Geheime vir gesonde hare

0
1170

Sit jy met jou hande in die hare oor die toutjies op jou kop? Bepaal die oorsaak om ’n voorskrif vir ’n gesonde haardos te kry.

Sonlig laat hare droog en verbleik lyk

’n Elegante breërandhoed is nie net nodig om jou vel teen die son te beskerm nie, maar dit voorkom ook dat die son jou hare uitdroog en die kleur verbleik.

“Die kombinasie van direkte sonlig, hitte en wind veroorsaak dat die hare se beskermende lagie, die skubbetjies wat elke haarskag omring, oopgaan,” sê die skoonheidskenner Hannon. Gevolglik verdamp waardevolle vog uit die hare. “Die melanien (kleur) van die hare is dan ook ontbloot, wat jou haarkleur sal laat verbleik.”

Gebruik ’n opknapper wat nie uitgewas hoef te word nie as jy die dag baie tyd buite gaan deurbring.

Hitte van haardroërs beskadig hare permanent

“Die direkte hitte van haardroërs en haartange, sonder enige beskerming vir die hare, brand hierdie lagie heeltemal weg,” sê Hannon. “Die hare is dan permanent beskadig. Sonder hierdie beskermingslagie kan die hare nie vog absorbeer nie en gevolglik sal dit grof voel.”

Die hitte van haardroërs droog jou hare uit en laat dit makliker breek. Laat jou hare eerder natuurlik droog word en gebruik ’n stileringsroom of -mousse om dit tekstuur te gee.

Wanneer jy hitte moet gebruik, wend eers ’n produk soos TRESemmé se Heat Defence Styling Spray Protect (R27,15 by Clicks) aan, wat die hare teen die hitte beskerm.

Hormone kan jou hare uitdun

Haarverlies kan te wyte wees aan ’n wanbalans van skildklierhormone, soos wanneer die skildklier oor- of onderaktief is, asook siekte, sekere medikasies en hormonale veranderinge ná ’n geboorte. Spreek ’n dokter as jy ook ander simptome, soos moegheid en gewigstoename, ondervind.

As jy die geen by jou ouers geërf het wat testosteroon in dehidrotestosteroon (DHT) omsit – vroue se liggame het ook ’n bietjie testosteroon – kan dit haarverlies veroorsaak wanneer vroue die menopouse bereik.

Gebruik sulfaatvrye sjampoe vir haarverlies en fokus eerder op die kopvel as die hare self wanneer jy dit invryf. Opknapper sal ook verhoed dat jou hare breek.

Stres laat hare in bosse uitval

Oormatige stres veroorsaak dat jou liggaam te veel adrenalien vervaardig, wat indirek ’n oorsaak van haarverlies kan wees.

Stres ontwrig die hare se natuurlike groei- en uitvalproses. Dis normaal om tussen 50 en 100 hare ’n dag te verloor, maar stres laat tien keer meer uitval.

Daar verloop gewoonlik ’n tydperk tussen ’n stresvolle gebeurtenis, soos ’n operasie of geliefde se dood, en haarverlies. Die hare kan sowat drie maande later in groot hoeveelhede begin uitval, sommer terwyl jy dit borsel of was.

Die haarverlies hoef egter nie permanent te wees nie. Indien die stres onder beheer gebring word, kan die hare moontlik weer uitgroei.

Te min proteïene beteken dun hare

Proteïene is die boustene van hare. As jy nie genoeg daarvan inkry nie, kan jou hare se groei stilstaan, wat dun, yl hare beteken. Griekse jogurt is nie net ‘n goeie bron van proteïene nie, maar bevat ook vitamien B5, wat die bloedvloei na jou kopvel verbeter, hare help groei en haarverlies kan teenwerk.

Te min yster kan ook tot haarverlies lei. Eet genoeg rooivleis, veral lewer is ’n goeie bron. Eet ook vetterige vis soos salm en sardyne. Dis propvol gesonde omega 3-vetsure, wat nodig is om hare te laat groei en dit dik en blink te hou.