Gesonde raad om hardlywigheid te stop

0
804
Hardlywigheid.jpg

Hardlywigheid hoef nie jou lewenslus te demp nie. Hier is 3 kenners se raad om meer “gereeld” te wees.

Probeer ’n lakseermiddel onder jou dokter se toesig

Dit is nie vreemd om ’n verandering in jou stoelgang te sien as jy siek was en antibiotika gebruik het of as jy baie stres beleef nie. In daardie geval sal die simptome verdwyn, veral as jy meer water drink en vesel soos hawermout en groente inneem. As die simptome egter langer aanhou, is lakseermiddels dalk die oplossing.

Daar is ’n groot verskeidenheid lakseermiddels wat jy oor die toonbank kan koop. Die gewildste is dié wat oplosbare vesel bevat, wat water absorbeer en die derm van enige opgehoopte stoelgang ledig. Dosisse kan aangepas word op grond van hoe gereeld jou stoelgang is.

In sekere gevalle kan ’n enkele dosis van ’n kragtiger osmotiese lakseermiddel (wat die ingewande stimuleer om oormatige vloeistof in die liggaam te behou), soos Phillips se Milk of Magnesia, gebruik word om dinge aan die gang te kry.

Moet nooit lakseermiddels langer as ’n paar dae gebruik nie – dit kan jou liggaam immuun maak teen die effek en die toestand vererger. Jy loop ook die risiko om afhanklik daarvan te raak. Om veilig te wees, stel ek voor dat jy jou dokter besoek om die regte middel te kry om jou simptome te behandel.
Dr. V.G. Naidoo, namens die Suid-Afrikaanse gastroënterologievereniging

Eet meer vesel om jou simptome te verlig

Jou dieet speel ’n belangrike rol in die funksionering van jou spysverteringstelsel. As jy te min vesel inneem en nie genoeg water drink nie, staan jy ’n groot kans om hardlywig te word.

Om hierdie probleem op te los, gaan beteken dat jy ’n paar veranderings aan jou leefstyl moet maak. Begin jou dag met ’n bakkie volgraanontbytkos (byvoorbeeld All-Bran of hawermout) om sodoende meer vesel by jou dieet in te sluit. Vrugte en groente is ook hoog in vesel, asook bruinrys, neute en sade. Wees egter versigtig om nie opeens hope vesel in te neem nie, aangesien dit jou maag kan laat opswel en maagpyn kan veroorsaak.

Water saam met vesel is van die uiterste belang. Drink ongeveer agt glase water per dag om krampe te voorkom. Dit sal ook die stoelgang versag omdat vesel water absorbeer en help dat jy meer gereeld is. Laastens moet jy kafeïen en alkohol vermy. Beide kan jou laat ontwater en hardlywigheid vererger.
Lila Bruk, dieetkundige

Gebruik ’n middel wat probiotika bevat

Jou spysverteringstelsel is die sleutel tot goeie gesondheid; daarom is dit belangrik om na die gesondheid van jou dikderm om te sien. Hardlywigheid is dikwels ’n chroniese toestand wat jy op ’n daaglikse basis moet beheer. Daar is ongelukkig geen wonderkuur daarvoor nie.

Probiotika speel ’n rol in die funksionering van jou ingewande deur onder meer skadelike mikroörganismes onder beheer te hou. ’n Middel wat probiotika bevat, kan jou dus help met hardlywigheid.

Ek stel voor jy gebruik easiHEALTH COLON as ’n daaglikse aanvulling. Dié kapsules verskaf probiotika gekombineer met prebiotika, die omhulsel van psillium-sade en pepermentblaarpoeier. Die aanvulling kan spysvertering verbeter, en hardlywigheid, krampe en opgeblasenheid verlig. Die probiotika in die kapsules is die sogenaamde “goeie” bakterieë wat “slegte” bakterieë vernietig en ’n gesonde spysverteringstelsel bevorder. Die psillium is ’n bron van vesel, wat spysvertering verbeter. Peperment kalmeer krampende maagspiere en verlig die gevoel van opgeblasenheid wat dikwels met hardlywigheid gepaardgaan.
Craig MacKenzie, bemarkingsbestuurder: easiHEALTH