Getroudwees is werk, bid en glo

0
27
getroud.png

Na 32 jaar van getroude lewe, kan ek een ding sonder twyfel sê: die uithou en aanhou is dit werd!

32 jaar? Regtig? Dit is wat mense gewoonlik sê. En dadelik bylas: “Jy is voorwaar een van die gelukkiges.” En heel waarskynlik in hulle binneste verder dink: Dis nou van so ’n huwelik wat ek gedroom het voordat ek getroud is.

Deur al die drama en trane is daar God

Jy wat dit dink, ek sou jou so graag aan die hand wou neem om deur hierdie twee-en-dertig jaar saam met my te stap. Daar was baie dae wat ek omgehuil het omdat ’n man en ’n vrou so verskillend is. Omdat ’n man jou soms soos ’n meubelstuk laat voel, omdat hy in ’n chauvinistiese milieu grootgeword het waar alles vir hom gedoen is. Omdat ’n man nie kan sien as die dag vir jou blouer as blou is nie. Omdat jy ’n buffer moes wees tussen ’n eiesinnige, hardkoppige man en tienerkinders wat ontwaak en nie voorgesê wil word hoe hulle dink nie.

Daar was baie dae dat ek wou wegloop oor familiedramas, finansiële dramas, kop-bo-water-hou-dramas.

Daar was dae dat ek op seksuele gebied soos ys was omdat my gevoelens geïgnoreer is, dae dat ek ver van die Here gevoel het omdat ek emosioneel verwaarloos is.

Maar daar was God. Daar is God. En daar sal altyd ’n God wees. Hy het my trane gesien. Hy het my hart geken. Hy het my man se hart geken. Hy het ons albei se behoeftes geken.

En elke keer – ek kan nie verduidelik hoe dit werk nie, want ek weet nie – het Hy ons gehelp om mekaar te vergewe, om voort te gaan. Hy het ons oë oopgemaak vir mekaar. Ons kon die onvolmaaktheid in mekaar begin aanvaar. Ons kon vir mekaar ruimte gee om te wees wie ons is. Later het frustrasie met mekaar minder op konflik uitgeloop. Ons kon vir mekaar lag oor goed wat eers rusies veroorsaak het. Ons het geleer dat ’n mens in jouself gelukkig en tevrede moet wees anders kan jy nie ’n gelukkige huwelik hê nie. Jou maat kan jou nie gelukkig maak nie. Ons het geleer dat ons baie meer as sewentig maal sewe keer moet vergewe en vergeet.

Saamwees kom deur aanvaarding en getrouheid

Wanneer ons saans in die bed klim en ons voete haak rustig oormekaar sonder dat die bloed in ons koppe begin bruis, dan is ons tevrede. Die passie en vuur van jonkwees was goed, maar die aanvaarding en getrouheid in die ouderdom is net so goed. Ons kry saam plooie op ons ore, ons raak saam doof, ons snork saam.

Saam blink ons oë van dankbaarheid as ons saam met kinders en kleinkinders die lewe geniet. Saam verwonder ons ons daaraan dat die passie ons wel nog kan oorval.

Blatante eerlikheid is nou deel van ons daaglikse bestaan:
Vrou: “Jy moet jou tande borsel, jy ruik na knoffel.”
Man: “Lyk my dis daardie tyd van die maand, wil jy nie maar liewer vir jou iets gaan koop dat jy onder my voete kan uitkom nie.” En dan gaan jy dorp toe en jy koop iets moois en dan maak jy daardie aand vir hom sy dis waarvan hy hou.
Daar was tye dat ek gewonder het hoekom ek ooit getrou het, want ek voel dan so eensaam. Daar was tye dat ek alleen na plekke moes weggaan en dan het ek dankbaar uitgesien om terug te kom na my huis waar my man wag.

Altyd, maar altyd is daar die wonder van God se genade. Hy het gehelp dat ons ten spyte van versoekings getrou gebly het aan mekaar. Hy het ons onvolmaakte gebede gehoor wanneer ons in goeie tye saamgebid en as gesin huisgodsdiens gehou het. Hy het die kere dat ons mekaar se nekke wou omdraai, gehelp dat ons dit nie regtig gedoen het nie.

Wat al hierdie jare my geleer het

As ek terugkyk, weet ek dat God wel by huwelike betrokke is. Hy het my kom wys dat daar net een volmaakte Bruidegom is, dit is Jesus Christus. Dit help om in die moeilike tye van jou huwelik op die volmaakte Bruidegom te fokus, sy lieflikheid te bedink en te weet dat jy as sy kind eendag by die bruilofsmaal sal aansit. Dit maak dat ’n mens ten spyte van die harde werklikheid van ’n ongenaakbare lewe kan bly droom oor die volmaakte liefdesverhouding.

Ek weet dat dit spesiaal is as ’n mens meer as dertig jaar getroud kan wees. Ek weet dat dit genade is, dat ek as mens niks uit my eie kan doen om dit te verdien nie.

Daarom wil ek jonggetroudes aanmoedig om in ’n intieme verhouding met God te leef, want ek weet nie hoe mens se huwelik dit kan oorleef sonder God nie. Daar is net te veel dinge wat menseverhoudings wil verwoes.

Dit wil ek graag vir jou sê, vriendin

As jou huweliksmaat ontrou is, dan dink ek dit is moeilik om getroud te bly, want vertroue en respek is twee aspekte van ’n huwelik wat ononderhandelbaar is. Ek ken egter mense wat ’n huwelik kon voortsit ten spyte van ontrouheid. Dit is genade.

Maar as julle albei gelowiges is en mekaar net soms moeg maak, hartseer maak, gedaan maak, hou net aan. Daar sal ’n dag kom dat julle verhouding begin sinchroniseer, ’n dag dat dit makliker gaan raak. En dan is die volharding die moeite werd. Want om saam oud te word is om ’n moeilike wedloop enduit te hardloop. Die prys is die moeite werd: gesinslede wat geleer het om nie op te gee as alles nie honderd persent is nie, wat geleer het om bymekaar te staan ten spyte van die eise van die lewe, ’n man en vrou wat van mekaar se lewe rekenskap kan gee.