Geloof begin in jou brein

0
616

Dit wat in jou kop gebeur, bepaal jou lewe. Maar hoe werk die brein en hoe beïnvloed dit jou verhouding met God? Deur Roelof Botha

Alles wat ons beleef, is in die brein gesentreer: ons bewussyn, interpretasie van die werklikheid, liggaamsfunksies, gevoelens, geheue en nog baie dinge.

As jy saam met jou kleuters of kleinkinders na Disney en Pixar se animasiefliek Inside Out gekyk het, sal jy die storie van die elfjarige dogtertjie, Riley, ken.

Die fliek speel op twee vlakke af. Dit vertel in die eerste plek haar storie as die kind van twee liefdevolle ouers. Sy word gelukkig groot met baie aandag en sorg. Haar wêreld word dan heeltemal omvergegooi wanneer hulle as gesin na ’n nuwe omgewing verhuis, waar Riley ontwortel voel en al hoe meer ontnugterd raak.

Daar is ook ’n ander storie wat in Riley se brein afspeel. Haar gedagtes, emosies en algemene breinaktiwiteit word uitgebeeld as karakters en gebeure in haar bewussyn.

Die wetenskap agter Inside Out kom hoofsaaklik van twee neurosielkundiges, Dacher Keltner en Paul Ekman. Die fliek wys hoe elke emosie wat Riley beleef, vandat sy as babatjie haar ogies oopmaak, ’n herinnering vorm, wat dan snags in haar langtermyngeheue gestoor word.

Die belangrikste herinneringe wat sy beleef, is egter wat in die fliek haar “kernherinneringe” genoem word. Dit word gevorm deur die sleutelemosies wat sy tydens die belangrikste oomblikke van haar lewe beleef, soos die eerste keer wat sy probeer loop of haar eerste hokkiewedstryd.

Haar emosies en herinneringe word ook sterk bepaal en gevorm deur die mense met wie sy hierdie oomblikke deel. Elke kernherinnering vorm en voed ’n spesifieke hoofdeel van Riley se ontwikkelende persoonlikheid.

Die brein bestaan uit ongeveer 100 miljard breinselle of neurone. Neurone praat met mekaar deur chemiese boodskappers wat ’n gaping, bekend as ’n sinaps, tussen twee breinselle moet oorbrug.

Die gemiddelde neuron kan tot ’n duisend of meer sinaptiese verbindings vorm. Hoe meer sekere breinselle saam vuur, hoe meer groei hulle saam en hoe sterker is die konneksies tussen hulle. ’n Mens se brein verkies juis om inkomende inligting altyd oor bekende koproetes te stuur omdat dit minder energie verg.

Die Nobelpryswenner Eric Kandel skryf dat die lewe gedurig ’n mens se brein help vorm. Neuroplastisiteit, oftewel die aanhoudende groei van die brein, word vandag algemeen aanvaar.

Die brein kan nie multitask nie

Watter vrou het nog nie gestaan en kosmaak, selfoon in die hand, terwyl sy die kinders met hulle huiswerk help en terselfdertyd haar e-posse beantwoord nie? Vroue kán mos ’n klomp goed gelyk doen.

Die meeste navorsers is dit egter eens dat die brein nie regtig kan multitask nie; goedgeoefende koppe kan net inligting vinniger as ander verwerk.

In ’n Franse studie het navorsers verskillende take aan mense gegee om gelyktydig uit te voer terwyl hulle breinfunksies met MRI-skanderings gemonitor is. Wanneer meer as twee doelwitte aan deelnemers gegee is (met belonings en al!), kon hulle dit nie gelyktydig hanteer nie.

Miskien is dit hoekom die digitale generasie soms sukkel met volgehoue konsentrasie. Mense wat vir lang tye aan sosiale media blootgestel word, se breine is gedurig aan die verskuif tussen inkomende WhatsApps, e‑posse, twiets en Facebook-boodskappe. Studies wys dat sulke aanhoudende onderbrekings maak dat dit persone tot 50% langer neem om sekere take af te handel as iemand wat slegs op een taak fokus.

Impulse wat op enige gegewe oomblik as die belangrikste beskou word, kry voorkeur. Onnodige impulse word geblokkeer sodat die brein kan fokus op daardie take, uitdagings en situasies wat as die vernaamstes beskou word.

Hierdie prosesse word onder andere vanuit ’n area in die breinstam geaktiveer wat as die retikulêre aktiveringsisteem (RAS) bekendstaan. Saam met die talamus in die brein is die RAS verantwoordelik vir besluite oor watter sensoriese inligting of stimuli aandag kry en watter nie.

Dit werk soos ’n hekwag en sonder dat ons daarvan bewus is, sodat ons nie aanhoudend deur massas inkomende stimuli oorweldig word nie. Die RAS is ’n hoogs aktiewe sisteem wat soos ’n sensitiewe skakelaar enigiets vanaf emosionele opwekking tot rustige, kalm toestande veroorsaak.

Die breinnavorser Pierce Howard sê as ons emosioneel opgewek word, soos by die veg-of-vlugreaksie, word die serebrale korteks afgeskakel. Instink en opleiding neem dan oor en ons funksioneer op autopilot. Eers wanneer die onmiddellike bedreigings verwyder is, skakel die denkende brein weer aan.

Ons besluite berus op emosies, nie denke nie

Anthony Damasio, ’n neurowetenskaplike, meen ons is primêr emosionele wesens wie se besluitneming nie op logika berus nie, maar op emosies.

Hierdie deel word baie kreatief uitgebeeld in Inside Out. Ons sien die uitwerking van gevoelens soos vreugde, vrees, hartseer, woede en walging op die vorming van Riley se persoonlikheid.

Die fliek wys vir ons hoe emosies ’n mens se bewussyn bestuur en die herinneringe van die verlede inkleur. Die animasieprent dui ook aan hoe ’n mens se identiteit bepaal word deur spesifieke emosies en hoe dit ons persepsie van die realiteit vorm.

Riley se lewe wys hoedat emosies ons rasionele denke bestuur en dat die twee nie noodwendig vyande is nie. Dit wys ook dat gevoelens bepaal hoe ons onsself uitdruk en die effek wat dit op die mense rondom ons het.

Dit wys egter ook hoe ’n reeks traumatiese gebeurtenisse kan veroorsaak dat iets soos vrees oorneem as die hoofemosie. Later kan dit veroorsaak dat die kernherinneringe wegkwyn. Die fliek is in lyn met navorsing: Emosies staan sentraal.

Emosies neem die voortou bo denke wanneer dit oor breinspoed gaan. Ons voel en ervaar lank voordat ons oor iets begin dink. Die amigdala (twee organe so groot soos amandels, diep in die temporale lobbe) is die “spoedbel-opsie” van die brein. Dit is tot die tande toe gewapen met senuweeoordragstowwe soos dopamien en noradrenalien, wat weerlig-vinnige reaksies in die liggaam veroorsaak.

Die amigdala moet getem word, anders skakel dit die denkende brein later uit. Dit kan die werking van die hippokampus, wat betrokke is by geheue, gedagtes en emosies, negatief beïnvloed.

Die hippokampus dien ook as ons sosiale brein, wat empatie en ander gevoelens van omgee onder die regte omstandighede laat groei. As die amigdala te veel kortisol in die liggaam vrystel om ons in veg-, vries- of vlugmodus te hou, skakel dit die reseptore vir kortisol in ons hippokampus af. Later swig die hippokampus en begin wegkwyn.

Aanhoudende angs, stres en vrees het dus ’n negatiewe effek op jou geheue en gesonde oordeel. Dan verloor jy ’n gebalanseerde perspektief op die lewe.

Ons moet ons harte én koppe vir die Here gee

Om op te hou met dink, lees en besin is lewensgevaarlik. Die bekende Amerikaanse koerant USA Today het berig oor ’n studie wat by Duke Universiteit gedoen is, wat wys dat evangeliese Christene se hippokampus kleiner is as dié van mense in ander kerklike tradisies. Hulle dink dus veel minder as mense in ander geloofskringe.

Die kerk is ongelukkig baiekeer ’n “breindood” sone. Dis amper asof ’n mens jou kop met vrymoedigheid by party kerke se deure kan los en dit na die tyd weer ongeskonde en ongebruik terugvat. Dieselfde inligting word maar net oor en oor gesirkuleer.

Die neurowetenskaplike en Nobelpryswenner Eric Kandel het bevind dat ons brein aanhoudend nuwe senuweeverbindings skep om nuwe ervarings te prosesseer. Hierdie belangrike feit plaas ons voor ’n lewenslange uitdaging om ons koppe aanhoudend in die regte rigting te laat groei. Ons het die voltydse verantwoordelikheid om reg te dink en emosies op gesonde maniere te ervaar.

Ons moenie van Kolossense 3:2 vergeet nie: dat ons gedurig moet fokus op die dinge van Christus. Ons is nie ontwerp om staties te wees nie, maar om aanhoudend te leer en te groei. Ons is nie die slagoffers van ’n brein wat in beton gegiet is nie, tensy ons self toelaat dat dit gebeur. Die brein is vormbaar, strekbaar, aanpasbaar, veranderbaar en leerbaar.

In die taal van Romeine 12:2 moet ons toelaat dat God ons denke vernuwe sodat ons Sy wil kan ken. Dit vra leergierigheid en nuuskierigheid. Ons moet onsself gedurig omring met goeie boeke en kreatiewe mense. Ons moet sorg dat ons denke gestrek en uitgedaag word deur denkende gelowiges.

Ons het gesien herhaling van dieselfde tipe gevoelens, gedagtes en gedrag skep gevestigde neurale hoofpaaie waarlangs inligting vervoer word en waarbinne nuwe ervarings verwerk en ingepas word. Op hierdie manier vorm sekere gewoontes. Aan die ander kant sal neurale roetes wat nie gebruik word nie, krimp en in onbruik verval.

Dit beteken jy hoef nie lewenslank onder aaklige herinneringe te ly nie. Jy kan dit aanpas, herbedink, krimp en uiteindelik die pyn daarvan minimaliseer en wegneem.

Kry jou gevoelens en denke onder beheer

Spreuke leer ons dat die woorde van ’n wyse mens ’n groot seën en ’n onuitputlike bron van inspirasie is.

Ons moet keer dat negatiewe gedragspatrone in ons koppe vestig, omdat dit tot negatiewe gewoontes en gedrag lei. In 2 Korintiërs 10:4-5 skryf Paulus dat ons gedurig ons gedagtes aan Hom gehoorsaam moet maak.

Prakties beteken dit die doelbewuste verskuiwing weg van negatiewe en destruktiewe gedagtepatrone na Christus se positiewe werke toe. Hierdie doelbewuste nuut dink, nuut voel en nuut doen keer dat ons word soos die mense oor wie Paulus in Efesiërs 4:17-19 skryf. In hulle koppe gebeur daar niks goeds nie.

Te midde van al die impulse wat ons voortdurend bombardeer, kan ons kies aan watter stimuli ons aandag wil gee. Jy kan ’n besluit neem om armes, verlorenes, eensames, verworpenes en randfigure raak te sien en aan hulle aandag te gee. Dan leer die aktiveringsisteem van jou brein om hulle op die voorgrond te hou.

Ons kan ook kies om doelbewus ons ore oop te hou vir goeie nuus en afbrekende stories mis te luister. En ons kan intensioneel kies om 1 Korintiërs 13 uit te leef, en die beste van mekaar te glo en te verwag. Dan kyk en hoor ons ander se “fabrieksfoute” mis en leef hulle raak in Jesus se Naam.

As Sy kinders is ons in ’n wêreld waar ons aan hemelse aha!-ervarings blootgestel word. Dis daardie oomblikke van spesiale insig wanneer ons skielik helderheid kry oor ’n bepaalde saak of situasie.

Aha!-belewenisse is nodig om informasie tot lewensveranderende insig te verskuif. Jou brein gee jou egter nie baie tyd om daarop te reageer nie. Wanneer jy in ’n preek, ’n Bybelstudie of ’n gesprek met iemand ’n goddelike aha!-ervaring het, moet jy vinnig daarop reageer en dit dadelik in jou lewe implementeer.

Dus: Jy het ’n ongelooflik kragtige brein in ’n goeie werkende toestand ontvang. Dit is jou verantwoordelikheid om dit vol te maak met gedagtes, emosies, gewoontes en gedrag wat Hom verheerlik en ander mense opbou.

Aangebied in samewerking met Ekerk. Kliek op ekerk.org.