Genade van ’n premature geboorte

0
339
vicky.jpg

Aktrise-aanbieder Vicky Davis se dogtertjie, Lira, is 5 weke vroeg gebore. Tog was dit verskuilde genade.

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie

Dis Maandagmiddag. Ek het ná werk, as insetselvervaardiger by SABC 3 se ontbytprogram Expresso, gou kom inloer vir my opvolgbesoek. Dinge verloop egter nie soos dit moet nie. Die ginekoloog se oë rek soos pierings toe sy my bloeddruk meet. Die syfertjies skiet tot by 180/120. Ver verby die vlak wat as veilig beskou word.

“Jy het pre-eklampsie,” verduidelik sy. As my bloeddruk nie gou onder beheer gebring word nie, gaan ons pienkvoet haar opwagting heelwat vroeër maak as wat ons verwag het. “Jy moet dadelik in die hospitaal opgeneem word,” sê sy beslis. “Stap solank oor die pad, ek kry jou daar.” Gelukkig is die Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal in Kaapstad reg oorkant haar praktyk.

“Sjoe, dis ’n skok,” flits dit deur my gedagtes, maar (durf ek dit erken?) ek voel ook ’n klein bietjie bly. Verlig. Dit was tot dusver ’n moeilike swangerskap. Buitendien, ek weet ek en die baba is in goeie hande. As sy ’n bietjie vroeër móét kom, gaan ek nie teëstribbel nie.

Op die drumpel van 35 weke weet ek regtig nie of ek nog ’n maand lank so kan aangaan nie. My lyf het die afgelope paar weke so begin swel dat ek nie weet watter kant toe nie. Dit lyk of my voete sonbrand opgedoen het. Ek kan skaars op hulle staan. Hulle is rooi en vol inflammasie. Ek moes noodgedwonge my man, Schalk (Joubert), se plakkies begin dra, omdat my voete in geen ander skoen wil pas nie. Ek voel soos een van Aspoestertjie se grootpootsusters!

Die laaste paar dae het ek ook besonder sleg begin voel. Moeg en slaperig. Gister was my ooievaarspartytjie en ek kon my oë nie oophou nie. Ek dog dis deel van my swangerskap-niggles, maar dit was al die tyd my bloeddruk. My ma en suster het dit ook met hulle swangerskappe ervaar, en nou is dit wraggies my beurt.

Op pad by die spreekkamer uit, vroetel ek in my handsak op soek na my selfoon. Wag tot Schalk die nuus hoor. Gelukkig het ek en hy net verlede week die babakamer klaar geverf. Alles is reg vir haar koms, maar is ek en hy gereed?

“Oouu-kei,” is al wat my man kan uitkry

“Ek’s op pad hospitaal toe en gaan eers huis toe kom as ons baba gebore is. Kan jy dit glo?” blaker ek dit uit oor die foon. “Pak asseblief my tas en bring dit vanaand saam, sal jy?”

Ons lag nou nog oor die hospitaalsak wat Schalk inderhaas gaan pak het. Daar was beurtkrag by die huis in Stellenbosch dié aand, wat beteken het dat hy al voelende in die donker my klere en badkamergoed bymekaar moes kry. Toe ek my sak in die hospitaal oopmaak, is dit vol aandrokke in plaas van nagrokke! “Dit het net so sag en glad soos jou slaapklere gevoel,” probeer hy verduidelik. Gelukkig kom my ma, Heloïse, tot ons redding. Sy gaan haal die regte klere by die huis… en toe begin die groot wag.

Die Woensdag neem die dokters ’n finale besluit. Die baba moet uit, vandag nog. ’n Keisersnee is die enigste oplossing. Ons het almal gehoop dat die medikasie sou werk en ek darem tot op 36 weke sou dra, wanneer ’n baba as “voltermyn” beskou word. Maar my bloeddruk bly hemelhoog – ’n toestand wat tydens swangerskap tot orgaanversaking kan lei.

“Ek gaan haar uiteindelik ontmoet,” dink ek verwonderd. Die nuus laat my gelyktydig bang én bly voel. Gaan alles reg uitwerk? Gaan ons baba gesond wees? Gaan ék dit maak? Een ding wat ek in hierdie drie dae geleer het, is dat ons land baie goeie dokters het. Hulle werk versigtig met jou en weet presies wat hulle doen. “Alles gaan oukei wees, jy sal sien,” sê my ginekoloog en gee my hand ’n drukkie. Ek glo haar.

Sy is nie al een wat my bystaan nie. Terwyl ek na die operasiesaal gestoot word, is Schalk getrou aan my sy. Ons is al 13 jaar lank goeie vriende en bykans ’n jaar lank ’n paartjie. Teen dié tyd weet ek waar sy lojaliteite lê. En vandag is dit weer so, al weet ek hy is waarskynlik so wit soos ’n laken onder sy hospitaaljurk en masker. Hy neem braaf langs my bed stelling in. Ons al twee lag senuweeagtig toe die dokter in ’n grap sê: “As jy flou word, val agtertoe. Nie vorentoe nie.”

Die suster verduidelik ook vooraf dat ek nie my baba dadelik sal kan vashou nie. “Omdat sy prematuur is, moet ons haar dadelik by die noodsorgeenheid kry om haar te monitor,” sê sy streng. Ek begin sommer huil. Ek wag al so lank vir hierdie geboorte. Ek wil haar só graag vashou! Die dokter sien my trane en stel my gerus. “Ons sal kyk dat jy jou beurt kry. Moenie jou daaroor bekommer nie.”

Van daar af gebeur dinge vinnig. Binne minute hoor ek hoe ons piepklein dogtertjie al skreeuend die wêreld inkom. Dan voel ek hoe haar lyfie in ’n bondeltjie teen my nek neergelê word. Net vir ’n oomblik, maar dis lank genoeg. As jy dit nog nie self ervaar het nie, is dit ’n moeilike gevoel om te beskryf. In ’n oogwink het ek ’n ma geword, en ek is oorrompel deur ’n oorweldigende liefde vir ons baba. Niks kan dié gevoel oortref nie!

Toe ek in Schalk se oë kyk, weet ek hy voel dieselfde. Dis miskien vyf weke te vroeg, maar Lira Victoria is uiteindelik hier! Schalk het die name gekies en dit voel sommer reg. Dit pas by haar. Lira beteken “harp” en Victoria is ons familienaam aan my pa se kant.

Ons slaak ’n sug van verligting toe ons hoor sy is gesond en normaal, met ’n geboortemassa van 2,3 kg. Glad nie sleg vir ’n premature baba nie! Later hoor ons ook dat haar vroeë geboorte eintlik ’n bedekte seën was. Die naelstring was twee keer om haar nekkie gedraai. ’n Paar ekstra weke kon dinge ernstig gekompliseer het.

Pre-eklampsie was nie my enigste swangerskap-‘kopseer’ nie

Ek sukkel met migraine-hoofpyne al vandat ek 13 is. Dis verskriklik. Ek sê altyd die enigste probleem met migraine is dat jy nie daarvan kan doodgaan nie. Dis ’n simpel grappie, maar daar steek tog ’n bietjie waarheid in. Dis só seer dat dit voel of jy eerder wil doodgaan. Die maklikste om dit te beskryf is om jou te verbeel jou kop word in ’n draaibank vasgeskroef.

Die eerste waarskuwingstekens begin so vyftien minute voor ’n aanval. Eers raak my visie dof. As ek na my hand kyk en net vier vingers sien, weet ek die migraine is op pad. Ek sien ook snaakse beelde, iets soos silwer kolle. En dan kom die oorweldigende pyn, die naarheid en die gevoel van naalde en spelde in my mond en vingers.

In die twaalfde week het ek my eerste swangerskap-migraine gekry, en gou besef dis erger as gewoonlik. Dit was ’n sogenaamde cluster… sommer so sewe aanvalle op ’n ry. En dit hou aan vir tussen agt en twaalf ure! Ek het die binnekant van die hospitaal baie goed leer ken. ’n Swanger vrou kan nie medisyne drink nie, en dit het beteken dat ek vier keer opgeneem moes word vir spesiale behandeling. Die spanning vreet jou op en jy wonder telkens hoe lank nog.

Noudat Lira gebore is, is die intensiteit van die aanvalle nie meer so groot nie. Dankie tog! ’n Ander groot uitdaging was om Lira vir 18 dae in die hospitaal te los na die geboorte. Vra maar vir enige nuwe ma en pa – elke dag voel soos ’n leeftyd! Lira is op 10 Desember gebore en ons het só gehoop sy sou vir Kersfees huis toe kom, maar sy moes eers sonder die hulp van buisvoeding drink. Vroeggebore babas is nog te klein om gelyktydig te kan suig én sluk. Sy sou dit eers op haar eie moes regkry.

Dit het beteken dat ek en Schalk dag na dag hospitaal toe moes ry om vir ure langs haar bedjie te sit. Soms het hy met haar op sy bors aan die slaap geraak, ’n ongelooflike mooi prentjie. Ander kere het ons net saggies met haar gesels en haar lyfie met groot verlange gestreel. Elke bottel wat sy leeggedrink het, was ’n mylpaal, ’n daggie nader aan ons grootste hartsbegeerte: Lira-lief wat huis toe kom.

Ons gereelde hospitaalbesoeke was gelukkig ook ’n goeie leerskool. Ek en Schalk kon gewoond raak aan haar roetine en het die verpleegsters met valkoë dopgehou. Niks het ons ontgaan nie. So, dís hoe jy ’n doek omruil. Dís hoe sy gebad moet word. Dís hoe jy die winde uitvryf…

Ons was nogtans benoud-bly toe die groot dag kort voor Nuwejaar aanbreek. Ek moes die aand voor die tyd alleen by haar slaap en al haar voedings self behartig. Die verpleegsters wou seker maak dat ek die baba-besigheid onder die knie het. Dit het amper soos ’n eksamen gevoel! My wekker het elke drie uur gelui, want ek was so bang ek mis ’n voeding. En Schalk moes geduldig my vele selfoonoproepe beantwoord. Ek het oor alles verslag gedoen: “Sy drink nou. Sy slaap nou. Sy’t haar doek natgemaak. Sy maak oulike geluidjies.” Die volgende oggend het hy soos ’n trotse (en duidelik verligte) pa by die hospitaal opgedaag. Ma en baba kom huis toe.

Die lang wag was finaal verby!

Ons baba is nog baie klein, maar ek is baie opgewonde oor wat vir ons voorlê. Ons gesinnetjie staan op die drumpel van ’n opwindende nuwe hoofstuk, en ek glo dit gaan gevul wees met betekenis, liefde en pret. Mag ons klein Lira-lief dit ook so ervaar, en altyd weet: Ma en Pa se harte staan wawyd oop vir haar!