Geld is nie alles nie!

0
29

My kind, Ek moet jou enigste skuilplek wees, jou enigste ware sekuriteit.

Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.
Spreuke 17:1

Ek hoor nou die dag hoe een van My dogters kla: “Terwyl ek en my man nog gestudeer het, was hy baie na aan die Here en het hy my goed behandel, maar vandat hy ’n suksesvolle sakeman is en ’n groot salaris verdien, behandel hy my sleg en sê ek is dom. Dit lyk of hy nou Mammon en nie God meer dien nie.”

Dit bedroef My dat haar man se hart so verhard en verander het en na soveel sukses. Dit is hartseer dat geldgierigheid hulle verhouding vernietig het en dat hy sy beginsels daarvoor prysgegee het. Billy Graham het mos gesê as jy rykdom verloor, is niks verlore nie, maar as jy jou karakter verloor, is alles verlore.

Geldgierige mense kom gewoonlik te laat agter, nadat hulle dié wat hulle innig liefhet, verstoot en verloor het, dat geld en goed nie ewigheidswaarde het nie. Geld en goed is verganklik en kan vinnig opdroog. Wanneer iemand wat geld oorywerig najaag, byvoorbeeld siek word, besef hulle gou dat geld beslis nie die enigste vorm van rykdom is nie. Gesondheid en liefde is ook vorme van rykdom, dié soort rykdom wat geld nie kan koop nie.

My kind, moedig die bedroefde vrou aan om te bid dat haar man sy eerste liefde, vir My, sal herontdek. Dat hy sal besef rykdom kan nie gemeet word aan dinge wat jy besit nie, maar aan dinge wat jy nooit vir geld sal kan koop nie.

Spreuke sê eerder ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n oorvloed saam met ’n getwis. Dit herinner aan die bekende gesegde dat geld ’n huis kan koop maar nie ’n tuiste nie; dit kan geselskap koop maar nie vriendskap nie; dit kan kos koop maar nie ’n aptyt nie; dit kan ’n bed koop maar nie ’n goeie nagrus nie.