#geemyjouskoene

Dit is geen dreigement nie. Eerder ‘n versigtig-waarvoor-jy-vra uitnodiging.

Want jou skoene mag dalk vir my op paadjies laat loop waar ek myself nooit willens en wetens sou wou begewe nie.

Sommige van daai paadjies het mos ‘n manier om teerpad-status in jou brein te kry. Nie Ladybrand-teerpad nie (die wat daar bly sal weet), maar ordentlike, goed onderhoude,

N1-Kaap-toe-status teerpaaie. Want sien, die ding word gebruik en onderhou. En gereis en bereis en soms onwettig geloop. Too much.

Daar was ‘n tyd toe ek gedroom het oor psigo-hipnotisme wat ‘n gedeelte van my geheue kon uitwis. Tjoef-tjaf. In met ‘n swart kol wat dreig om jou te verteer elke keer as jou gedagtepaadjies te naby aan sy hok kom, en uit met ‘n nuut geplaveide parkeervlak vir al die toekomstige mooi oomblikke wat sou kom om te bly.

“Hoekom sou die Here nie ons slegte herinneringe saam met ons sondes in die diepste see gooi nie?”, wonder ek. En my lysie oor wat om ons liewe Vader eendag in die hemel te vra, raak alweer langer.

Hierdie dilemma kan uit meer as een hoek beskou word. Hang net af aan watter kant van die skaal jy inklim.

Aan die een kant wag die vyand om jou om elke hoek-en-draai met jou ou gedagtes en herinneringe van jou ou lewe te martel en jou hart is swart en jy kies om daar te bly.

Aan die ander kant, wag ‘n hele wêreld om te hoor van ‘n God wat dinge kan omdraai en verander en dit is ‘n spierwitte lig aan die einde van die donker tonnel en jy hardloop oopbek en uitasem soontoe.

Ek skat die vraag is: waar kies jy om in te klim?

Psalm 40 het my kom leer dat dit okay is om te onthou. Maar dat dit nie by onthou kan bly nie. Dat ek eintlik nie die goedheid wat uit my swakheid gekom het, vir myself kan hou nie.

“Ek het gesmag na die hulp van die Here.
Hy het na my toe afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,
uit die slymerige modder,
my op ‘n rots laat staan
en my weer op vaste grond laat loop.
Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê,
‘n loflied vir ons God.
Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,
hulle sal op die Here vertrou!”

En dan, bietjie verder:

“Met blydskap het ek aan die gemeente vertel
U het my verlos.
Ek het nie stilgebly nie,
Here, U weet dit!
Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie,
ek het gepraat oor U trou en U hulp.
Oor U goedheid en U trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.”

Ómdat ek onthou, skuld ek dit dan vir ander mense om hulle die voordeel van die twyfel te gee.

Barnabas is so ‘n voorbeeld hiervan. Barnabas is eintlik die eerste persoon wat na Paulus se bekering ‘n pad saam met hom stap. Hy is bereid om die verandering raak te sien en dit ‘n hoër status te gee as die vrees wat die óú Saulus oral rondom hom ingeboender het.

“Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almaI was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ‘n gelowige is nie. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.”
Handelinge 9:26 NLV

Maar, ai Paulus. Jy vergeet toe ook maar. Van die guns wat na jou kant toe gekom het. Want toe Johannes (ook genoem Markus) droogmaak – soos ons almal soms mos maar doen – toe weier jy om hom die voordeel van die twyfel te gee.

“Na ‘n paar dae sê Paulus vir Barnabas: “Kom ons gaan terug na al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het en kyk hoe dit gaan met ons medegelowiges.” Barnabas wou vir Johannes (sy noemnaam is Markus) saamvat.
Paulus het egter gedink dit is nie reg om die man saam te vat wat hulle in Pamfilië in die steek gelaat het en nie aan hulle verdere bediening deel gehad het nie.
Daar het toe kwade gevoelens tussen hulle ontstaan,
en hulle het elkeen sy eie koers gegaan. Barnabas het vir Markus gevat en Siprus toe gevaar.
Paulus het Silas gekies en hy het vertrek…”
Hand 15:36-41 NLV

(Sekere kommentators meen dat hierdie einste Markus, die skrywer kon wees van die Evangelie van Markus wat vandag deel van ons Nuwe Testament uitmaak…)

My man vertel altyd hoe sy ouma hulle klomp besige boeties gewaarsku het: “Ek vries my beursie vir julle!” Paulus was vinnig om sy hart vir Markus te vries.

Dalk omdat hy vergeet het hoe iemand op ‘n keer vir hóm die voordeel van die twyfel gegee het.

Gee my jou skoene. Ek belowe om dit met groot respek te hanteer en dit nie êrens langs die pad vir iemand anders te wys nie. Want dit is jou skoene, dis jou storie. Maar vertel moet dit vertel word.

“Tell the story
of the mountain
you climbed.
Your words
could become a page
in someone else’s
survival guide.”
Megan Harper Nichols

Jy verdien die voordeel van die twyfel. Net jy ken die kronkels van jou pad.

 

Vorige artikelDie ysterpot
Volgende artikelOok maar mens…
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!