Gemaklik met wie jy is

1420

Suidooster se GERWEN SIMON glo dat selfaanvaarding nie oornag gebeur nie; dit kom net met ervaring wat jou help om die lewe se onsekerheid te hanteer.

Suidooster se GERWEN SIMON glo dat selfaanvaarding nie oornag gebeur nie; dit kom net met ervaring wat jou help om die lewe se onsekerheid te hanteer.

Tien jaar gelede het ek drama gestudeer. Akteur-wees is een van die onsekerste beroepe in die land en almal om my was maar skepties. Die agt jaar wat ek in Frankryk gebly het, het egter ’n baie groot verskil in my lewe gemaak.

In Suid-Afrika word meisies ongelukkig nog nie soveel geleer om hulleself belangrik te ag soos seuns nie. Dit is ’n baie swak boodskap om vir hulle te gee. Nie dat die Franse nie ook hulle probleme het nie, maar ek kon sê wat ek dink sonder om stilgemaak te word.

Vroue daar dink oor die algemeen nie twee keer daaraan om hulle eie doelwitte eerste te stel nie. Hier moet vroue dikwels hulle loopbaan prysgee om kinders groot te maak. Of dan eerder nie kinders hê nie, want jy is so maklik vervangbaar by die werk.

Sommige dae voel ek gemakliker met myself as ander. Partykeer staan jy met die verkeerde voet uit die bed op en jou kollega sê iets en dan maak dit jou dag net erger. Klein goedjies beïnvloed jou bui en selfvertroue. Die volgende dag is weer ’n goeie dag. Ek dink soos ’n mens ouer word, hanteer jy dit beter.

Op sulke slegte dae probeer ek om myself ’n pep talk te gee; ek probeer myself oortuig ek is goed genoeg. Maar om eerlik te wees, ek het ’n verskriklik vrygewige en liefdevolle man. Ons is nou al twaalf jaar saam. Hy het ’n baie optimistiese uitkyk op die lewe, waar ek meer prakties is. Hy sê elke dag vir my dat ek mooi is en dat hy lief is vir my. Ek dink nie mans en al die mense in jou lewe besef hoe ’n groot verskil so ’n kompliment kan maak nie.

Die een eienskap wat ek die meeste gesukkel het om te aanvaar, is dat ek baie reguit is. Dit kan dalk ongeskik of koud voorkom, terwyl ek eintlik ’n baie warm mens is as jy my leer ken. In ons land is dit nie ’n positiewe eienskap vir ’n vrou om direk te wees nie. Noudat ek ouer is, het ek geleer dat ek dit nie kan verander nie. Ek het dit aanvaar, want dit is alles deel van my persoonlikheid, maar ek het ook besef dat dit uit eerlikheid en liefde kom. Ek sal nooit so reguit wees met iemand wat ek nie ken nie, dis net aanmatigend.

Mettertyd maak ander mense se opinies nie meer so baie saak nie, en jy kan kies om daarna te luister of nie. Natuurlik is jy nog onseker, maak nie saak hoe oud jy is nie. Selfs ek is nog, ek is net 33. Ek verwag nou my eerste kind en ek het geen idee wat voorlê nie. Namate jy ouer word, is jy beter in staat om daardie onsekerheid te hanteer, want jy het al soveel goed deurgemaak. En hoe meer jy ervaar, hoe beter leer jy jouself ken. Dit skep vertroue om enigiets in die toekoms te hanteer.

Daar is nie net een pad om te stap tot aanvaarding nie. As iemand vir jou ’n lys gee van wat dit beteken, moet jy nie sleg voel as jy nie al die boksies tick nie. Dit vat nie vir almal dieselfde hoeveelheid tyd om te besef jy is goed genoeg en dis oukei om nie perfek te wees nie. Vir my beteken selfaanvaarding om saans te gaan slaap en te weet ek het gestrewe om ’n beter mens te wees. Dat ek die lewe vir myself en vir ander beter gemaak het.