Gevaarlik: hoë hakke en jou jeans

0
17
lyf_1.jpg

Vrouens wil mooi wees, tog kan jou skoonheid ’n uitwerking op jou gesondheid hê en selfs dodelik wees.

Chroniese rug- en hoofpyn? Klim af van jou hakke

Daar is ’n rede waarom jy nie kan wag om jou hoë polvye uit te skop na ’n dag se werk nie. Die gemiddelde persoon stap sowat 8 000 treë op ’n dag. Met elke tree tref jou hak die grond teen dubbel of drie maal jou liggaamsmassa. ’n Gemiddelde paar skoene met ’n hak van ongeveer sewe sentimeter kan die druk op jou voet se bal met tot 76 persent verhoog.

’n Australiese studie het bevind dat vroue wat gereeld hoë hakke dra, gesondheidsprobleme kan opdoen. En moenie dink dit kom treiter jou eers as jy oud is nie – navorsers het permanente skade by vroue so jonk as 25 jaar opgemerk.

Volgens die studie loop vroue met ’n voorliefde vir hoogte die risiko om permanente skade aan hulle knieë, heupe, rug en voetgewrigte aan te rig. Hoëhakskoene gooi jou gewig vorentoe, wat jou laat voel asof jy wil omval. Dit dwing die boonste deel van jou lyf om agtertoe te leun om dit te voorkom.

Die gevolg is ’n kettingreaksie – jou heupe dwing jou bekken vorentoe, wat jou rug in ’n boogvorm indwing en later rugpyn veroorsaak. Dít lei weer tot nekpyn, stywe skouers, seer enkels en knieë en selfs hoofpyn.

As jy graag hoëhakskoene wil dra, kies die regte geleenthede. Jy kan met daardie Jimmy Choo’s by ’n partytjie of belangrike sakevergadering spog, maar hou ’n paar deftige balletskoene in jou handsak of lessenaar. As jou voete teen die einde van die aand smeek om genade, sal jy dankbaar wees.

Onwettige dieetpille is nooit ’n goeie idee nie

Dis twee weke voor jou hoërskoolreünie. Die dieet wat jy gevolg het, het nie die resultate gelewer waarop jy gehoop het nie en dis nou tyd vir drastiese stappe. Gelukkig ken jou vriendin iemand wat ’n pakkie dieetpille sonder ’n voorskrif vir jou kan organiseer. Of miskien verwys iemand jou na ’n Chinese webtuiste wat dieetpille vir jou kan koerier sonder om vrae te vra.

Hokaai! Jy oortree nie net die wet nie, maar jou strewe na ’n kleiner rokgrootte kan ernstige gevaar vir jou gesondheid inhou. Dieetpille wat efedrien bevat, is in 2008 tot voorskrifmedisyne verklaar, en met goeie rede. Dié pille is hoogs verslawend en word boonop deur dwelmhandelaars gebruik om tik te vervaardig.

Om voorskrifmedisyne oor die internet te bestel, is presies dieselfde as om dwelms om die straathoek te koop. Die medisyne word nie deur ’n beheerraad gereguleer nie en niemand kan daarvoor aanspreeklik gehou word as dit jou siek maak nie.

Ten beste gaan die pille nie die aktiewe bestanddeel bevat nie en sal jy jou geld gemors het. En die ergste? Die pille bevat gevaarlike, onwettige stowwe wat jou dood kan veroorsaak.

Lees ook: Die Tim Noakes dieet – goed of sleg?

Sooibrand en sproei? Blameer jou kleefdenims

Jy mag dalk dink jou Bridget Jones-broekie of jou paar kleefdenims is die beste modebeleggings wat jy kon maak. Die waarheid is dat stywe klere wat jou beweging en asemhaling inperk, ’n nadelige invloed op jou gesondheid kan hê.

Die probleem ontstaan wanneer jy klere dra wat jou lyf in ’n onnatuurlike vorm druk. Daardie stywe broekie mag miskien jou lyf van ’n nommer 12 tot ’n 10 saampers, maar jy betaal daarvoor. Die ekstra druk op jou maag kan lei tot maagpyn, winderigheid en sooibrand.

Volgens dr. Orly Avitzur, ’n mediese dokter en verbruikerspesialis, is dit ’n algemene probleem onder vroue wat vormdrag dra of hulle lyf in stywe klere indwing. “Wanneer jy uitermatige druk op jou maag plaas, kan jou kos nie ordentlik verteer nie. Dit is veral sleg vir mense wat met chroniese sooibrand sukkel.”

Kleefdenims en stywe vormdrag word dikwels ook van sintetiese stowwe soos lycra, nylon en spandex vervaardig. Dié materiaal verhoed die sirkulasie van lug en skep ’n klam, sweterige omgewing waar swaminfeksies soos candida en sproei kan floreer. As jy met sproei sukkel, dra liewer sagte, vloeiende klere van natuurlike stowwe soos katoen en linne.

Bang vir kanker? Bly weg van die sonbed

Met lente net om die draai is die versoeking groot om ’n paar sessies onder ’n sonbed in te werk. Jy gaan immers binnekort weer kortbroeke en rokke dra en wil nie mense met jou wit wintersbene verblind nie.

Los die sonbed en kry jou eerder sonbruin kleur uit ’n bottel. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie bestaan daar ’n direkte verband tussen sonbeddens en die risiko om velkanker op te doen.

Daar is beduidende resultate dat die tipe UV-strale van ’n sonbed, wat ’n hoër golflengte het as dié van die son, jou vel dieper indring en meer skade as sonlig aanrig. ’n Skandinawiese studie het ook bevind dat vroue wat gereeld sonbeddens gebruik, ’n hoër voorkoms van kwaadaardige melanoom (die dodelikste tipe velkanker) het.

Volgens dr. Peter Boyle, direkteur van die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing, loop veral tieners en jong mense die grootste risiko om kwaadaardige melanoom op die sonbeddens op te doen. Vroue wat in hulle tiener- en vroeë twintigerjare van sonbeddens gebruik gemaak het, het ’n reusagtige 75 persent groter kans om velkanker te kry.

Daar is geen navorsing wat bewys dat die UV-strale van ’n sonbed veiliger is as die son nie. Die enigste veilige sonbruin kom uit ’n botteltjie. Liewers geel as dood!

Lees meer: Die waarheid oor kosmetiese foefies