Gemaksones en lewenslesse

gemaksones
Gemaksones

Ek is ’n eerste keer mamma van ’n pragtige seuntjie. Hy is vol vreugde en liefde en regtig ‘n maklike baba. Wel, behalwe nou vir die feit dat hy vir 3 maande nooit langer as 1,5 ure aan een geslaap het in die aande nie (as ons gelukkig is!)

In die eerste paar weke van sy lewe het hy gesukkel met krampe en winde en net regtig ’n moeilike tyd gehad, toe ontgroei hy dit. Onlangs ontdek ons die rede vir sy slegte nagte is silent reflux. My arme baba is alweer ongemaklik en in pyn.

Ek lê en stoei een aand met die Here hieroor. Ek weet ons is geseënd om ’n gesonde, gelukkige baba te hê, maar in vergelyking met vriendinne se babas het hy regtig ’n tawwe tyd en ek voel dis onregverdig teenoor hom. Kan hy nie maar bietjie afslag kry nie?

Intussen is ons in survival mode– ons moet ’n manier vind vir albei om bietjie slaap in te kry. Omdat ek nog borsvoed is die aande meestal my baby, maar ek kan net nie meer nie!

Ons begin skofte vat- pappa doen van slaaptyd tot middernag dan vat ek oor.

In die week wat volg sien ek hoe iets nuuts in my man wakker word. Met die nuwe, noodgedwonge nag-verantwoordelikhede het hy regtig aangetree sonder om te kla en ek sien die vrug daarvan in sy verhouding met ons seuntjie.

Weer lê ek een aand en wonder hoekom ons paadjie nou juis so lyk? En ek besef, dit het eintlik niks met Reagan te doen nie, maar alles met ons te doen. Ek het ’n paar lesse oor selfsug geleer… my tyd is nie meer my eie nie. My eie gemak is nie meer belangrik nie.

Maar die mooiste aspek wat ek raaksien, is dat my man sonder ’n oomblik se huiwering my bystaan op ’n nuwe vlak. Hoe hy bond met ons kind in die midde van en eintlik as gevolg van die ongemak.

Miskien was dit nodig dat ons deur hierdie tyd gaan, sodat ek ’n nuwe kant van my man kan leer ken en raaksien? En van voor af sommer verlief raak!

En dat hy kan leer hy het soveel meer om te bied as pappa as wat hy gedink het?

Miskien wonder jy in die midde van ’n moeilike seisoen wanneer jy bietjie afslag gaan kry? Dan wil ek jou aanmoedig om ’n tree terug te vat en te kyk watter les daar te leer is in jou situasie. Dis in die ongemak wat ons groei en aanpas en meer word.

Ek word eerder gerek, sodat ek kan groei en aanpas en MEER word as wat ek gister was, as wat ek vas sit in my gemaksone. As die enigste manier om te groei in hierdie moeilike seisoene is, dan kies ek dit enige dag weer!

Soos hulle sê: “Life begins at the end of your comfort zone!”