Genees jou siek verhouding met kos

0
65
dieet.jpg

Die antwoord vir jou konstante geveg teen kos, lê in jou geloofsbeginsels! Slaan ’n nuwe blaadjie om.

Paula staar na die slot aan die yskas. Tien jaar gelede toe sy en haar ma saam in ’n woonstel gebly het, was daar ook so ’n slot. Dit was haar ma se ekstreme maatreël om seker te maak daar is ontbyt vir hulle albei. En nou doen Paula dit weer: Eet alles waarop sy haar hande (en tande) kan lê terwyl haar gesin slaap. Haar man is tevrede met swart koffie vir ontbyt, maar die kinders weier om ingemaakte ertjies voor skool te sluk.

Sy wonder of sy maar trots mag voel dat sy self die slot aangesit het. Dit laat haar darem twee keer dink voor sy eet ... Wat het gebeur dat sy nou weer so buite beheer is? Na haar troue was haar eetgewoontes mooi binne perke. Met haar swangerskappe het sy aangehou oefen en net geëet wat goed was vir die baba. Nou is kos weer ál waaraan sy dink: yskastert, brood met kaas en konfyt, die oorskietroomys van Sondag ...

Dit gaan tog goed met haar huwelik, haar werk en die kinders. Die dae dat sy die vetste tiener in haar klas was, is lankal verby. Almal sê sy lyk goed.

Sy bid seker nie genoeg nie. Het Paulus nie ook ’n doring in die vlees gehad nie? Vlees... kos... Paula sug en kyk op haar horlosie. Dalk net genoeg tyd vir ’n vinnige inhardloop by die vulstasie se winkel vir ’n doughnut?

Nee! Sy gaan nie weer die gewig aansit wat sy verloor het nie. Tog, dis die storie van haar lewe. Hou drie weke by die voorskrifte van ’n dieet. Word mooi maer. Dan breek die damwal. Dan kan sy die drang na alles wat lekker is en vet maak, net nie meer keer nie. Paula wonder wat die vroue in haar Bybelstudiegroep sal dink as hulle weet wat sy weeg.

Terwyl sy haar motor oopsluit met die vaste voorneme om vandag nét gesond te eet, maak Paula ’n wens: dat vandag die eerste dag sal wees van ’n lewe sonder ’n obsessie met kos. Die eerste dag van ’n lewe sonder diëte, binges en maer en vet klere.

Die eerste dag wat al die boeke en uitgeskeurde tydskrifartikels se raad oor gesond eet gaan grondvat in maaltydbeplanning. Die eerste dag van glo wat die dieetkundige gesê het ’n normale gewig is vir haar ... Glo ... Dalk moet sy anders begin glo?

[pagebreak]

Vir vrede met kos, hoor wat die Waarheid is

Daar is tallose boeke oor ’n gesonde leefstyl geskryf. Net so is daar derduisende selfhelpboeke oor die issues wat vroue met hulle gewig het. Sielkundiges met jare lange ervaring met eetversteurings is tot jou beskikking in boekformaat en op die internet.

Deur al hierdie skryfwerk loop een sentrale beginsel: Wat jy eet en hoe jy eet, word bepaal deur wat jy glo. Watter Bybelse beginsels jy glo, bepaal dan ook hoe jy oor kos voel.

In die sekulêre boeke word vertel hoe vroue hulle obsessie met kos oorkom. Dit verduidelik die strategieë wat hulle gebruik om by die wortel van die probleem uit te kom en hoe hulle genesing vind. Hulle maak vrede met hulle lywe. Hoeveel te meer behoort vroue wat in die Ewige Geneesheer glo dit nie reg te kry nie?

Die waarheid in die Woord sal jou vryspreek om nooit weer jouself met ongesonde diëte te straf nie. Jou fokus sal op die regte dinge wees en nie op kos nie. Jy sal geen energie meer spandeer aan vrese oor hoe jy lyk en wat jy mag eet nie.

Ken die ware aard van jou kos-obsessie

Ooreet is nie ’n teken van ’n gebrek aan selfdissipline nie; inteendeel, ooreters het gewoonlik wonderlike selfdissipline op ander terreine van hulle lewe. Hoekom is kos die een ding waaroor hulle nie beheer het nie?

Die dieperliggende redes hiervoor kan nie net met “werk aan jou selfdissipline” opgelos word nie. Dikwels gebeur juis die teenoorgestelde wanneer jy jou eetgewoontes probeer vasvat. Die strewe na meer beheer ontaard in geen beheer en geen selfdissipline as dit by kos kom. Dit wat jy as verbode verklaar, word juis dit waaraan jy heeldag dink en voor lus is.

Jy moet ook weet daar is redes waarom party vroue vet bly ten spyte van al die druk om skraal te wees. Iets wat jy oor maer en vet wees glo, kan maak dat jy gemakliker voel met ’n paar ekstra kilo’s. Paulus praat in sy briewe aan die Efesiërs en Kolossense oor hulle denkwyses voor hulle Jesus geken het. Dit het in hulle negatiewe, sondige optrede gewys, skryf hy. Dan vra hy hulle om anders te leef omdat hulle gedagtes deur geloof verander is.

Wat jy oor vet en maer wees glo en dink, moet eers ontdek word, voordat jy kan anders doen. God se waarheid moet jou eie denkpatrone vervang. Eers dan kan jy by ’n gesonde gewig vir jou uitkom.

[pagebreak]

Aanvaar jou behoeftes en bevredig hulle op die regte manier

Baie vroue eet om emosionele behoeftes te bevredig of om emosies onder ’n kombers van kos toe te maak. Eers wanneer jy emosies as normaal beskou, kan jy aanbeweeg na ’n gelowige manier om hulle te hanteer.

God het jou gemaak met emosies – die positiewes en dié wat jou ongemaklik laat voel. In plaas van om te eet wanneer jy kwaad, hartseer of gespanne is, praat die emosies uit. Ontlaai soos die persoon wat Psalm 13 geskryf het. En hou vas aan die hoop dat jy soos hy sal kan vertel dat die Here aan jou goed gedoen het.

Jy dra die oplossing in jou eie lyf saam

Mense is nie geskep om met hulle gedagtes hulle voedselinname te reguleer nie. Jou liggaam weet presies wat om te eet, hoeveel en wanneer. Hierdie fantastiese reguleringsisteem het ’n doodgewone naam: honger.

Tog vertrou die meeste vroue nie hulle eie lyf se honger nie. Jou natuurlike honger-meganisme het die spoor byster geraak met die oorvloed kos om jou. Hierdie wantroue in jou eie natuur kan verander as jy ’n gelowige is. Selfbeheersing is immers deel van die vrug van die Gees (Gal. 5:23). Nie self-beperking deur diëte met allerlei reëls van buite af nie, maar self-beheersing van binne omdat jy ’n Gees-beheerde vrou is.

Jy kan weer leer wat die gesonde manier is om te eet as jou lyf honger is. Glo dit! Dis die begin. Vir presies hoe om dit te doen, kan jy dieetkundiges en boeke oor hierdie onderwerp raadpleeg.

Swaai jou fokus van self probeer (die ellendige diëte) na wat God vir jou kan doen. Dit vra dat jy meer en meer afhanklik van Hom sal word, dalk meer as ooit tevore. Dit sal intense Bybelstudie van jou verg. Jy sal moet selfondersoek doen ten spyte van alles in jou wat “Nee, ek wil nie” skree.

Maar dit kan die gesondste leefstyl vir jou wees, vir jou liggaam en jou siel. Dit kan die begin van die einde wees van jou obsessie met kos. Die begin van jou vryheid. Die eerste dag van ’n opwindende verkenningstog na wat ’n gesonde manier van eet regtig is.

Vertaal en verwerk uit Overcoming your battle with food deur Paula Neall Coleman.

Lees meer: 5 aanpassings sodat jy nooit weer hoef te “dieet” nie (link na 2e deel)