Gee

Ek kan nie help om vandag net opnuut op die lewe verlief te wees nie.

Ek maak my menswees vol met dit wat my inspireer sodat ek die vreugde wat dit my gee kan deel met ander. Ek vind sin in my bestaan as ek uitgee en uitgiet vanuit elke kamer van my hart. Elke kamer is gevul met iets wat vir my kosbaar is. Woorde, blomme, sterre en sommer net die klank van stilte.

Dit is daardie stilte wat my terugroep na ‘n lewe na buite. ‘n Lewe van onselfsugtige dade en kinderlike entoesiasme oor die klein goedjies. In stilte besef ek die waarde van introspeksie en ek maak my hart en hande oop.Wanneer ek gee, besef ek ook opnuut dat ek ‘n stem binne my dra wat kan inspreek in my donker tye. My ore gaan oop vir my ware identiteit en roeping. Ek antwoord dan daarop met die kinderlike entoesiasme wat in my hart leef. Die deure van elke hartskamer gaan oop en die waardering wat deur ander se oë skyn word my vreugde.

Die grootste geskenk is nie aan ander nie maar eerder aan myself as ek weet ek het ‘n verskil gemaak. Dit wat ek gee is dalk baie nodige asem aan ander.

Mag jy gee met ‘n oop hart en sonder verwagting. Mag jy deur onselfsugtige dade ‘n afwagting in ander kweek. ‘n Hoop dat die oggendson hulle met ‘n glimlag sal groet. Lig sal deur jou duisternis breek as jy uitreik. Dit is elke stukkie opoffering werd want dit vul jou en ander met soveel meer van die mooi wat die lewe bied.

Mense is honger vir dit wat in jou hart en hande lê. Versadig hulle menswees sodat hulle ook kan gee en sodat die oggendson ook vir hulle ‘n nuwe dag kan aankondig.