Gerookte hoender-en-Waldorfslaai

0
287
waldorf_slaai.jpg

Moeg vir die gewone ou slaai? Kikker jou bord op met iets nuuts, heerlik en boonop baie gesond.

Genoeg vir 4
Tyd: 20 minute

BESTANDDELE
15 ml olie
110 g strooisuiker
100 g okkerneute
60 g macadamia-neute
sap van 1 lemoen
4 Granny Smith-appels
100 g slaaiblare
200 g gerookte hoenderfilette, in skywe gesny
2 selderystingels, in skywe gesny
½ rooi-ui, in dun skyfies gesny

Slaaisous
1 knoffelhuisie
5 ml Dijon-mosterd
15 ml dragonasyn
5 ml heuning
45 ml vars basilieblare
60 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak

METODE
1 Smeer ’n bakplaat liggies met olie en hou eenkant.
2 Verhit die suiker in ’n swaarboombraaipan en swaai die pan liggies tot die suiker karamelliseer en ’n goue kleur kry. Voeg die neute by en swaai om te bedek. Giet die kokende neutmengsel oor die geoliede bakplaat en laat staan om af te koel. Breek in stukkies as dit afgekoel het.
3 Vul ’n nie-metaalbak met water en voeg die lemoensap by. Sny die basis van elke appel af sodat dit maklik kan staan. Sny die appels dan in dun ronde skyfies en hou dit regop in die aangesuurde water.
4 Rangskik die slaaiblare op ’n bord en plaas die hoender, seldery, uie, appeltorinkies en gekaramelliseerde neute bo-op.
5 Vir die slaaisous: Gebruik ’n stamper en vysel en maak die knoffel, mosterd, asyn en heuning fyn tot ’n gladde pasta. Voeg die basilieblare by en maak fyn tot ’n moes. Voeg die olie geleidelik by en hou aan meng. Geur.
6 Drup die slaaisous oor die slaai en sit dadelik voor.

Deur Lyn Woodward. Foto’s: Graeme Wyllie