Gesondheid begin in jou kop

0
1527

Die aktrise en dramaturg Nicola Hanekom (43) werk hard, maar ná besige tye trek sy terug in ’n kokon om weer haar krag op te bou.

Werk brand my uit, al het ek baie uithouvermoë

Ek is soms geneig om te veel en te intens te werk, en dít maak my moeg. Verlede jaar was daar ’n stadium dat ek eers vir ’n fliek voorberei het en dit toe ook verfilm het. Vir ’n tydperk van ses weke het ek letterlik elke dag gemiddeld 16 uur gewerk. Dit was uitputtend, maar die moeite werd as ’n mens lief is vir wat jy doen.

Dit gaan gelukkig nie altyd so dol nie, maar dikwels, veral as ek aan my eie projekte werk, kan dit besonder wild gaan. Dan is ’n mens persoonlik betrokke by die werk. Jy wil jou beste lewer, en vergeet soms van jou liggaam se behoeftes.

Dit gebeur dikwels dat ek so vasbeslote is om deur te druk met wat ek wil bereik, dat ek my lyf se noodkrete onderdruk. Iewers het ek wel die vermoë gekry om lank aan te hou, langer as almal om my. Gewoonlik luister ek egter eers na my lyf as dit wat ek wou doen, klaar is.

Tekens dat my lyf aandag nodig het

My liggaam se tekens dat dit tyd is om na myself om te sien is meestal dieselfde: Ek is tam en lusteloos, en ’n paar kilogram ligter van al die stres en min eet weens die besige program. Dan is my grootste behoefte om vir ’n wyle net te slaap en gesonde, voedsame kos te eet.

Tyd alleen saam met my man help my herstel en my krag weer opbou. Ons huis word ’n kokon waarin daar feitlik net geslaap en gelees word. Op ons plaas in die Klein-Karoo is die herstel die beste, want dis doodstil en ’n mens kan in die wonderlike natuur gaan stap en die vars lug inasem.

Kerrie met lekker baie groente is my gunstelingkos om te herstel. Ons eet baie rou knoffel en gemmer. Dit help jou lyf om van onderliggende virusse of kieme ontslae te raak. Die knoffel is ook goed vir jou hart en bevat selfs heelwat vitamien C, wat ideaal is vir ’n gestel wat ’n hupstoot kort.

Ons geniet ook gereeld ’n glasie rooiwyn – dis ontspannend en boonop mos goed vir ’n mens?

’n Gesonde verstand vir ’n gesonde lyf

My beste raad vir ’n gesonde lewe is om jou verstand gesond te hou. Positiewe denke en ’n positiewe lewensuitkyk hou direk verband met ’n mens se gesondheid, veral jou maag. My maag raak baie geïrriteerd as ek gespanne is. Dit kan vreeslik pyn. Jou maag laat jou soms weet as jy moet aandag gee aan jou kop. Meestal is dit weens te min stilte en tyd vir ontspanning.

Begin dus in jou kop en werk van daar af ondertoe. Beweeg ook gereeld. Ek en my man oefen dikwels saam. Oefening soos stap is goed vir multitasking, soos om woorde te leer. Ek het al heelwat rolle so ingestudeer.

Eet soveel spinasie as wat jy kan. Dit bevat yster en is ook goed vir die spysvertering. Drink genoeg water en wees rustig. Ek lees feitlik elke aand voor ek gaan slaap, al is ek hóé besig. Dit help om ’n mens se aandag van die werk af te lei en op iets heeltemal anders te konsentreer.

Saans drup ek laventelolie soos Soil se aromaterapie-olie (R64,95 by Dis-Chem) op my kussing vir ’n salige nagrus.