Geldsake: begroot en bespreek

0
186
anders_orkes.jpg

Wynand en Lindi Delport van Anders Orkes vertel wat hulle uit hulle onvoorspelbare begroting leer.

Wat doen julle om die begroting te laat klop?

Dit is baie moeilik om te begroot aangesien elke maand se inkomste verskil. Begroting is nie ’n lekker woord in die Delportgesin nie. Ons probeer tog om maandeliks uit te werk hoeveel daar is om te spaar en te gebruik. Soms kan ons lekker spandeer, ander maande moet ons ’n bietjie meer spaarsaam wees. Wynand het gelukkig ’n passie vir kosmaak. Ons sal dan in daardie maand meer bekostigbare maaltye maak.

Hoe versoen julle geldsake en die huwelik?

Beslis deur eerlik te wees met mekaar. Dit kan baie probleme veroorsaak wanneer jy dinge begin wegsteek. Ons praat met mekaar oor wat ons wil hê en besluit saam of dit ’n goeie belegging sal wees. Ek is lief vir klere, maar sal nooit iets koop sonder Wynand se medewete nie. As Wynand byvoorbeeld ’n nuwe rekenaar wil koop, besluit ons saam of dit vir plesier is en of dit ook in ons besigheid gebruik kan word.

Wat is julle raad oor byhou by die bure?

Ons kan eerlik sê dit was nog nooit ’n probleem nie, maar ’n mens kan maklik behep raak met wat ander het. Jy moet jouself herinner dat ander se situasie heeltemal van joune verskil. Dit is gewoonlik moeiliker om ander se sukses te aanvaar as dit wat hulle besit. Ons probeer fokus op dit wat ons as man en vrou gelukkig maak en nie op wat ander mense beïndruk nie.

Watter lesse het julle uit swaarkry geleer?

Ons maak die afgelope sewe jaar saam musiek. Daar was tye dat ons geen idee gehad het waar ons inkomste vandaan gaan kom nie. Toe ons getroud is, het Wynand net sy derde studiejaar in musiek klaargemaak. Dit was finansieel ’n baie moeilike tyd. Een ding waaraan ons vashou, is God se Woord wat sê dat Hy gekom het om lewe in oorvloed te gee en dat ons ons nie oor môre hoef te bekommer nie.

Wat motiveer julle om te spaar?

Die beste raad wat ons gekry het, is om ’n bietjie onder jou broodlyn te leef. Dan het ons aan die einde van die maand ’n ietsie ekstra om te spandeer. Lindi het nie een klererekening nie, en ons het ook nie DStv nie. Ons besit wel ’n kredietkaart vir die tye wanneer werk skaars is, maar dit is altyd die eerste ding wat ons betaal as ons weer geld het.

Vlieg liefde saam met geld by die venster uit?

Beslis nie! Dit is dan dat jy regtig sien wat liefde vir mekaar beteken. Die tipe werk wat ons doen, verg baie geloof en vertroue. Moeilike tye bring ons nader aan mekaar. Ons gaan saam op ons knieë en vertrou Hom. Ons het nog altyd sterkter uit elke moeilike situasie gekom. Ons sit baie en lag oor waar ons begin het en hoeveel ons as mense en as ’n paartjie gegroei het.

Wynand en Lindi van Anders Orkes gaan saam op ons 2015 Net-vir-die-Girls bootreis. Hannon Bothma en Gretha Wiid ook! Maak seker jy bespreek jou plek.
Kliek hier vir meer inligting.