Geldrusies: Wat is die oorsaak?

0
99
finansies.png

Julle klink al soos ’n vasgehaakte plaat. Geld! Maar is finansies regtig die rede vir julle rusies?

As jy en jou man voortdurend dieselfde argumente het, het dit miskien tyd geword om te kyk na wat onder die oppervlakte van julle verhouding aangaan.

Die Titanic-ramp het ons geleer dat die stukkie van ’n ysberg wat te sien is, net ’n klein deeltjie is van wat onder die water aangaan. Die grootste deel van ’n ysberg – ongeveer 80 tot 90 persent – is onder die wateroppervlakte.

Konflik oor finansies is dikwels soos die punt van ’n ysberg. Baie paartjies se geld is ’n rede vir hulle huweliksprobleme, maar die eintlike probleem kan iets wees wat diep onder die oppervlak skuil.

Wanneer hierdie tipe argumente oor en oor voorkom sonder om ooit opgelos te word, is dit ’n teken dat daar iets anders fout is. Daardie “iets” waaroor nie gepraat word nie, is eintlik die wortel van die kwaad. As hierdie kernprobleem nie opgelos word nie, sal oppervlakkige probleme soos finansies elke kort-kort te voorskyn kom. Trouens, hoe meer jy die werklike probleem onderdruk, hoe meer gaan dit in verskillende vorme na die oppervlak kom.

Wanneer jy en jou man volgende keer weer oor geld baklei, het dit tyd geword dat julle drie vrae baie eerlik moet beantwoord.

1. Het ons ’n probleem met kommunikasie?

As jy nie in staat is om jou behoeftes, begeertes en voorkeure te kommunikeer nie, gaan jou wederhelf moet raai wat dit is. Verkeerde raaiskote lei tot misverstand, wat weer kan ontaard in seergemaakte gevoelens en selfs haat.

As jy net oor geldsake kan gesels as jy kwaad is, is die kans groot dat jou emosie die oorhand gaan kry en die gesprek op beskuldigings gaan uitloop. Dit is belangrik om oor sensitiewe onderwerpe te gesels op ’n manier wat vir julle al twee gemaklik is.

Skryf eerder jou bekommernisse neer in plaas van om dit te verduidelik as jy emosioneel is. Sit presies uiteen wat jy van die ander persoon verwag wanneer dit gaan oor uitgawes, begrotings en finansiële beplanning. Moenie julle gesprekke op ’n negatiewe manier begin nie. Verwag eerder dat daar wel iets positiefs gaan uitkom.

2. Het jy enige onopgeloste pyn of haat wat jy steeds koester?

Dit is makliker om te baklei as om te erken dat jou gevoelens gekrenk is. As jou man jou seergemaak het, gaan jy elke gesprek deur daardie filter van onopgeloste pyn sien. As jou maat finansiële probleme bespreek, gaan jy heel waarskynlik oorreageer.

Skraap jou moed bymekaar en hanteer die pyn in plaas van om toe te laat dat pyn en haat julle verhouding oorweldig. Gesels eerlik daaroor en hanteer dit op ’n gesonde manier. Dit is belangrik om enige onopgeloste emosionele bagasie eers te hanteer voordat julle oor geldsake praat.

3. Is ek bang om die waarheid te praat?

Huwelikskenner Gretha Wiid vertel dat baie geheime in ’n huwelik te doen het met finansies. “Daar is baie paartjies waar die een nie weet wat die ander een verdien of as hulle ’n bonus gekry het nie. Dis kwansuis omdat hulle geldsake privaat is, maar binne ’n huwelik is daar geen geheime nie.”

Oneerlikheid het altyd negatiewe gevolge. As jy ’n groot finansiële besluit neem sonder om jou man daarin te ken, gaan hy nie baie gelukkig daaroor wees nie. As jy iets wegsteek wat jy gedoen of nie gedoen het nie, gaan dit nie oor finansies nie, maar oor eerlikheid. Wanneer vertroue geskend is, gaan jou wederhelf jou nie vertrou om verdere besluite te neem nie. Dit kan lei tot gevoelens van haat en seer en die kringloop herhaal homself. Daar moet eers vertroue in ’n huwelik wees voor sensitiewe sake soos finansies hanteer kan word.

Gesprekke oor geld hoef nie altyd op ’n rusie uit te loop nie. Maak seker daar is nie enige ander onopgeloste kwessies nie en raak ontslae van emosionele bagasie en oneerlikheid. Dan kan julle oor finansies gesels en saam julle materiële drome verwesenlik.

Verwerk na leiding van ’n artikel Cash Clash: What’s below the surface? deur Mitch Temple

Lees meer: Baklei minder, vry meer