Geroosterde perskes en parmaham met ’n romerige rissiesous

0
199
perske.jpg

’n Voorgereg van formaat! Hierdie geroosterde perskes en parmaham, met ’n romerige rissiesous, is ideaal.

Genoeg vir 12
Tyd: 20 minute

BESTANDDELE
Perskes
12 dun snye Parmaham
2-3 perskes, in 12 wiggies gesny
12 klein vars salieblare
varsgemaalde swartpeper, na smaak

Romerige rissiesous
150 g roomkaas, teen kamertemperatuur
80 ml room
30 ml soet rissiesous
Tabasco-sous, na smaak

METODE
1 Stel die oond op 200 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
2 Plaas die snye Parmaham op ’n kapbord. Plaas ’n perskewiggie en ’n salieblaar op die kant van die vleis. Geur liggies met swartpeper en rol styf op. Plaas op die bakplaat en rooster tot die perskes sag en die ham bros is, ongeveer 8-10 minute.
3 Vir die rissiesous: Plaas die roomkaas, room en soet rissiesous in ’n menger en blits tot glad. Voeg ’n paar druppels Tabasco-sous na smaak by. Verdun dit met ’n paar druppels melk indien nodig.
4 Sit die perskes voor met die rissiesous in ’n aparte bakkie.

Artikel: Illanique van Aswegen
Foto’s: Adel Ferreira bygestaan deur Jömeri Mouton