[GELOOFSTERAPIE] Die dag toe Jesus sterf

214

Die Evangelies sê min oor die Saterdag (Sabbat) tussen Goeie Vrydag en die opstandingsdag (Sondag). Dit het egter groot betekenis vir gelowiges, sê ISAK BURGER.

Dit was seker die één dag in die geskiedenis toe niemand geglo het dat Jesus weer sou lewe nie: “stil Saterdag” of “heilige Saterdag”.

Net Jesus se vyande het aan die vorige dag as ’n “goeie” Vrydag gedink. Vir die Fariseërs, die skrifgeleerdes en godsdienstige leiers was dit ’n triomfantelike dag.

Die Man van Galilea, wat vir meer as drie jaar ’n doring in hulle vlees was, is uiteindelik geëlimineer. Hy was dood, koud, verseël in ’n graf. Hy sou nie meer hulle tradisies kon uitdaag, of hulle gesag en reputasie voor hulle eie mense en die Romeinse owerheid ondermyn nie.

Aan die ander kant was dit vir Sy volgelinge die aakligste, donkerste dag ooit. Hulle sou dit eerder “swart Vrydag” of “slegte Vrydag” wou noem.

Dit was eers hierna, op die Sondag, dat die lig vir hulle deurgebreek het – toe hulle uitvind die graf is leeg en Hy aan sommige van hulle verskyn het.

Die dag tussenin het egter ook ’n simboliese betekenis. Mense het hulle eie klein “Getsemanes”. Almal beleef soms ’n “donker Vrydag” – ’n week, ’n seisoen van pyn, krisisse of vernedering. ’n Droom, ’n ideaal of ’n verhouding sterf. Soms is siekte, ’n ongeluk en die dood van ’n geliefde ook deel van jou storie.

Daarna is dit “Saterdag”. Dis die tyd daarna, wanneer jy nie verstaan nie en dinge skielik net nie wil sin maak nie. Jy wil so graag God se stem hoor, want jy soek antwoorde. Die Bybel bly egter ’n geslote boek. Jy bid, maar dis stil. Jy staan op, en weet nie waarheen nou en hóé nou nie. Jy gaan maar net aan, bestaan maar net…

Dis daardie vreemde, onverstaanbare tyd tussen krisis en deurbraak. Tussen wanhoop en vreugde. Tussen verwarring en duidelikheid. Tussen slegte nuus en goeie nuus.

Wag, vra en kla – dis wat mense in hierdie tye doen. Dis menslik. Dis verstaanbaar. Groot name in die Bybel het al so geworstel. Maar by Job, Dawid en ander Bybelmense is daar ook ’n kalmte, ’n diep vertroue – al breek die golwe oor hulle. Want hierdie tyd beteken nie God het jou gelos, jou vergeet, nie. Hy is net stil.

Dis nie die einde nie. Daar kom ook ’n “Sondag” wanneer ons “waaroms” “daaroms” sal word. Wanneer die vraagtekens in uitroeptekens sal verander. Wanneer die deurbraak kom. Wanneer die wolke verdwyn en die son weer skyn.

Dink ’n bietjie terug. Kan jy sulke tye, seisoene en “naweke” in jou lewe onthou? Hoeveel keer het die “Sondag” nie al vir jou aangebreek nie? Toe kon jy verwonderd sê: Nóú verstaan ek! Ek was toe nooit heeltemal alleen nie.

Nee, ons gaan nie almal hier op aarde gesond word nie. Al ons probleme gaan nie hier opgelos word nie. Daar mag drome en ideale wees wat nooit verwesenlik sal word nie.

Tog, in jou situasie en ten opsigte van jou probleem het Sondag miskien nog nie aangebreek nie. Dis nog die dag tussenin. Byt vas, dis nog nie die einde van die naweek nie!

’n Boek wat jóú lewe sal verander!

“Wanneer historiese Bybelse gebeure en die evangelie van Jesus mekaar ontmoet, verander dit jou lewe. Ek het nuwe openbarings en verrassings in die Bybel ontdek, wat ek nie voorheen raakgelees het nie.”
– Wanda Bam, radio-aanbieder

“Dit gaan nie net oor ’n aangrypende gebeurtenis nie, maar die verskil wat dit in jou lewe maak. My verslaentheid oor Jesus se onvoorwaardelike liefde is nog groter as voorheen.”
– Johan Laten, skrywer

Koop die boek DIE DAG TOE JESUS STERF! aanlyn by voelgoedboeke.co.za. R119 R169
Ook beskikbaar as ‘n e-boek R84 R119

 

GELOOFSTERAPIE: Jy kan weer héél word