“Geluk hang van meer as jou werk af”

0
31
Riaan Jacobs

Riaan Jacobs van Slender Wonder vind eindelose geluk en motivering in sy werk, maar hy weet ook dat jou beroep nie jou hele lewe moet wees nie.

Riaan Jacobs van Slender Wonder vind eindelose geluk en motivering in sy werk, maar hy weet ook dat jou beroep nie jou hele lewe moet wees nie.

Slender Wonder het vir my begin toe ek… in korporatiewe bestuurposisies was, waar ek met verloop van tyd ’n plafon bereik het. Ek het lank daaroor gedroom om my eie onderneming te bedryf. Toe die geleentheid hom voordoen om by Slender Wonder betrokke te raak, het ek nie gehuiwer nie. ’n Gesonde lewenstyl was nog altyd vir my meer as net ’n belangstelling.

Geluk en tevredenheid in jou beroep is belangrik… anders sal jy ongemotiveerd voel en nie nuwe geleenthede raaksien of nuwe uitdagings aanpak nie. Beroepsgeluk en werksbevrediging is egter die resultaat van voortdurende insette en opofferings. Dit word ’n kringloop. Die sukses wat jy behaal, dien weer as beloning om jou aan te moedig om nog meer te gee.

Die geheim daaraan om jou werk te geniet is… om ’n positiewe gesindheid teenoor werk en die lewe te hê. ’n Mens het ’n keuse oor wat jou houding gaan wees. Tweedens moet jy passievol wees oor wat jy doen, want dit dra jou deur die moeilike tye. Maar daar is tog ook plesier in enige dag van produktiewe harde werk, en dit kan geen geld koop nie!

Jou produktiwiteit word deur tevredenheid verhoog, want… dit wat jou gelukkig maak, sal jy herhaal en met meer entoesiasme doen. Om byvoorbeeld die verskil te sien wat Slender Wonder in mense se lewens maak is uiters bevredigend. Dit laat my nie net my werk geniet nie, maar motiveer my ook om aan te hou. ’n Gelukkige mens is gewoonlik ook ’n produktiewe mens.

Moenie op jou werk vir geluk staatmaak nie… maar jy moet eerder jouself gelukkig maak. Dit is iets wat van binne kom. Aan die ander kant is dit ook nie die moeite werd om vas te klou aan iets wat jou ongelukkig maak nie. As jy nie tevrede is met wat jy doen nie, oorweeg ’n verandering en kry iets waarin jy vervuld voel.

Om te keer dat jou loopbaan jou identiteit oorneem… moet jy jou prioriteite baie duidelik stel. Jy moet ’n onderskeid tref tussen die verskillende rolle en verantwoordelikhede in jou lewe. Dit is baie belangrik dat daar balans in jou lewe moet wees. Tyd vir my familie en gesin is baie belangrik vir my. As jy nie dinge goed beplan en tyd maak nie, is die kans skraal dat dit sal uitwerk.