Gee jou kind selfvertroue

0
66
Hettie Brittz

Ouers wil hê hulle kinders moet eendag gelukkige en selfversekerde volwassenes wees. Daar is egter sekere moets en moenies vir ’n positiewe prentjie in die spieël.

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

lyn_3.png

GRATIS

365 wyshede uit die pen van Hettie Brittz.

KLIEK HIER om jou gratis Carpe Diem e-boek hier af.

lyn_3.png

Ouers wil hê hulle kinders moet eendag gelukkige en selfversekerde volwassenes wees. Daar is egter sekere moets en moenies vir ’n positiewe prentjie in die spieël.

’n Positiewe selfbeeld is een van die beste geskenke wat jy jou kind kan gee. Sy gesonde of verwronge beeld van homself gaan grootliks afhang van die invloed van primêre opvoeders, soos ouers, onderwysers en grootouers. Wees daarom spaarsamig met harde woorde.

Laat jou kind weet hy is een uit ʼn miljoen!

As ma moet jy ’n “besigheidsplan” hê waarvolgens jy jou kind lei en leer. Jy wil selfvertroue en ’n gesonde selfbeeld by jou kinders kweek, net soos in ’n besigheid.

Ouers dink dikwels ’n kind met ’n gesonde selfbeeld blink uit op alle terreine, en is slim, mooi en sterk. Eintlik is ’n goeie selfbeeld die vermoë om voor die spieël te staan en te kan sê: “Ek weet wie ek is, en verstaan myself. Ek hou van myself.”

Dis ’n baie lekker speletjie om van jongs af met jou kinders te speel om vir hulle te wys waar hulle in die gesin inpas. Dit laat hulle voel hulle behoort êrens en word gekoester. As jou kind oud genoeg is, wys vir hulle daardie prentjies van die miljoene spermselletjies wat swem en die enkele een wat ’n eierselletjie bevrug. Wys vir hom daardie voorste swemmertjie en sê: “Jy’s ’n wenner!” Ons almal is, want ons is ’n ieder en elk die sterkste swemmer uit ’n miljoen. Dis wie jy is.

[VIDEO] Hoe kry ek my kinders gemotiveer om die nodige daaglikse oefening te kry?

Almal het goeie én minder goeie eienskappe en dis reg

Dit gaan jou baie help om te weet wat jou kind se persoonlikheidstipe is, nie soseer om jou kind te tipeer nie, maar om hom met meer insig te behandel. Jy sal byvoorbeeld verstaan hoekom hy ’n laatslaper is, hoekom hy nie van mense in sy persoonlike ruimte hou nie, hoekom hy dit geniet om voor gehore te praat of dalk hoekom jou kind nie graag kanse waag nie.

Dit is baie belangrik om gereeld vir jou kind te sê: “Weet jy wat van jou geniet ek vreeslik? Jou skerp humorsin.” “Weet jy hoekom is dit so lekker om saam met jou winkels toe gaan? Jy is stil, en ek waardeer dit van jou.” Lig die sagte spieël op en vertel gereeld vir jou kind van al sy wonderlike kwaliteite. Maar maak seker jou lof is nooit net leë woorde nie. Wees spesifiek as jy hom prys. In plaas van om te sê: “Sjoe, jou tekening is fantasties!” Sê eerder: “Ek hou daarvan dat jy die hele gesin geteken het, tot die fyn detail soos Pappa se baard.”

Gee jou kinders keuses. Dit bemagtig hulle. Laat hulle kies tussen roereiers of hawermoutpap vir ontbyt. As hulle vandag leer om eenvoudige keuses te maak, berei dit hulle voor vir die moeilike keuses van eendag.

Jou kind moet weet niemand is perfek nie. En niemand verwag dit nie. Hoe jy reageer wanneer hy misluk, gaan sy beeld van homself beïnvloed. Moet ook nooit jou kinders met mekaar vergelyk nie. Waardeer elkeen se individualiteit en spesiale gawes.

Pasop vir die woordjie “hoekom”

As jy gedurig vir hom sê: “Hoekom is jy so stadig? Hoekom word jy so vinnig moeg? Hoekom kan jy nie laat wakker bly nie?” of “Hoekom kan jy nie vroeg opstaan nie?” laat die woordjie “hoekom” jou kind dink daar is fout met hom.

Wanneer jy vir iemand vra: “Hoekom het jy jou hare gesny?” dink hulle dadelik hulle moes dit seker nie gedoen het nie. Die afleiding is dadelik dat die kind moet verander. Moenie jou kind se foute miskyk nie, maar sê somtyds in soveel woorde daar is niks aan hom wat jy sal verander nie, want hy is presies wie hy moet wees.

Wanneer ’n ma nie van haarself hou of haarself nie verstaan nie, stel dit eintlik ’n swak voorbeeld vir die kinders. Een waar jy ontevrede is met jouself. Die mooiste vrou is iemand wat so tevrede is met haarself dat sy uiteindelik van haarself kan vergeet, en daarop kan fokus om dit wat goed en mooi in ander is, na vore te bring.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Oulike Ma verstaan jou en bevat al die wenke wat jy nodig het om die ma te wees wat jy wil wees. Hierdie eerlike boek praat in 100 stukke reguit met jou hart én verstand. Om jou as ma al hoe ouliker te maak, is daar ware verhale van gewone én buitengewone vroue, en die praktiese advies van kenners en deskundiges wat ouerskap ken.

Kliek HIER om die aanlyn te koop op www.voelgoedwinkel.co.za

lyn_3.png