Geen versoeking is te groot nie!

0
10
versoeking.jpg

Kos is nie jou baas nie. God sal vir jou die selfbeheersing gee om enige versoeking te weerstaan.

Kan jy nee sê vir versoekings?

Baie van ons dink ons kan nie, en pak dan die skuld op die feit dat ons geen selfbeheersing of wilskrag het nie. Diep binne-in jou glo jy dat ’n gesonde liggaam harde werk is en te veel opofferings van jou vra, en dat jy dit nooit sal kan volhou nie. En voordat jy nog met ’n dieet of gesonde eetplan begin het, misluk jy al klaar, want jy glo nie jy is sterk genoeg om nee te sê vir al die versoekings nie.

Maar weet jy hoe sterk jy werklik is? Het jy geweet jy is eintlik ’n superheldin vir wie niks onmoontlik is nie? In Filippense 4:13 staan daar dat jy tot alles in staat is deur Hom wat jou krag gee. Dit beteken daar is niks wat sterk genoeg is om jou onder te kry nie. Geen versoeking is so groot dat jy dit nie kan weerstaan nie.

Jy kán nee sê.

Wanneer jy eerlik is met jouself en terugdink aan die kere toe jy voor versoekings geswig het, onthou jy seker dat daar ’n oomblik was, net voor jy die verkeerde keuse gemaak het, wat jy wel kon nee sê. Dis in daardie oomblik wat jy die Here kan vra om jou te help. Net voor jy die snytjie sjokoladekoek wil verorber, wees eerlik met die Here en sê vir Hom hoe graag jy dit wil eet. Vra Hom vir selfbeheersing en besef ook dat lekkernye nie jou baas is nie, maar dat God alleen oor jou heers. Sodra jy besef dat jy kan kies wat jy wil eet en wat nie, word jy kos se baas en sal die woord nee nooit weer vir jou ’n probleem wees nie.

Moenie dat versoekings jou langer onderkry nie. Sit hulle op hul plek met God se hulp.

Liesel Krause-Wiid