Gelukkige vroue maak hierdie drie “foute”

0
146
gelukkige_vroue.jpg

Almal wil graag weet hoe om regtig gelukkig te wees. Leer hoe om doelbewus jou geluk te beplan.

Daar is baie definisies van geluk. Party kenners beskryf dit as ’n gevoel van vrede of vergenoegdheid. Ander redeneer dis bloot ’n emosionele hoogtepunt – jy voel die een dag op en die ander dag af.

Ware geluk hou egter langer as daardie happy pill wat jy nou en dan skelmpies drink. Dis meer as ’n emosie. Jou brein se denkfunksies word ook betrek. Slegs ’n deeltjie het te doen met hoe jy voel. Jy bring ook jou ideale, jou verwagtings en dit wat jy nie kan verander nie, in berekening. Dit kan dus doelbewus beplan word.

Jou daaglikse gewoontes en keuses speel ’n groot rol. Die meeste vroue is al vir jare gekondisioneer om die “regte” gewoontes aan te kweek: Vermy situasies wat jou gespanne maak, ruim genoeg tyd in vir ontspanning, streef na perfeksie.

Maar onlangse navorsing het verrassende resultate getoon. Aktiwiteite wat ’n mens onseker laat voel en jou daarom ongemaklik en angstig maak, kan sorg vir die onvergeetlikste, mees genotvolle oomblikke van jou lewe!

Skep doelbewus situasies wat jou bang en angstig maak

Dis Vrydagaand. Jy en vriendinne het afgespreek om te gaan uiteet. Julle het twee keuses: Julle kan (soos gewoonlik) pizza eet en verseker wees van waarde vir julle geld, of julle kan iets totaal anders doen, soos om Thaise kos te bestel. Ja, dit kan heel moontlik ’n teleurstelling wees, maar aan die ander kant ontdek julle dalk net ’n onverwagte vreugde.

Dit lyk asof werklik gelukkige mense intuïtief weet dat om altyd net die “veilige” opsie te kies, nie veel beteken nie. Jy móét jou grense ’n bietjie verskuif en ander opsies verken; meer nuuskierig wees en buite die lyne inkleur.

Tog is nuuskierigheid in wese ’n angstoestand. En dít is juis wat die selfhelpboeke jou vertel om ten alle koste te vermy. Maar hoewel dit nie altyd maklik is om so kwesbaar en onseker te voel nie, kan die proses jou sterker en wyser maak.

Natuurlik is daar tye wanneer jy die sekuriteit van die bekende nodig het. Doen egter moeite om ook ondervindings en situasies te gaan soek wat nuut, moeilik en vreemd is, al beteken dit jy moet vir die eerste keer in jou lewe karaoke doen! Die geheim is om ’n balans te handhaaf, sodat jy op verskillende tye by bekende én onbekende dinge kan baat vind.

Bestee minder tyd aan jouself en aan bederfdinge

Jy mag maar jouself soms met ’n lekker lang skuimbad vertroetel of op die bank opkrul met jou dogter se eksemplaar van The Hunger Games. Solank daardie tydelike goedvoel-oomblikke net nie jou primêre fokus is nie.

[Pagebreak] Dis belangrik dat jy duidelike doelwitte vir jou lewe moet hê. Dit sal jy net kan doen as jy weet watter dinge vir jou regtig bevredigend is en waarvoor jy wens jy het meer tyd gehad. Hierdie doelwitte sal jou dan dryf om risiko’s te loop en veranderinge te maak – selfs al moet jy jou soms ’n paar lekkertes ontsê.

Dis maklik om in die versoeking te kom om jouself te veel bederfies te wil “gun”. Jy moet mos al die balle in die lug hou en wie sal na almal omsien as jý bly lê? Goed en wel, maar nie ten koste van jou visie nie. Die gelukkigste mense is dié wat soms die kortstondige plesiertjies sal prysgee sodat hulle beter vordering kan maak met hulle langtermyndoelwitte.

Om waarlik vol vreugde te wees, moet jy eerlik gaan dink wat betekenis aan jou lewe gee. Slegs dan kan jy ordentlike doelwitte stel en genoeg tyd inbou vir klein dingetjies wat jou ’n hupstoot kan gee.

Wees ’n bietjie minder pligsgetrou en realisties

Dis goed om ’n oog vir detail te hê – as jy trourokke ontwerp! Dis egter beslis nie tot jou voordeel wanneer jy gedurig jou emosies en negatiewe ondervindings analiseer nie.

Gelukkige mense raak nie so maklik verstrengel in klein, onbelangrike detail nie. Hulle sal byvoorbeeld nie sommer iemand se sarkastiese glimlag raaksien nie. Dit sal verseker dat hulle beter en sonder enige blokkasies kan kommunikeer. Dis soms nodig om liewer nie die wisselvallige dinge in die lewe raak te sien nie. Daardie een, vlietende emosie op iemand se gesig is tog nie noodwendig ’n betroubare aanduiding van hoe die persoon regtig oor jou voel nie.

Vir die gelukkigste mense maak dit ook nie soveel saak of hulle goeie simbole kry op skool, ’n goeie salaris kry by die werk of nooit ’n dag afwesig is by die Sondagskool nie. Hulle is dus eintlik minder pligsgetrou in sekere aspekte. So iemand sal eerder tevrede wees met ’n kleiner prestasie, solank sy tog net nie tyd hoef te mors met onbenullige dingetjies nie.

Dit beteken nie jy kan nou jou verantwoordelikhede ontduik nie. Maar as jy te veel op onbenullighede fokus, kan dit jou later moeg maak en jou geestelik heeltemal verlam. Jy hóéf nie altyd alles perfek reg te doen nie. En soms is dit goed om iets halfpad te los as jy besef dis onnodig.

So, moet jou nie te veel steur aan wat almal om jou sê nie. Jy mag maar jou standaarde laer stel en van tyd tot tyd ’n bietjie “onverantwoordelik” raak. Solank jy net seker is jy is nog reguit op pad na jou lewensdoel toe.