Gee versoekings ’n vuishou … met die Woord!

0
28
geloof_vuishou.png

Gedink jy is veilig? Dink weer! Ons grootste vyand val graag die sterkste gelowiges aan waar hulle die swakste is. Gelukkig kan jy hom op sy plek sit – deur elke dag een belangrike ding te doen.

Jy kan jou maar regmaak daarvoor dat jy ’n teiken sal wees. Hoe sterker gelowige, hoe groter teiken is jy. Hoekom sal die vyand hom nou aan jou steur as jy op die draad sit en nie eintlik ’n doel het nie? Maar jy moet “baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor jou kom”. Want dis ’n teken dat die duiwel jou raaksien omdat jy goeddoen.

Jy moet elke dag baie toetse slaag

Daar is ontelbare versoekings wat daagliks na ons kant toe kom – baiekeer ongemerk, soos klein dingetjies wat ons verlei om verkeerd te kies. Die duiwel kom nie oop en bloot na jou toe met ’n bord waarop daar in rooi letters staan: Verloën God vandag nie. Nee, jy het elke keer ’n keuse om net so ’n klein bietjie minder gehoorsaam te wees, of net so effens weg te beweeg van wat reg is. Nie so dat jy dit nou eintlik sal agterkom nie …

Surita het meestal die reguit pad geloop, maar soms het sy ’n klein bietjie “gekul”. Wanneer sy op ’n Sondagmôre te moeg was om op te staan vir kerk, het sy toegegee aan die versoeking om laat te slaap en “net die een keer” die diens mis te geloop. Soms is sy verlei deur ’n mooi paar skoene of rok en het dít dan eerder gekoop as om haar tiende te gee. Sy het haar deel gedoen by kerkfunksies, maar af en toe wou sy nie aanbied om te help nie, omdat sy eerder iets anders in daardie tyd wou doen. Ander oggende het sy gedink dat sy maar die stiltetyd kon oorslaan en môre ’n ekstra stukkie kan lees, omdat vandag so ’n besige dag gaan wees.

Eendag het sy gehoor hoe ’n dominee oor Ragel praat. Sy was die prostituut wat die verkenners gesmeek het om haar lewe te spaar wanneer hulle die stad inneem. Die eerste ding wat die verkenners haar gevra het om te doen, was om ’n bloedrooi tou aan haar venster vas te bind en te laat uithang. Surita se predikant het gesê dat ons onsself ook so aan Hom moet vasbind. Ons moet enige versoeking weerstaan wat kan veroorsaak dat ons minder toegewy of minder gehoorsaam aan Hom sal wees.

[pagebreak]

Die tweede ding wat Ragel moes doen terwyl die verkenners die stad inneem, was om in haar huis te bly. Dit beteken ons moet bly op die plek waar ons geestelike beskerming het – in Sy beloftes. Al die beloftes kry ons natuurlik in die Woord. Die beste manier om “in die huis te bly” is om elke dag ’n paar verse te lees, daaroor te dink en dit deel van jou lewe te maak.

Surita het besef dat wanneer sy aan klein, skynbaar onbenullige versoekings toegegee het, sy besig was om die tou wat aan haar gebind was, te probeer losmaak. Sy het ook agtergekom dat sy nie altyd “in die huis” gebly het nie, maar soms eerder ’n bietjie buite wou gaan “speel” – ’n baie gevaarlike speletjie!

Die Skrif het raad vir al jou probleme

Surita wou graag weer begin om stiltetyd meer gereeld te hou, maar die lewe is so ’n tydvraat, sy kon net nie by alles uitkom nie. Haar beroep, gesondheid en gesin het alles ure gevat om in stand te hou.

Maar selfs al is jy hóé besig, móét jy tyd afstaan om te sorg dat die belangrikste deel van jou bestaan op koers bly. Hoe anders sal jy weet wat daar vir jou gesê word?

“Daar is soveel boodskappe wat ons leer dat die Woord die kern van ons geestelike groei en ons groei in ons verhouding met Jesus is,” sê Andries Enslin, aanbieder van Die Woord op kykNET. Daarom glo hy dat elkeen van ons elke dag iets uit daaruit moet lees sodat jy kan hoor hoe daar keer op keer genade en liefde aan jou beloof word. Dan sal jy volgende keer nie eers wil opkyk as daar ’n wortel voor jou neus gehou word nie.

Oor versoekings gee die Bybel baie raad. Na aanleiding van ’n gedeelte uit Spreuke sê Andries dat die duiwel met baie subtiele groepsdruk na jou en my toe kom. Jou sogenaamde vriende kan dinge sê soos: Kom ons bedink ’n scheme wat baie geld kan maak, kom ons gaan hou ’n lekker partytjie, kom ons drink nog ’n drankie, dan voel ons beter oor ons eie lewens. Maar na die tyd, as die planne boemerang, is die vriende skoonveld.

Salomo waarsku dat ek en jy grense moet kan stel in ons lewens, sonder om skaam te wees daaroor. Jy hoef nie na ander te luister of toe te laat dat hulle jou ompraat nie. Dis nie nodig dat jy deur groepsdruk saamgesleep word nie. Laat staan die verhoudings wat vir jou hartseer bring. Jy sal dalk vir ’n paar naweke niemand hê om by te kuier nie, jy sal dalk minder boodskappe op Facebook hê, maar op die ou end sal jy nuwe, beter verhoudings bykry.

[pagebreak]

Hoe sal ons dan weet of iets onskuldige pret of sonde is? Paulus gee vir ons ’n maklike manier om dit vas te stel. Ons kan só daaraan dink: Is hierdie ding wat ek wil doen, wys of is dit dwaas? As jy daardie een drankie te veel drink, is jy mos dwaas! As jy jou vriendin agter haar rug beskinder, is jy dwaas. Want wat as sy uitvind? Dan is julle vriendskap daarmee heen en het jy haar baie seergemaak. Is dit wys of dwaas om jou kinders toe te laat om na enige programme op TV te kyk? Toets alles wat jy wil doen op hierdie manier en jy sal sien dat dit eintlik maklik is om verstandig te wees.

Daar is seker nie een van ons wat nie graag meer wysheid wil hê nie, wat graag wil weet hoe om in enige situasie op te tree. Salomo gee vir ons baie goeie riglyne hieroor, ons moet dit net gaan lees en toepas. As ek en jy met wysheid en dissipline in elke situasie kan optree, sal ons baie minder seerkry en ander mense minder seermaak. Wanneer jy ’n begeerte het om die reguit pad te loop en jou Bybel elke dag soos ’n padkaart gebruik, kan jy maar weet dat die duiwel geen houvas op jou sal hê nie. Al struikel jy nou en dan, sal jy altyd weet hoe om weer die tou van Waarheid stywer vas te bind.

Paulus sê in die boek Galasiërs: Dit wat jy saai, sal jy maai. As jy in die Gees leef en in die Gees saai, sal jy ’n goeie lewe geniet. Dis nie altyd maklik nie, dit verg dissipline om in die Woord te bly. Maar jy moenie moeg word nie, want jy sal wel later die vrugte pluk.

Is dit dan regtig verkeerd om af en toe ’n bietjie te kul? Jy doen mos meestal die regte ding! Ja, dit is. Nie omdat jy bang is vir straf nie, maar omdat jy jou Vader so baie liefhet en jy Hom nie wil hartseer maak nie. Dis soos met jou aardse pa: Kan jy die kere onthou wat jy jou ouers teleurgestel het? Die seer wat jy in jou pa se oë kon sien? Wanneer jy verkeerd gedoen het en so verskriklik spyt is, is dit asof jou hart inmekaarkrimp oor die pyn wat jy veroorsaak het.

[pagebreak]

Paulus het maar te goed geweet ons het ’n vyand wat ons wil keer om reg te leef. Iemand wat ons wil verhinder om goeie vrugte te dra. Wat ons wil verhinder om in vrede en eensgesindheid te leef. Daarom raai hy ons aan om die wapenrusting aan te trek om ons teen aanvalle te beskerm. Want die stryd is nie teen vlees en bloed nie. Maak sommer vandag ’n tou ook deel van jou wapens!

Só kan jy ’n “gesonde” lewe lei

Om gesond te bly, moet jy kyk na wat jy eet en ook gereeld oefen. As jy dit doen, sal dit goed gaan met jou gesondheid. Hoekom sou dit dan anders wees met jou geestelike lewe? Om geestelik fiks te wees, moet jy jou Bybel elke dag lees. Jy moet gereeld bid en vra vir hulp en om jou teen versoekings en sonde te beskerm. Op so ’n manier gee jy die duiwel minder slaankrag! Al die dinge wat jou dan probeer onderkry, gaan dan nie so maklik gebeur nie.

Om ’n gesonde lewe te lei, moet jy jou krag ui die boodskap kry. Jou tekortkominge en foute word hier uitgewys, nie om jou te verdoem nie, maar sodat jy jou gewoontes, houdings en reaksies op die lewe kan verander. Net daarin sal jy antwoorde op al jou probleme en rigting vir die toekoms kry. Jy sal agterkom wat Sy begeerte vir jou lewe is. Vervang dus elke dag die lewe se leuens met die Waarheid en “bly in die huis”.

Lees die Woord, dink oor wat dit vir jou wil sê en reageer dan daarop. Dan sal jy geestelik gesond en topfiks kan wees!

Artikel saamgestel en verwerk uit Die Woord elke dag, gee die duiwel minder krag.

Die Woord elke dag, gee die duiwel minder krag deur Andries Enslin, kan joune ook wees! Kry dit nou by www.voelgoedwinkel.co.za, en gee die duiwel ’n uitklophou!