Genade is geduldig

Vanoggend moes ek twee verkeersboetes gaan betaal (ek weet, ek weet) en ek sien die meisie agter die Money Kiosk toonbank gee my daai kyk.

Die eerste ding wat by my opkom is: “Gun my tog ‘n bietjie genade, mens.”

Daar is seker ‘n rede hoekom ons so suinig is met genade. Klaarblyklik sou te véél genade die begenadigde net ‘n gratis kaartjie gee om verder droog te maak.

Of dalk nie.

Dis nou al ‘n rukkie wat hierdie ding in my broei en toe ons gisteraand weer luister na die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put, word dit net daar weer vir my bevestig.

Een radikale bestanddeel van Goddelike vergifnis – en iets wat die selfaangestelde genadepolisie totaal en al miskyk – is die gawe van s-i-g wat deel vorm van die Genade-pakket. Nie die sig wat ek nodig het om my pad te vind elke dag nie, maar daardie vorm van sien wat my eie swakheid en hulpeloosheid en sonde ontbloot.

Toe die vrou by die put Genade vind, toe sien sy haarself vir wat sy regtig is: Iemand wat Genade nodig het. En dit verander haar hele lewe.

Daar was nie ‘n manier dat sy sou wou teruggaan na die ou mens wat sy was nie.

Wanneer daai Genade jou vat, breek Hy eers die beeld wat jy van jouself het in klein stukkies sodat jy die donker van jou binneste in al die skerwe kan sien, en dan kom vat Hy die lus vir self-destruction totaal en al weg.

Want die Gees is elke dag aan die werk in my – as ek Hom sou toelaat – om geduldig en met groot deernis vir my te wys waar my samestelling verskil van God se bloudruk vir my lewe.

Dit is Hy wat vir my die in-s-i-g gee om my eie vervallendheid in al sy misrabele glorie raak te sien.
Genade te kies.
Weg te loop van my ou mens.

“Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie.
Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie.
As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.
As julle gee, sal julle ontvang.
Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat,
ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol.
Met watter maat julle ook al meet – klein of groot –
dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.”
Lukas 6:37

Of vrylik herskryf:

As julle genade gee, sal julle genade ontvang.
Julle genade sal na julle terugkom in volle maat,
ingestamp,
geskud om plek vir meer genade te maak,
tot oorlopens toe vol genade.
Met watter genademaat julle ookal meet – klein bietjie genade of groot genade –
daai selfde genademaat sal gebruik word om te meet watter genade julle sal terugontvang.

Maar eers moet ek sien hoe groot my eie behoefte is aan God se Genade.

Prys die Here! Nog nooit het ek gehoor dat God slegs één keer probeer om mense se aandag te trek en dan, wanneer hulle kies om Hom uit kwaadgeit of halstarrigheid of seergeit te ignoreer, Hy Sy kuite op ‘n knop trek en omdraai en wegloop nie.

“God is patient, because He wants everyone to turn from sin and no one to be lost.”
2 Pet 3:9

So Hy wag.
En Hy klop.

Genade is geduldig.

Jou temalied vir die week: Still rolling stones

 

Vorige artikelJy het nie, want jy vra nie
Volgende artikelWen een van 3 mini roll-on velsorg geskenkpakke ter waarde van R225
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!