Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is…

Hierdie versie kom keer op keer terug wanneer ek my Bybel oopmaak. Dis Jesus se vertrekpunt toe Hy die menigte mense begin leer.

Terwyl 2017 se uurglas vinnig besig is om leeg te loop besef ek meer en meer hoe waar hierdie vers is. Op ‘n manier is mens amper bly dat die jaar tot n einde kom. In baie opsigte was dit ‘n moeilike jaar. Polities onstabiel, ekonomies swaar, damme wat leeg bly en baie stories van swaarkry.

So graag soos wat mens egter uit 2017 se bootjie wil klim, so onseker voel 2018 se bootjie. Die pessimis verklaar dat niks beter gaan wees nie. Die optimis glo dat dit nie slegter kan wees nie en die realis is amper te versigtig om n voorspelling te waag.

Tog het ons nie n keuse nie.

Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Ja Here, wat ‘n voorreg om met hierdie woorde te vertrek. Alles wat ons is, wat ons het en wat rondom ons gebeur bring ons in afhanklikheid terug na U.

“Gelukkig is die mense wat weet hoe nodig hulle God het, want hulle het deel aan Sy koninkryk” NLV Mattheus 5:3