Geluk is ’n manier van doen

1641

Werklike blydskap kom nie van buite af nie. Die vreugde wat ons in God vind, gee ons die innerlike krag om enige situasie te hanteer.

MAANDAG

Jy hoef nie perfek te wees om te straal nie

Kyk maar net na die seldsame klompie Christene om ons wat werklik diep tevrede is. Is dit nie ironies dat hulle lewens allesbehalwe perfek is nie? Party het min geld, ander sukkel met hulle gesondheid, ander se gesinne val uitmekaar. En tog, dit straal uit hulle oë; hulle hele wese glimlag!

Hierdie emosionele of geestestoestand word gekenmerk deur goeie emosies, wat wissel van ’n gevoel van tevredenheid tot een van intense vreugde.

Die sielkundige Martin Seligman sê dat mense op hulle beste is wanneer hulle sekere dinge beleef. Genot, byvoorbeeld van geurige kos of ’n warm bad, is een. ’n Konneksie of ’n goeie verhouding met iemand anders is ook iets wat jou volmaak. En wanneer jy betekenis of sin en vervuldheid ondervind, soos wanneer jy iets bereik het, blom jy.

Neuroloë het bevind dat jy jouself gelukkig kan dink deur ’n gewoonte daarvan te maak. Dit werk amper soos water wat teen ’n helling afloop en groewe in die aarde vorm. Hoe meer jy ’n sekere gewoonte herhaal, hoe dieper word hierdie groewe en hoe makliker word dit om positief te wees, ten spyte van wat met jou gebeur.

Geluk is nie ’n geskenk of ’n geheim wat deur een of ander manier van leef ontsluit kan word nie. Dis ’n keuse, ’n daaglikse manier van doen.

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom. 15:13)

DINSDAG

Dit is jou keuse om blymoedig te wees

Jy kan niks aan die bakbene en krom neus doen waarmee jy gebore is nie, maar jy kan iets omtrent jou eie hart en jou ingesteldheid teenoor die lewe doen.

Wanneer jy kies om blymoedig te wees, kan niks dit by jou steel nie, want dis gesetel in jou keuse, nie in eksterne faktore nie. Dit beteken Jesus is genoeg vir jou en daarom laat jy jou nie deur klein dingetjies onderkry nie.

Natuurlik sal daar baie hartseer dinge gebeur, maar as jy seerkry, laat jy Hom altyd toe om jou gedagtes te beheer. Dan sal jy weet niks verander Sy liefde vir jou nie.

Wanneer jy kies om vrolik te wees, kan jy die lewe in al sy oorvloed beleef, selfs al is jou omstandighede nie altyd ’n fees nie. Die kruisdood het ook vir jóú gebeur – hierdie wete kan deur niks anders oortref word nie. Dis logies dat jy Jesus meer in jou lewe sal wil betrek sodat jy ook in daardie oorvloed kan deel.

As jy besef dat niks die groter plan vir jou lewe kan beïnvloed nie, pak jy die toekoms sommer met baie meer moed en optimisme aan. Jy kan ontspan en weet: Wat ook al gebeur, is nog steeds binne daardie plan.

Dit gaan dalk nou swaar met jou. Onthou, daar is altyd seëninge uit die verlede, hede en toekoms waarvoor jy dankbaar kan wees en waaraan jy kan vashou.

Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed (Ps. 29:11).

WOENSDAG

Gelukkige mense dink soos Jesus

Jou brein en gedagtes is die middelpunt van jou menswees. Ons gedagtes bepaal wie ons is, daarom kan die inhoud daarvan ons opbou of verwoes. Hou vas aan hierdie raad: Gelukkige mense glo nie alles waaraan hulle dink nie; hulle glo eerder in Hom wat ín hulle gedagtes is.

Min mense besef dat nie alles wat hulle dink, waar is nie. Jy besef ook nie dat daar ’n oorlog in die kleine in jou kop plaasvind nie. Dit hang natuurlik van jou af wie hierdie skermutseling gaan wen. Vrolike mense kry dit reg om nie na daardie nare stemmetjie te luister nie. Dink altyd soos Jesus: Sy gedagtes was gevul met liefde, nederigheid, diensbaarheid en gehoorsaamheid.

Hoe jy die lewe sien, kan die werking van jou brein beïnvloed, hetsy goed of sleg. As jy kies om die goeie in elke situasie raak te sien, word ’n groep selle aan die onderkant van jou brein gestimuleer wat jou in staat stel om dinge wat belangrik is, raak te sien. As dit vir jou belangrik is om goeie dinge op te let, is dit presies wat jou brein sal doen!

Fokus daarop om altyd die goeie dinge te onthou, want sodra jy fokus op dit wat verkeerd loop, stel jy jou oop vir negatiwiteit. Gelukkig is daar iets goeds in elke situasie – kyk net mooi.

Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus! (2 Tess. 3:5).

DONDERDAG

Geniet elke oomblik van elke dag

Wanneer laas het jy dit waarmee jy besig is, net geniet en toegelaat dat dit in stadige aksie by jou verbygaan? As jy iets goeds raaksien of beleef, rek dan die oomblik uit sodat jy dit vanuit alle kante kan ervaar. Die Engelse praat van “savour the moment” – leef in die oomblik.

Ons het al baie gehoor dat ons moet dagboek hou van goeie dinge wat gebeur en van alles waarvoor ons dankbaar is. Dis natuurlik maklik om dankbaar te wees elke keer as iets moois met jou gebeur, maar emosioneel volwasse mense weet ook dat dit noodsaaklik is tydens die nie-so-lekker-omstandighede.

Mense wat gedurig die negatiewe raaksien en daaroor praat, trek jou op die ou end ook af en steel jou geluk. Dis daarom belangrik om jou met positiewe mense te omring. Hulle bring sinergie en harmonie, want hulle werk met potensiaal en nie met vrese nie. Hulle ontken nie hulle probleme en hartseer nie, maar kies om liewer te fokus op wat mooi en goed en opbouend is.

Jou beste lewe begin wanneer jy Hom deel maak daarvan. Jy moet egter daarna aanhou om te volg waarheen jy gelei word. ’n Plantjie kry deur sy wortels krag uit die grond uit, en ons kry ons krag van Bo af.

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul (Kol. 2:6-7).

VRYDAG

Vergeet die verlede en fokus op die toekoms

Natuurlik mag jy soms kwaad en hartseer voel. Gevoelens is deel van elke mens se samestelling. Niemand sal jou kwalik neem as jy woedend of depressief is oor iets wat gebeur het nie. Die vraag is: Hoe lank haak jy daarby vas?

Dolgelukkige mense weet hoe om hulle emosies te hanteer. Hulle het geleer om die seer van die hier en nou te ervaar en deur te werk, maar om ook verder te kyk. Hulle fokus op wat anderkant die swaarkry op hulle wag – aanvaarding, berusting, ’n dieper geloof, ’n sterker karakter.

Seer is tydelik, geluk is blywend. Jy moet besef dat jou hartseer en probleme hier op aarde net tydelik is, daarom moet jy ’n ewigheidsperspektief kry. ’n Positiewe uitkyk – een wat lei tot diep innerlike vrede – gaan daaroor om te weet dat jy verder moet kyk as die hier en nou.

’n Christen se hoop is nie maar net ’n reënboog wat verdwyn as jy nadergaan nie. Dit is mos nie iets wat ’n mens homself wysgemaak het nie. Jy kan dus die sekerheid hê dat jou hoop en jou toekomsverwagting nie net soos mis voor die son sal verdwyn nie. Hoe swaarder dit nou gaan, hoe sekerder kan jy weet dat al die beloftes in die Bybel nog eendag waar sal word vir jou.

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe… (Pred. 3:1-2).

SATERDAG

Voorspoed lê nie in wêreldse goed nie

Baie mense is net gelukkig as hulle hulleself met mooi goed kan omring. Jou blink juwele, netjiese huis en duur motor kan ongelukkig niks waarborg nie. Word al hierdie dinge van jou af weggevat, val die bodem van jou lewe dalk uit.

Jou sekerheid moet nie lê in dinge wat gesteel, gebreek of weggevat kan word nie. In ’n wêreld wat gedurig aan die verander is, is Hy die enigste Een wat standvastig en onveranderd is en op wie jy regtig kan staatmaak.

Ons moet geestelike insig hê sodat ons duidelik kan sien wat Hy in hierdie wêreld met ons lewens wil doen. Daardie insig kan egter baie maklik deur ons eie gedagtes en begeertes beïnvloed word. Die beste manier om weer helderheid te kry is om op geestelike dinge te fokus en Hom met oorgawe te dien.

Moenie lou word nie, maar doen moeite met julle twee se verhouding. Kry goeie, opbouende vriendinne wat saam met jou kan bid en oor dieper dinge kan gesels. Praat mekaar moed in en herinner mekaar aan die goeie dinge wat nog in die toekoms op julle en julle kinders wag.

Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie (Matt. 6:19-20).

SONDAG

Om ongelukkig te wees is net tydelik

Ware tevredenheid kry jy nie in die dinge wat jy vir jouself doen nie, maar in die dinge wat jy deur jou werk verniet aan ander weggee. Dis dinge soos jouself, jou tyd, jou gawes, jou geld, jou lewe. Dít is ook wat vorm gee aan jou unieke passie en doel op aarde.

Gelukkige mense het geleer om nie net ín God te glo nie, maar om vír Hom te glo. Hulle weet dat alles op die heel beste manier vir hulle sal uitwerk. Hulle glo die Bybel ook wanneer daar staan dat Sy planne vir ons goeie planne is vir voorspoed, hoop en ’n wonderlike toekoms. Hulle weet ook dat “sleg” net ’n oomblik is, en nie vir altyd aanhou nie.

As ons te na gekom word, is ons eerste reaksie dikwels om so iemand te wil “terugkry”. Maar Jesus het gesê dat ons goed moet doen aan mense wat ons so seermaak. Ons moenie ’n swart boekie aanhou waarin ons ander mense se verkeerde optrede teenoor ons neerskryf nie, ons moet eerder liefde en vergifnis gee.

Dit is glad nie ’n natuurlike reaksie nie! Ons kan dit nie op ons eie regkry nie, slegs met Sy krag kan ons ander so liefhê soos wat Hy ons liefhet. Moenie beplan hoe jy gaan wraak neem nie, maar bid eerder vir dié wat jou seermaak. Dan is jý die een wat blom!

Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie (Matt. 5:42).