Gelukkig wees, my keuse

1932
Minki van der Westhuizen

MINKI VAN DER WESTHUIZEN word geken aan haar lag, sprankel en positiwiteit, maar dit kom nie vanself nie. Sy kiés om so te leef, ongeag …

Dis nog douvoordag. Lank voor die skool begin. ’n Elfjarige met kort blonde hare en kieriebeentjies stoot die BMX-fiets tot in die straat, reg vir die vroegoggendtaak om ekstra sakgeld te verdien. Dis tyd om koerante af te lewer.

Kaizer, ons schnauzer-hondjie, staan stertswaaiend gereed om die roete in die fiets se spore kaf te draf.

Die probleem is net, vanoggend is daar nie ’n greintjie lus in my vir hierdie besigheid nie.

Pappa, wat die worsteling op my gesig sien, kom sit sy arm om my skouers. ’n Sagte kyk in sy oë.

“Sussie … as iets nie vir jou lekker is nie, dan máák jy dit lekker.”

So eenvoudig soos dit. ’n Stukkie wysheid wat my hart tóé reeds diep getref het. Woorde wat my die res van my lewe sou bybly. ’n Kopskuif.

As ’n taak soos ’n groot berg van opoffering voor jou lê, maar dit kan vorentoe iets beteken, is dit die moeite werd om deur te druk en dit so goed moontlik te doen – selfs al is dit nie nou vreeslik lekker nie.

Pappa was toe al die tyd reg. Lewensvreugde is ’n keuse; dit word nie deur omstandighede bepaal nie.

Iemand vra my nou dag: “Wat sal jy nooit ophou doen nie?”

Die antwoord was maklik. Daar hoef nie eens twee keer daaroor gedink te word nie.

Ek sal nooit ophou om gelukkig te wees nie. Om in die oomblik te lewe en te geniet waar ek nou is, en wat ek nóú doen.

Dit beteken nie die lewe gooi nie ook draaiballe in my rigting nie. Alles verloop nie altyd reg of vlot nie.

Maar ek kies hóé om daarop te reageer. Elke dag, in elke situasie. Dit bly ’n keuse om op die mooi dinge te fokus en nie oor onbenullighede ontsteld te raak nie.

Ook om bedag te wees op die dinge ek sê; die krag van woorde. Om positiwiteit, goedheid en voorspoed uit te spreek wanneer ek praat, want wat ’n mens dink en sê word in ’n groot mate jou realiteit.

Al is ek nog ’n work in progress, klou ek aan hierdie ingesteldheid vas. Soos nou die aand. Daar was ’n werksopdrag in Bloemfontein. Net vir die dag, kort voor die naweek.

’n Vliegtuig vol mense moes vroegaand terugvlieg Kaap toe, maar die vlug word vertraag, wat beteken het dat ons almal eers ure later by die huis sou aankom.

Ek wou gil en skree en huil van frustrasie, want die gemis na my man Ernst en kinders, Katerien, Elise en Elsa, was groot.

Boonop is tyd ’n ongelooflike kosbare kommoditeit in vandag se gejaagde lewe. Vir my is dit die grootste geskenk wat ek aan enigiemand kan gee.

Om die gevoel van moedeloosheid in die lang rye op die lughawe te vererger, het nog ’n gedagte soos ’n knaende irritasie aan my bly torring: Verlore tyd word nooit weer teruggekry nie … en ek is juis so gesteld daarop om nie een kosbare oomblik in ons dogtertjies se lewens te mis nie.

Maar nou ja … kalm raak … diep asemhaal … en uiteindelik voel jy hoe jou gedagtes tot bedaring kom. Die teleurstelling vervaag en ’n mens onthou weer die les wat doerietyd – op ’n koue skoologgend langs ’n fiets met ’n hoop koerante – geleer is.

Party dinge in die lewe is buite ons beheer. Daar sal altyd sulke tye wees. Aanvaar dit, kry vrede en maak dit lekker.

Daar was net twee keuses op daardie lughawe. Om dikbek te sit en kla, of om die beste van die ekstra wagtyd te maak.

Hier was ’n gulde geleentheid om werk op te vang en e-posse in te haal, sodat die tyd by my gesin die naweek regtig stresloos kon wees. Ek het iewers eenkant in die stilte en rustigheid gaan sit, met ’n lekker warm drinkdingetjie langs my, en my werk gedoen sonder om gesteur te word. Dit gebeur maar min, so dit was ’n groot luukse!

In my hart glo ek in elk geval dat daar ’n rede is vir alles wat gebeur. En daarin lê my vrede opgesluit: ’n Bewustheid dat God deel is van elke aspek van die lewe. Elke minuut is Hy daar.

Daarom raak dit ook makliker om te berus by die daaglikse uitdagings waaraan ’n mens niks kan doen nie. Dit kry my nie meer so maklik onder nie, want ek besef alles vorm deel van hierdie spesifieke seisoen in my lewe; legkaartstukkies in die groter geheel.

Dit beteken nie dat ek nooit meer met tye totaal oorweldig voel nie. Dit gebeur steeds, sommer oor alledaagse, eenvoudige goed.

Afhangende van die tyd van die dag of maand, sukkel ek soms met kwaad word, geïrriteerd voel en ongeduldig wees.

Enige ma met klein kindertjies kan seker daarmee identifiseer. Die tye van min slaap, moegheid en frustrasie.

Kleintjies wat oorhaastig is. Lyfies wat hop, spring en hardloop in plaas van gewoonweg stap, en dan per ongeluk teen my val of kap, terwyl ek met iets anders besig is.

Soms is ek geneig om te gou te reageer, en voel altyd sleg daarna. Of wanneer ek te veel van die kinders te verwag. “Doen dit só … ” maar dan doen hulle dit anders. Ai!

Wat dinge ook moeilik maak, is dat ek nie ’n formele kantoor weg van die huis af het nie. Dis gerieflik, maar ook soms frustrerend. Die huishouding, werk en kinders wat alles dieselfde spasie deel.

Dit raak ’n groot uitdaging wanneer ’n mens mamma, bestuurder van die Minki-brand, jou eie assistent en bemarker is. Die een wat self die telefoon beantwoord, besprekings bevestig, op e-posse reageer en die kinders se snotneusies afvee.

Soms gaan dit dol en voel dit asof die lewe net te vol raak. Almal soek aandag en wil ’n stukkie van jou eis. Daar is buitemuurse aktiwiteite, die melk is op, ’n kliënt wag vir ’n antwoord en ek en pappa wil tyd inruim vir ’n aandjie alleen.

Maar ek love steeds wat ek doen en is dol oor vrou-wees vir my man, ma-wees en oor my werk.

Elke dag staan ek diep dankbaar en bevoorreg oor soveel geleenthede op my pad, in ’n wêreld waar baie mense swaarkry en sukkel.

Dit maak my opgewonde om te weet daar is absoluut ’n opwindende, lekker plan vir my uitgelê (soos vir ons almal) … en dit is elke dag besig om te ontvou.

Al beleef ek ook soms terugslae en negatiewe dinge – soos snydende kommentaar in sosiale media – maak ek die keuse om op die positiewe te fokus.

Dit word deel van my daaglikse roetine. Soos wanneer ek byvoorbeeld die rekenaar in die oggend aanskakel en ’n rits e-posse moet oopmaak. Dit kan my dreineer of opgewonde laat voel.

Ek kies laasgenoemde, en kan nie wag om te sien watter geleenthede vandag aan die deur gaan klop nie.

Wie gaan my kontak vir werk? Waar gaan ek my talente en vaardighede kan aanwend om die wêreld ’n bietjie beter te maak?

Balans is ook belangrik; om tyd te maak vir my gesin en werk, maar ook om gesond te leef en te oefen. Ek geniet Pilates en het soms die tyd om dit gereeld te doen, ander kere nie.

Dis ook oukei. Dis nie nodig om met skuldgevoelens rond te loop nie. Doen eerder wat belangrik is, so gereeld moontlik, maar doen dit met vreugde.

Ek het agtergekom daar is so baie dinge in die lewe om te geniet, selfs met min of geen geld.

Die meisies is mal oor fliek-aande by die huis en as ons boonop oor ’n naweek die hele nag kan wakker bly, is dit nóg beter. ’n Ander gunsteling is om uit te gaan vir ’n bakkie frozen yoghurt. Eintlik enigiets wat met soetigheid te doen het (ons probeer hulle weghou van soetgoed deur die week, al werk dit nie altyd nie).

Dis ook vir my vreeslik lekker as ons tyd in die natuur kan spandeer en ons mooi aarde kan bewonder. Daar is altyd groot opgewondenheid in die huis as ons kossies inpak om iewers te gaan piekniek hou. Of om te gaan stap en die berge van Stellenbosch te geniet.

Dis ’n bederf om een van die sussies saam winkels toe te vat, om almal saam op die buite-gim by die huis te oefen en te speel, of om paddavissies in die rivier te gaan vang.

Alles ’n keuse, verweef met genade.

Deel van geluk kies, is ook om nie te vinnig in jou kop oud te raak nie. Mense het baie idees oor hoe hulle dink iemand van ’n sekere ouderdom moet wees en optree. Nonsens.

Ek glo, gaan terug en ontdek die kind binne-in jou, want op dié manier is dit makliker om die lewe voluit te geniet.

My heel grootste prioriteit in hierdie stadium is om die kinders se tenkies vol te hou. Om hulle gelukkig en emosioneel gesond groot te maak.

Die besef is ook daar dat hierdie een van die heel lekkerste fases in ons lewe is; ’n tyd waarin die kinders nog afhanklik en onder my vlerk en beskerming kan wees. ’n Tyd om elke oomblik te koester.

Dis hoekom ek so bevoorreg voel om my eie baas te wees, en te kan kies hoe besig ek wil bly.

Daar is opofferings en oomblikke van frustrasie, maar ek besef elke dag hoe groot seën dit is om so deel en betrokke by hulle lewens te kan wees. Om hulle die meeste van die tyd by die skool te kan oplaai en in die middae tyd saam met hulle te spandeer.

En wanneer die moegheid of frustrasie wil-wil oorneem, onthou ek net weer my pappa se woorde.

Dit help ook om soms uit ander se insig en wysheid te put. Ek is mal daaroor om na mense soos Joel Osteen en Joyce Meyer te luister. As daar nou mense is wat jou kan moed inpraat as jy af voel of twyfel in jouself, is dit daai twee.

En ’n boek soos The Secret het ook al wondere verrig om my positiewe ingesteldheid op koers te hou. Om die lewe deur ’n bril van dankbaarheid, in plaas van onvergenoegdheid, te sien.

Dankbare mense is gesonde mense, word my kinders geleer.

Ek probeer my bes om hulle groot te maak met ’n dankbare hart teenoor die lewe, maar om dit ook self uit te leef – want kinders doen mos nie wat jy sê nie, maar wat jy dóén.

Ons gesels oor baie dingetjies, en wanneer daar byvoorbeeld iewers heen gery word, sal ek situasies uitwys sodat hulle kan besef waarvoor hulle alles kan dankie sê.

“Kyk na daai man langs die pad sonder skoene … die ou wat bedel … die mense wat daar in die asblikke krap.”

So leer die kinders dat die skoentjies aan hulle voete ’n seën is, dat die lekker kos aan tafel by die huis ’n voorreg is, en dat die speelgoed waarmee hulle so lekker speel, ’n geskenk is wat hulle mooi moet oppas.

Dit maak my ook elke keer opnuut bewus: As ’n mens dink dit gaan die dag sleg met jou, kan jy maar altyd onthou daar is iemand anders met wie dit slegter gaan.

Daar is min dinge in die lewe wat my so diep raak soos mense wat positief bly en voluit leef, ongeag hulle omstandighede. Veral sieklike en gestremde kinders. Dit maak my onmiddellik emosioneel net om daaroor te praat … die trane loop sommer.

Ek het nog altyd ’n ongelooflike groot hart vir sulke kindertjies. Dalk het ek dit by my ma geërf, wat ook hierdie passie deel. En nou, met my eie kroos, is hierdie deernis net soveel groter.

Dis skep ’n diep bewustheid van die groot genade wat ons elke dag ontvang. Mag my kinders dit ook waardeer en koester, en bereid wees om eendag self te help en te gee waar hulle kan.

Dis so maklik om ingesluk te word deur die kultuur, die trends en die fokus op die materiële van hierdie wêreld.

’n Mens is geneig om te dink jy moet baie geld hê om geluk te vind. Of baie Instagram-aanhangers, om vervuld en aanvaar te voel. Party dink om maer te wees of gewild in sosiale media, is die antwoord.

Dis nie waar nie.

Om geliefd te voel is ons almal se nommer een behoefte. Myne ook. Ek sal graag wil hê mense moet my sien as iemand wat gaaf en vriendelik is. In wie se teenwoordigheid hulle spesiaal voel. Wat regtig luister en  geïnteresseerd is in wat hulle sê.

Soms ervaar ek hierdie soort geliefdheid en begrip onder die publiek. Met ’n werk in die openbare oog, is dit lekker wanneer mense my ondersteun en sê dat hulle van my hou. Of opmerk dat hulle kan sien ek is eerlik, opreg en openhartig. Iemand wat ’n verskil wil maak en met wie hulle gemaklik kan gesels. ’n Doodgewone vrou met dieselfde probleme en onsekerhede.

’n Mamma met ’n man en kinders, wat ook maar net kop bo water probeer hou, en tussendeur probeer om nie haarself af te skeep nie. Dis lekker as mense hierdie menslikheid raaksien en hulle daarmee kan vereenselwig.

Maar die realiteit is dat daar ook ’n ander, slegte kant is – soos alles in die lewe. Smaak en behoeftes verskil, en dit raak veral duidelik as jy in die openbare oog leef. Nie almal gaan van my hou nie, ongeag die beste pogings en mooiste bedoelings.

Daarom het ek teen hierdie tyd besef om nie my selfwaarde op die uiterlike, die hoeveelheid likes of ander se opinies te bou nie.

Ons is elkeen die outeur van ons eie geluk. Maak die keuse. Leef dit uit. En wanneer dinge régtig nie meer lekker is nie … wel, onthou dan my pa se goeie raad.

“Sussie, dan máák jy dit lekker!