Geluk, die nuwe rykdom

Geluk is die nuwe rykdom, innerlike vrede – die nuwe sukses, gesondheid – die nuwe voorspoed en om goedhartig te wees is net “cool”.

Ons lewe in n wereld waar daar net positiwiteit geproklameer word. Jy mag nie loop en kla nie, huil is n teken van swakheid en bewaar jou siel as jy val en nie vinnig genoeg weer opstaan nie. Almal op sosiale media lyk altyd gelukkig en sodra jy iets negatief op daardie platform kwytraak word jy sommer vinnig ge”unfriend”.

Net gister luister ek na n “podcast” waarin die spreker se dat depresiwiteit die grootse oorsaak, bo kanker, vir ongeskiktheid is. Meer mense lei aan depressie as ooit van te vore. Dadelik laat dit my wonder, maar HOEKOM?

Is dit omdat ons in so n onsimpatieke wereld leef dat ons nie meer ons naaste se lief en leed wil raak sien nie? Probeer ons dalk so hard om positiewiteit te proklameer sodat ons, ons eie leed en seer kan ignoreer? Dink ons, as ons verby die pyn kyk, dit gaan net weggaan?

Toe Lasarus sterf, het Jesus geween. “As dit U wil is laat hierdie leidingsbeker by My verby gaan,” het Jesus in Getsemane gebid. Jesus het emosies gehad en dit betoon. Jesus het dit nie weggesteek of weggepraat nie.

Die verlede en grootword proses het my een ding geleer. Geen pyn, hartseer, frustasie en kwaad kan permanent weggesteek of toegesmeer word nie. Eendag gaan dit weer sy verskyning maak. Party mense verdrink hulle pyn in drank, ander spandeer ure op hulle slimfone en sosiale media, net sodat hulle nie die realiteit in die oe hoef te staar nie.

Daar is net een manier om oor trauma te kom en dit is om DEUR dit te gaan. Laat jouself toe om te huil, te skreeu, kwaad te word en dan te vergewe, sewentig maal sewe keer. Ja, dit is n proses na gesondmaking, n proses na bevryding maar deur dit sal jy kom en glo my, al gaan jy deur die vuur, dit sal jou nie skroei nie…

Voel dit, gaan DEUR dit en laat dit gaan…

2 Kor 12:9 “… My GENADE is vir jou genoeg. My krag kom juis tot VOLLE werking, wanneer jy SWAK is.” Daarom sal ek baie eerder oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.