GEE TERUG

Soos in menige middestad vandag die geval is, moet ‘n mens maar lig loop vir ongewenste elemente.

Vergete is die dae toe ek en my meisie (vandag my vrou) as jong verliefde paartjie in die vroeë 90’s gereeld Saterdae aande in die middestad gaan “window shopping” doen het. Daarna sou ons doodluiters oor die stadsplein stap en gaan fliek of uiteet het.

Sommige regeringskantore is egter in die middestad geleë wat ‘n besoek aan dié deel van die stad nodig maak. Om parkering naby dié geboue te vind kan soms uitdagend wees, derhalwe parkeer ek maar twee blokke verder en lê die afstand te voet af. Ek stap flink en loer so gereeld moontlik na links en regs, dan weer half oor my skouer net om seker te maak dat niemand my volg en my as sy volgende teiken in gedagte het nie.   

Hoe langer ek stap, hoe geruster raak ek. Dis mos altyd ander mense wat deur misdaad getref word. Dan stamp iemand per ongeluk aan my, laat val sy sleutels en bied dadelik verskoning aan. ‘n Vriendelike kêrel, netjies geklee en ‘n sagte uitdrukking op sy gesig. Hy begin sommer ‘n geselsie aanknoop en verduidelik hoe ons as Suid-Afrikaners ‘n lang pad van verdraagsaamheid gestap het sodat ons nie vandag nodig het om in ‘n onderonsie betrokke te raak bloot omdat ons mekaar per abuis gestamp het nie.   

Dan gee hy ‘n grafiese verduideliking hoe hy in die “ou dae” hardhandig behandel sou word. Met sy een hand het hy my toe effens aan my broek se belt beet terwyl hy met die ander hand ‘n denkbeeldige opstopper gee. Met dié dat hy my los, vermoed ek dadelik onraad. ‘n Vinnige voel-voel aan my broeksakke bevestig my vermoede en ek vind dat my selfoon weg is.  

Sommer dadelik sluit die man se vriend uit die bloute by hom aan en toe weet ek, ek is die slagoffer van ‘n roof.  Net daar besluit ek dat ek my staan gaan staan – hierdie skelms gaan nie sommer so wegkom nie. Met die nodige outoriteit gee ek hulle toe opdrag om my selfoon terug te gee. Hulle staar egter met gesigslose uitdrukkings daar en maak asof hulle nie weet waarvan ek praat nie. Ek gee weer dieselfde opdrag: “Gee terug my selfoon wat julle so pas van my gesteel het”. Geen reaksie volg nie. Ek kyk die manne weer in die oë en herhaal my versoek.  

Die vriend wat opgedaag het haal toe doodluiters my selfoon uit sy broek se agterste sak en oorhandig my selfoon aan my.  

Die volgende dag moes ek hoor dat daardie einste skelms met dieselfde slenter twee selfone van ‘n kollega gesteel het.

Die voorval het my egter tot die besef gebring dat ons in ons geestelike wandel ook soms té gerus met die vyand raak. Ons kyk uit vir die groot gevare, maar dan kom paai hy ons met mooi praatjies en alles lyk so onskadelik. ‘n Fluister in die oor dat ons maar iets verkeerd kan doen want dit is nie regtig so ‘n “big deal” nie, of dat ons iemand nie hoef te vergewe of lief te hê nie want daardie persoon verdien dit nie, of dat ons soms maar die reëls so effens kan buig want “almal doen dit mos”. 

Min wetende dat daardie einste “klein” dingetjie die vermoë het om ons vreugde te steel, ons verhoudings te vertroebel, ons in die moeilikheid by die werk te bring,

Johannes 10:10 lees dat die vyand daarop uit is om ons te beroof, dood te maak en uit te roei. Niks van sy planne is daarop gemik om ons tot voordeel te strek nie, al wil hy dit soms so laat klink. Hy is agter my siel aan en sal enige onderduimse taktiek gebruik om sy doel te bereik.

1 Pet 5:8-9 gee die opdrag dat ek nugter en wakker moet wees. Dat ek standvastig in die geloof moet bly en die vyand moet teëstaan.

Ek moet weet wie my Vader is en dat ek outoriteit het om die vyand teë te staan en te verjaag en dat ek nie deur hom geboeilie hoef te word nie.