Geniet seks op enige ouderdom

0
850
gretha_wiid.jpg

Seks is nie iets wat ’n vervaldatum het nie. Gretha Wiid gee raad om seks op elke ouderdom te geniet.

Jou ouderdom hoef nooit die rede vir minder of minder goeie seks te wees nie. Soms kort jou lyf net ’n bietjie hulp, en soms jou kop en hart ook. Ja, namate ’n huwelik se uitdagings meer word, verg dit meer moeite en inspanning om intimiteit te behou – binne én buite die slaapkamer – maar dit is moontlik. Weet hoe jou liggaam en verhouding op sekere ouderdomme verander en wees proaktief. Elke ouderdomsfase het sy perks en pyne as dit by bedsake kom.

Slaapkamer-scenario 20’s en 30’s

As jy jonk is, kan jy die fout maak om te dink seks gaan altyd fantasties wees en dat jy altyd sexy gaan voel en lyk. As dit maar so was! Baie paartjies het op hierdie ouderdom nog die vryheid om te doen wat hulle wil, want daar is nog nie noodwendig kinders in die huis nie. Hulle kan seks hê op enige plek in die huis, hard, sag, met musiek of daarsonder – sonder enige bekommernis oor ’n kleinding wat grootoog langs die bed staan en vra wat julle doen. Die dag as die kleingoed egter hulle verskyning maak, verander ’n paartjie se seksuele landskap vir altyd.

DIE PERKS Die meeste vroue is nog redelik gemaklik met hoe hulle lyk, wat kan bydra dat jy jou man terg met wat hy sien. Omdat ’n lae libido ook nie in hierdie ouderdomsgleuf sommer ’n probleem is nie, is hierdie fase vir party vroue ’n geval van heeltyd speeltyd.

DIE PYNE Vroue is soms minder bereid om te waag en te eksperimenteer – bloot uit onkunde en vrees vir wat hulle maat gaan dink. Jy kan in dié tyd van jou lewe maklik onbeholpe en onervare voel, om nie te praat van jou eie seksuele frustrasie omdat jou maat dalk óók onervare en te haastig is nie. Baie vroue sukkel nog in hierdie fase om hulle eie manier en plek van bevrediging te ontdek. En as die kindertjies eers daar is, verruil vroue soms hulle lover-hoedjie vir ’n mother-hoedjie.

Klein kindertjies wat by mamma-hulle slaap, beteken dat die seks skielik stil, sag en goed beplan moet wees. Dié dinge veroorsaak maklik konflik tussen die nuwe ma en pa, en kan later nogal sy tol eis van ’n paartjie se sekslewe én huwelik. Veranderde hormone en gewig na swangerskap maak vroue ook dikwels selfbewus, iets wat jou kan laat wegskram van seks.

Slaapkamer-scenario 40’s

En dan kom die bevrydende naughty forties! Jy is gevestig in jou ma-wees; jou kinders is ’n bietjie ouer en uit die kamer uit, wat beteken dat pajamadril ook op ’n einde is. Met hierdie heerlike vryheid en ervaring kom daar ook meer vrymoedigheid in die slaapkamer.

DIE PERKS Vroue in hulle 40’s is baie meer selfversekerd, want hulle is minder gepla oor wat mense van hulle dink. Hierdie wonderlike gevoel van bevryding spoel gewoonlik spontaan oor na die slaapkamer. Jy kan jou man se droomvrou wees wat leiding neem, eksperimenteer en sê wat jy wil hê!

DIE PYNE Baie vroue in hierdie fase kla dat hulle warmer is as hulle maats, met mans wat nie altyd in die bui is vir seks nie, iets wat baie vroue verstoot en gefrustreerd laat voel. Wat die lyf betref, kan sommige vroue in dié tyd effense vaginale droogheid begin ervaar, maar met goeie smeermiddels op die 40+ seksspyskaart hoef jou sekslewe nie op te droog nie. Vir vroue wat ’n vroeë menopouse beleef, kan gemoedskommelings ’n effense pyn wees wat jou sekslewe emosioneel negatief kan beïnvloed.

Slaapkamer-scenario 50’s

Vroue in hulle 50’s vandag is nog baie hip and happening: I’ve been there, I’ve done that. I know exactly what I want. Maar soms is die enigste “hot-geit” vir vroue in hulle 50’s hulle warm gloede…

DIE PERKS Omdat jy weet wat jy wil hê en dit sê, behoort seks op hierdie ouderdom vir jou en jou man regtig vervullend te wees. Tyd is aan julle kant; daar is geen kinders wat klop, geen mense wat julle aanjaag nie… dit klink hemels! Jy is dalk grys, maar wys, met tonne ervaring!

DIE PYNE Met jou estrogeenvlak wat daal, is vaginale droogheid ’n ernstige pyn. Voorspel en ’n geduldige maat raak al hoe belangriker. Jy het dalk nie meer die behoefte om jou man met passie plat te duik nie, maar dis baie belangrik om ’n aktiewe besluit te neem om seks te hê, al is julle nie lus nie. Onthou, die kwaliteit van julle verhouding gaan ’n baie sterk bepaler wees of julle goeie seks gaan hê of nie.

Die uitdaging

Daar is nie iets soos ’n sexpiration date nie. Met gesondheid en hulpmiddels (of dit nou in die vorm van ’n pilletjie of smeermiddels is), genoegsame voorspel en ’n intieme hartsverhouding, is gesonde seks moontlik tot op ’n hoë ouderdom.

Gesonde seks is meer as net twee lywe – dis hart, gees en ’n goeie dosis van ’n gesonde kop, ongeag hoe oud die kop is (ouderdom tel in elk geval net as jy ’n kaas is). Ja, jou borste wat eens soos torings was, het dalk plek gemaak vir die hangende tuine van Babilon. Maar jy kan great seks hê – ongeag jou torings of tuin!

Geskryf deur Gretha Wiid