Gelukkiger met woede en jaloesie

0
33
lewe.png

Jy het jou bloedig vererg en nou is jy spyt. Negatiewe emosies is goed – dit wys hoe jy beter kan lewe.

Jy het jou bloedig vererg en nou is jy spyt. Negatiewe emosies is goed – dit wys hoe jy beter kan lewe.

Wie wil nou nie elke dag op ’n pienk wolkie sweef nie? Geen vrou wil heeltyd met ’n boks snesies sit en snik van verdriet nie. As jy egter weet hoe jou emosies werk, sal jy verstaan dat daardie “slegte” gevoelens jou eintlik baie kan help.

Ons verstaan emosies nie altyd reg nie; daarom glo ons iets soos woede is negatief. Jou emosies is nie noodwendig negatief of positief nie. Dit gaan oor meer as net hoe dit jou laat voel – goed of sleg.

Jou verskillende gevoelens laat ’n hele klomp veranderinge in jou liggaam plaasvind. Dinge soos jou motivering, jou aandagspan, jou uitkyk en selfs jou hartklop word daardeur beïnvloed. Elke emosie het dus ’n belangrike werk om te doen.

Al jou gevoelens is daar om jou te help om jou doelwitte te bereik en jou lewe te verbeter. Veral negatiewe emosies het ’n belangrike werk – om jou goed te laat voel. Ja, jy het reg gelees! Dit klink miskien vreemd en teenstrydig, maar dis waar.

Daardie ongemaklike gevoel is amper soos ’n kompas of ’n GPS, dit wys jou waarheen jy moet gaan. Dit identifiseer moontlike probleme in jou lewe sodat jy betyds iets daaromtrent kan doen.

So, jou vrese oor die toekoms of jou teleurstelling oor die mislukte aansoek is eintlik ’n goeie ding. Jy móét positiewe en negatiewe gevoelens ervaar as jy optimaal wil leef. As jy weet wat om met jou negatiewe emosies te doen en hoe dit jou kan help, kan jy jouself baie beter verstaan.

Woede laat jou makliker kry wat jy wil hê

Matthew Hutson, skrywer van die artikel Beyond Happiness: The Upside of Feeling Down, se meisie het eers verstaan hoeveel hy vir haar omgee toe hy op haar skree. Dit het hom laat besef dat hy rooi sien wanneer hy voel hy word nie waardeer nie.

Die hoofdoel van woede is om te verseker dat jy nie uitgebuit word nie. Dink maar hoe verontwaardig jy raak as iemand voor jou indruk. Dit gebeur omdat jy voel die persoon minag jou. Dis mos presies wat die woord sê: ver-ont-waardig.

As jy voel jy verdien beter en jy dink niemand anders sien dit so nie, word jy kwaad. Jou hartklop versnel, jy begin sweet en jy begin aan maniere dink hoe jy die ander party kan laat les opsê. Later word jy soos ’n drukkoker wat net wil ontplof.

Woede kan jou beslis laat kry wat jy wil hê. Jy onthou seker hoe jy kleintyd elke keer jou plek in die motor afgestaan het, natuurlik net omdat jou boetie gedreig het om jou arm te breek as jy daar sit. Hy het gekry wat hy wou hê.

Jy dink dalk woede is ’n emosie wat buite beheer is, maar enige sodanige emosie kan jou lewe oorneem, nie net woede nie.

’n Klein bietjie woede kan jou dus help wanneer jy byvoorbeeld vir ’n beter salaris moet onderhandel. Dis nie goed om jou gevoelens te onderdruk nie, so, staan op jou regte op ’n mooi manier!

Jaloesie kan jou baie meer suksesvol maak

Jou sukses hang in ’n groot mate af van jou posisie in die groep. Jou geluk word hoofsaaklik bepaal deur hoe jy met die mense om jou vergelyk. Jy dink miskien jy hoef nie die slimste of rykste te wees nie, jy moet net beter wees as jou bure. Of dan ten minste net so goed soos hulle!

Jaloesie kan baie destruktief wees, maar dit kan ook baie voordele hê. Die minderwaardigheidsgevoel wat jy kry as jy om jou rondkyk en ander se sukses sien, kan jou eintlik help.

Om net so mooi soos jou vriendin te lyk, sal jy ’n paar kilo’s moet afskud. Dit laat jou moontlik besluit om harder te oefen of reg te eet. Wat natuurlik ’n goeie ding is, want al verloor jy nie gewig nie, sal jy gesonder wees. So kry jy meer reg as wanneer jy maar tevrede sou wees met daardie ongewenste vetrolletjies.

Spyt laat jou minder foute maak in die toekoms

As jy dink aan wat kón gewees het, kan jy soms jou hare uit jou kop trek. As jy tog net harder gewerk het, het jy dalk daardie bevordering gekry. As jy miskien kleintyd meer met jou ouers gesels het, het julle dalk nou ’n beter verhouding gehad.

Elke “Wat as” laat jou die verlede én die toekoms ontleed en dan uitpluis hoe dinge beter sou uitwerk as jy anders opgetree het. Dit laat jou beter beplan, want jy weet nou wat om volgende keer te doen.

Niemand maak graag foute nie, maar dis tog hoe ’n mens leer. Die sterk emosies wat jy ervaar wanneer jy ’n dom keuse maak, verseker dat die situasie sterk genoeg in jou gedagtes bly vassteek. Jy maak jou foute onwillekeurig erger in jou gedagtes, want dan onthou jy dit beter sodat jy dit nie weer sal herhaal nie. Dis dan dat jy vir jouself vra: Hoe kón ek so dom gewees het?

Daar is ook ’n tweelingboetie met die naam “verwagte spyt”. Dis wanneer jy nou al dink waaroor jy eendag spyt gaan wees. Dit is hierdie outjie wat jou laat oefen, minder laat eet en sonbrandroom laat aansmeer. Jy wil tog nie vet word en plooie kry nie!

Spyt help jou ook om stukkende verhoudings te herstel. Dis hoekom jy iemand om verskoning sal vra as jy weet jy het verkeerd opgetree. Dit verbeter dus jou verhoudings met die mense om jou, want hulle kan sien jy is nederig en dat jy jou foute wil regmaak.

Op die lange duur kan spyt jou dus gelukkiger maak. Deur te besef wat jy verloor het, leer jy ’n waardevolle les sodat jy volgende keer anders sal optree.

Hartseer dring jou om iets positiefs te doen

Natuurlik is jy hartseer as jy iets of iemand verloor het wat vir jou kosbaar was. Maar jy sal selfs treurig voel as jy net dink aan wat jy moontlik kan verloor.

Gestel een van jou geliefdes kry kanker. Wat sal jy dan vandag reeds anders begin doen? Hoe sal jy begin optree teenoor die persoon? Jy sal waarskynlik meer tyd maak vir lekker kuiers en meer gereeld bel. As jy dus potensiële hartseer verwag, kan jy ook jou toekomstige gedrag ten goede verander.

Baie vroue het al ’n organisasie op die been gebring of met motiveringspraatjies begin nadat hulle ’n kind begrawe het. As daar iets positiefs uit die trauma kom, voel jy tog effens beter oor daardie sinnelose verlies. Dan help jy ook ander, want jy kan iets waardevols tot die samelewing bydra.

Moet liewer nie daardie negatiewe emosie probeer ontduik of vermy nie, want dis bedoel om jou te laat groei. As jy vandag “af” voel, waardeer dit, want dit kan jou net beter maak vir môre.

Vertaal en verwerk uit Beyond Happiness: The Upside of Feeling Down deur Matthew Hutson.