgende dag se spyskaart moet wees.

Gebruik koekiedrukkers om toebroodjies interessante vorms te gee en pak dit in gekleurde plastieksakkies. Moet ook nie vergeet van daardie lief-vir-jou-briefie wat jy nou en dan in die kosblik kan inglip nie. Pak sommer ook wipes in om jou kind daaraan te herinner om sy hande te was voor hy eet en na die tyd te sorg dat hy sy hande goed afvee.

Maak seker jy pak só in dat jou kind se kosblik elke middag leeg huis toe kom.

Bronne: www.superma.huisgenoot.com, www.lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com.