Gemaak om uit te staan

Ek onthou ‘n program wat ek een slag gekyk het van Dr Phil. Hy het met ‘n vrou gepraat wat aan depressie gely het.

Haar dogter het vir Dr Phil geskryf om haar ma te help.  Daar was twee vrae wat hy aan die ma gestel het. Eerste een was: “Hoe lief het jy jou dogter? Sal jy dood gaan vir haar?” Die ma het geantwoord, “Natuurlik! Enige dag!” Die tweede vraag was: “Hoe lief het jy jou dogter? Sal jy lewe vir haar?” Ek sal hierdie vraag nooit vergeet nie. Dis soveel makliker om vir iemand dood te gaan as om vir hulle te lewe. Ons sê so maklik ons het Jesus lief en dat ons sal dood gaan vir Hom, maar die vraag wat Hy ons vra is, sal ons lewe vir Hom? Galasiërs 3:27 sê dat ons lewe nou aan Christus behoort.

Ons lewe nou vir Hom en deur Hom. Om te lewe vir Christus is nie altyd maklik nie. Dit beteken dat jy jouself kruisig en God se wil kies bo jou eie. Dit beteken dat jy talle kere die “odd one out” gaan wees as die mense om jou die verkeerde pad kies en jy die enigste een is wat staan vir wat jy glo. Dit beteken soms dat jy misverstaan word en ge-“label” word as “weird”. Dit kan ook beteken dat jy moet uitreik na ander met wie jy nie graag geassosieer wil word nie. Meeste van die tyd voel jy veroordeel deur die wêreld.  Ek wil jou vandag bemoedig dat jou werk in God se koninkryk nie verniet sal wees nie. Wat jy nou deur gaan is tydelik. Die belofte vir ons wie Jesus die Koning van ons lewe gemaak het, is die ewige lewe in Sy teenwoordigheid. En dís die moeite werd!

Vorige artikelJou pen, jou swaard…
Volgende artikelDaar is goud in jou krake
Blogger - Lizelle de Kock
Lizelle de Kock is ‘n vrou vir Mark de Kock en ma van 3 dogters, Kaylin (11), Jessica (9) en Madison (4). Sy is meer bekend as die stigter van die partytjie maatskappy, Organizit Party Styling wat op verskeie programme soos Pasella, Die Groot Ontbyt op Kyknet en VIA TV verskyn het. Haar werk is ook in talle nasionale tydskrifte soos Living & Loving, Baba & Kleuter, Vrouekeur, Huisgenoot & Idees-tydskrif te sien. Met 'n suksesvolle boek (PARTY TIME) wat in 2015 vrygestel is, het sy haar merk as 'n betroubare partytjie stilis in Suid-Afrika gemaak. Haar diep passie lê egter daarin om ‘n verskil in vrouens se lewens te maak deur hulle te help om hulle doel te ontdek en dit met vryheid uit te leef. Dis ook om hierdie rede dat sy ingeskryf het vir Mev SA 2017 en gekies is as een van die land se Top 100 semi-finaliste. Deur haar agtergrond in kreatiewe partytjies en geleenthede te gebruik, bring sy 'n nuwe openbaring aan elke vrou se doel deur middel van 'n kreatiewe werkswinkel wat sy landwyd aanbied.