Geluk is…

Onthou jy nog die love is…tekenprentjies van die mannetjie en vroutjie met een of ander verklaring van die liefde daarby? Geluk is… om God se Woord te hoor en dit te doen.

Soek jy al vir ’n tydjie na ware geluk? Druk die lewe elke greintjie krag uit jou uit? Sukkel jy om die son te sien? Is die glimlag op jou gesig so effe plastiekerig? Voel jy dat geluk jou die heeltyd ontglip? Dalk het dit tyd geword om weer God se Woord te gaan lees, te hoor as Hy praat en dit te gaan doen. Dit is al plek waar ’n mens ware geluk sal kry.

Die wêreld sê anders. Die wêreld skree: “Koop daai kar en jy sal gelukkig wees. Koop daai broek en hemp, daardie rok, daardie horlosie, daardie skoene of daardie sonbril en jy’s in. Dan sal jy gelukkig wees.” Bog! Die alleenste mense is soms dié met die dikste beursies. Hulle sal vir jou presies by die naam sê wat geluk nie is nie, want dit is wat hulle leef.

Ek deel graag die storie van ’n groot vriend, Johan en sy vrou, Annalena, wat alles opoffer en ’n klein klompie Christene in Oekraïne help om God se koninkryk in hul dorpie te laat kom. Na een van die kursusse wat hy aanbied, keer pastor Ivan en sy vrou, Svetlana, na hul dorpie Isnitz terug. Hulle bring aan hulle tien gemeentelede God se boodskap en leer hulle dat elkeen dit moet gaan uitleef. Johan skryf oor die reaksie van een van die gemeentelede, ’n skrynwerker:

Jurie besluit om goeie nuus vir sy dorp te wees en bou ’n speelpark by die plaaslike skool – in ’n grys anonimiteit waar skole nie eers name het nie – slegs nommers (jy is ’n leerling van skool 3 of dalk skool 11) – staan die groen-pienk strukture soos ’n gesonde vinger uit – vreugde en lag dring uitsigloosheid binne!

Daarna koop Jurie die erf langs sy huis – bou nog ’n speelpark – hierdie keer met teksverse op elke apparaat – terwyl die ma’s hul kinders laat speel, gesels Jurie se vrou met hulle en bring die evangelie aan hulle. By die ingang van die speelpark staan ’n enorme bord met ’n twintigtal sinne daarop – hoe Ivan, Svetlana en Jurie – en die sewe ander Christene – droom dat God elke faset van die gemeenskap se lewe sal transformeer – die onderwys, besigheid, dokters, – hoe die Koninkryk sal deurbreek – tien mensies is ’n oormag – om ’n hele dorp te verlig – duisternis vlug! (Jurie is ’n speelparktransformator – hy beplan nog twee in Isnitz.)

Geluk is… om God se Woord te hoor en dit te doen, want dan staan die groen-pienk strukture soos ’n gesonde vinger uit – vreugde en lag dring uitsigloosheid binne!