Geheime (selfs onskuldiges) verbrokkel huwelike

0
26
geheime.jpg

Jy hoor by ’n vriendin se vriendin se man dat jou man ’n gróót bonus gekry het. Jy is egter in die duister daaroor. Hoe gemaak wanneer jou maat ’n eenkantlewe leef en dinge geheimhou?

Ek dink dis redelik logies dat geselsies van ’n persoonlike, intieme of seksuele aard met mense buite jou huwelik jou verbond kan bedreig. Daar is egter geheime wat op die oog af heel onskuldig lyk, maar steeds die vermoë het om ’n wig in jou huwelikseenheid te dryf.

Menige sulke geheime het te make met finansies of die plekke en mense saam met wie mense uithang. Ek was al dikwels stomgeslaan oor paartjies waar die een nie weet wat die ander een verdien nie, of waar die een party nie vir die ander een vertel van ’n bonus wat hulle by die werk gekry het nie. Die rede wat hulle dan as verskoning gebruik, is dat hulle geldsake privaat is.

Het ek nie reeds iets gesê oor die hele kwessie van mense wat getroud wil wees en volle verbond wil ervaar, maar steeds ’n eenkantlewe ook wil behou nie? Geheime kan nooit deel van verbond uitmaak nie. Ek het ook al op ’n bekende talk show gehoor hoe vroue aangeraai word om vir hulleself van dag een af in die huwelik ’n eie neseier te skep – sonder die medewete van die man. Die regverdiging hiervoor? Vroue moet blykbaar voorbereid wees indien hulle onverwags vir ’n egskeiding gedagvaar word.

Volgens die bekende aanbieder van die talk show, is daar te veel vroue wat finansieel ondergaan wanneer hulle skei, terwyl die mans blykbaar altyd goed anderkant uitstap. As jy een van die vroue is wat reken dit is goeie raad, moet jy besef dat jy jou huwelik heel waarskynlik met ’n agterdeurmentaliteit gaan bedryf. Jou hele houding kan met tyd daarvan begin spreek dat jy jou man nie nodig het nie, en dat jy dit of dat nie van hom sal duld nie – jy het mos ’n neseier, of hoe?

Gits, die moontlikhede van leuens en geheime is legio. Party vroue jok oor waar hulle was – al was hulle saam met ’n vriendin. Baie mans, aan die ander kant, vertel nie vir hulle vroue dat hulle eintlik saam met ’n pel ’n bier gaan drink het, of by die werk gebly het om saam met kollegas ietsie te drink nie, en vertel dan eerder dat hulle bloot laat moes werk.

[pagebreak]

Wanneer vriende ’n wig tussen huweliksmaats indryf, moet die vriendskap uit die aard van die saak heroorweeg word. Is die vriende die werklike probleem of is daar iets dieperliggends in die maat wat liefs nie moet weet van die kuier nie? As die kern van die probleem iets soos jaloesie of besitlikheid is, sal geen vriendskapsverhouding buite die huwelik ooit reg of goed genoeg wees nie.

Jaloesie mag nooit gesien word as ’n verdraaide vorm van liefde nie. Hoewel God sê Hy is ’n jaloerse God, gee Hy steeds vir sy kinders die vryheid om self te kies. Hy’t die mens immers gemaak om te heers en nie om óórheers te word nie. Jesus self sê Hy sal oopmaak as ons klop – nié dat Hy die deur gaan afskop as ons nie wil oopmaak nie. As nie eers God ons keuses wil beheer met iets wat ons menswees verteer nie, hoe durf ons mekaar probeer beheer met jaloesie wat ons probeer regverdig as liefde?

As ons egter ontmoetings en ’n gekuier saam met vriende wegsteek van ons maats omdat ons weet dat die spesifieke vriende nie ’n goeie invloed op ons het volgens ons maats nie, moet ons weet dat hierdie geheim ons net verder van mekaar af sal dryf. Natuurlik sal die moeilikste ding op aarde wees om te erken dat die vriende wel jou menswees negatief beïnvloed – ons keuses bring ons mos maar in die moeilikheid, maar ons trots hou ons daar. Is jy die onwillige een wat sekere vriende nie wil opsê ter wille van jou huwelik nie? Vra jouself dan gerus: Gaan daardie vriende die stukkies van jou huwelik optel as jou maat die dag besluit om die huwelik te verlaat? Maak die regte keuse terwyl jy nog kan.

Jaloesie mag nooit gesien word as ’n verdraaide vorm van liefde nie. Hoewel God sê Hy is ’n jaloerse God, gee Hy steeds vir sy kinders die vryheid om self te kies.

Ander mense jok weer oor die werklike koste van iets wat hulle gekoop het, of gee vir iemand ’n geskenk sonder dat hulle maats een daarvan weet – bloot omdat die ander party nie hou van die beginsel om geskenke vir mense op hulle verjaarsdae te gee nie. Wanneer daar ’n slegte verhouding tussen een maat en dié se skoonouers is, jok die ander party sommer maklik oor tyd wat hulle spandeer het met die ouers, oor die detail van hulle gesprekke of finansiële steun wat hulle aan die ouers gegee het. En wanneer enige van die dinge uitkom, is die vinnige teenantwoord dat hulle nie gelieg het nie – hulle is nooit gevra wat dit kos, waar hulle was, saam met wie hulle gekuier het, of wat tussen skoonma en dogter gesê is nie.

[pagebreak]

Al hierdie dinge lyk op die oog af heel onskuldig, maar bly in wese steeds ’n leuen. En as die satan met die geringste dingetjie ’n leuen in jou huwelik ingebring het, sal hy sy vet poot net verder inwurm om uiteindelik ’n gemors te veroorsaak. Wees eerder eerlik met jouself oor die rede waarom jy sekere dinge geheim hou. Verskillende vrese dryf mense tot geheimhouding in hulle huwelike:

  • ’n Vrees dat jou swakhede aan die lig sal kom en jou maat jou as ’n mislukking sal beskou.
  • ’n Vrees dat dat jy nie goed genoeg gaan wees in die oë van jou maat nie.
  • ’n Vrees dat jou maat jou sal wil beheer en vir jou voorskryf.
  • ’n Vrees dat jy in elk geval nooit ’n eerlike pad sal kan stap nie, en daarom nie eers probeer nie.
  • ’n Wanpersepsie en vrees dat jy die enigste een in jou huwelik is wat sekere swakhede het.
  • ’n Vrees dat jou lewe minder vreugde sal hê sonder die dinge wat jy geheim hou.
  • ’n Vrees dat jou maat jou nooit sal vergewe nie.
  • ’n Vrees dat jou maat jou nie in die toekoms weer sal vertrou nie.
     

Wat ookal die leuen is wat jy in jou binneste ronddra, of hoe groot die geheim ookal is rondom die dinge wat jy steeds aanvang – God se genade is vir jou genoeg. Maak jou geheim eerstens ’n gebedsaak en bely jou leuen of geheim voor God. As jy eers geestelik skoon staan voor God, sal Hy die res van die pad vir jou wys. As die Seun ons vrygemaak het, kan ons werklik vry wees voor God, sê Joh. 8:36. En as die geestelike las van ons skouers af is, kry ons skielik krag en die bereidheid om ook skoon te kom voor ons maats. God sal nooit een maat vrymaak ten koste van ’n ander nie. Begin dus met ’n eerlike gesprek met God. Hy sal jou nie halfpad los om deur die leeu opgeëet te word nie. Die satan loop miskien rond soos ’n brullende leeu, maar Jesus is die Leeu van Juda!

Maak jou geheim eerstens ’n gebedsaak en bely jou leuen of geheim voor God. As jy eers geestelik skoon staan voor God, sal Hy die res van die pad vir jou wys.