“Gister se seerkry is nie wie ek is nie”

0
2965

Rhona Erasmus neem elke dag doelbewus ’n besluit om dankbaar te leef. Tog was daar tye dat ’n negatiewe lewensuitkyk haar geluk gesteel het.

Ons word gebombardeer met onrealistiese idees oor hoe die perfekte vrou, ma en vriendin moet lyk. ’n Mens voel dan maklik jy skiet ver te kort.

My reis na selfaanvaarding het met ’n paar skoene begin. Nie die ontwerperstipe wat ek as Mev. Suid-Afrika-finalis gedra het nie, maar ’n paar swart skoolskoene.

Ek was ’n opgeruimde kaalvoetkind in ’n nuwe skool toe die eerste boeliewoorde my onkant betrap. In my tuisdorp het ons nie skoene skool toe gedra nie. My identiteit was nie deur duur klere bepaal nie.

Skielik was die kollig om al die verkeerde redes op my. As buitestander. Die een op wie almal pik. Dan vra ’n mens jou af: “Hoekom is ek nie genoeg nie? Hoe kan ek myself aanvaar as ander my verstoot?” So word my vertwyfeling ’n broeiplek vir ’n jarelange stryd teen negatiwiteit.

’n Mens moet eers gemaklik met jouself wees voor jy jou lewenspad met oorgawe kan aanpak. Dat ek vandag kan sê dat ek maer is of ’n mooi voorkoms het, het harde werk gekos. Daar is nie kortpaaie nie.

Hoe het jou swak selfbeeld jou grootste vyand geword?

Jare lank het ek my pakkie gevoelens van minderwaardigheid saamgesleep. Ek was oorgewig en ongelukkig.

Dit was beter om in die skare te verdwyn as om geboelie te word. Ek wou nie uitstaan of uitblink nie. Middelmatig wees was goed genoeg. As daar nie ’n verwagting is nie, kan jy nie seerkry nie.

Daardie liefdevolle, dankbare dogtertjie het in dié proses negatiewe beskermingsmeganismes opgebou. My woorde het ander begin afbreek. Dit was beter om mense seer te maak voor hulle my seermaak.

Tog was daar steeds ’n diep begeerte om uit te blink en aanvaar te word. My leierseienskappe en sprankeling was nog steeds daar, al was dit ver weggebêre.

Hoe het negatiewe gedagtes Sy stem gedemp?

Die ergste verlies is as jy jou lewensdoel verloor. As jy rigtingloos op moedverloor se vlakte sit sonder enige vooruitsigte vir die toekoms.

Negatiewe gedagtes kan maklik ’n gewoonte raak. As dit eers vastrapplek gekry het, is dit moeilik om weer los te kom. Soms was my omstandighede ’n net waaruit ek nie kon wegbreek nie. Ek het geworstel en gerebelleer. Vrae gevra.

Dit was gewoonlik in die tye dat ek nie ’n pad met die Here gestap het nie. Ek het Hom verkwalik vir dit wat nie in my lewe uitgewerk het nie. Getwyfel of Hy omgee.

Hoe verder ek van Hom af weggedryf het, hoe minder het ek gebid. Dis juis hierdie stiltes wat die meeste skade aangerig het. Ek het my eie kop gevolg en moes die gevolge dra.

Waarheen het jou soeke na vervulling gelei?

Geen verhouding kan werk as ’n mens nie jouself aanvaar vir wie jy is nie. As daar ’n leemte in jou lewe is, soek jy liefde en troos op die verkeerde plekke.

My eerste huwelik was ’n teleurstelling. Ek het van my man verwag om my gelukkig te maak. Hy moes my vervul soos net die Here kan. Wie kan aan so ’n onmoontlike verwagting voldoen?

Die ontnugtering en pyn van my egskeiding was ’n keerpunt. Dit was ’n keuse om op te staan en te veg teen alles wat my keer op keer in ’n donker gat aftrek.

As ek terugkyk, besef ek dis ’n bedekte seën dat ons so kort getroud was. Ek was nog jonk en kon betreklik onaangetas aangaan met my lewe.

Waar het jy ’n positiewe kopskuif gemaak?

Selfondersoek deur terapie het my perspektief gegee. Die eerste stap op my genesingspad was om verantwoordelikheid te aanvaar en te vergewe.

Om hulp te soek is nie ’n teken van swakheid nie, inteendeel, ek sien nog gereeld ’n lewensafrigter met wie ek openhartig gesels. Ons bespreek probleme en beraam planne.

Tog is dit net ’n deel van die prentjie. Jy kan oefen dat die sweet spat en praat tot jy nie meer ’n stem het nie. Geen kruk help as jy nie aan God kan of wil vashou nie.

My geestelike genesing het begin toe ek weer met erns begin bid het. ’n Mens moet herfokus op Hom. Nou deel ek al my emosies met Hom – ook as ek kwaad is. Dis juis die moeilike gesprekke wat jou geloofsverhouding versterk.

Kan wilskrag ’n negatiewe kringloop verbreek?

Dít het ek eerstehands beleef. Ons familie het ’n probleem met middelafhanklikheid, maar dit omskryf ons nie as mense nie.

Toe ek ’n kind was, was ’n nabye familielid aan alkohol verslaaf. Ek kon die probleem nie heeltemal identifiseer nie, maar het instinktief geweet dat alles nie heeltemal reg was nie.

Later het die verslawingsmonster weer kop uitgesteek, dié keer toe nog ’n familielid aan dwelms verslaaf geraak het. Dis hartseer as iemand wat jy liefhet met afhanklikheid worstel.

Negatiwiteit is ongelukkig aansteeklik. Baiekeer vorm gebeure ’n kringloop waaruit ’n mens sukkel om weg te breek. Tog is dit nie onmoontlik nie. Beide my familielede is ten volle gerehabiliteer. Só het hulle die siklus wat al vir generasies duur, verbreek.

Vergeet ons soms dat genesing ’n proses is?

Volkome genesing is nie noodwendig ’n grand gesture nie. Daar het baie dinge gebeur wat my geloof getoets en versterk het.

Mettertyd het ek besef dat my gees ligter was. My gevoelens van minderwaardigheid omdat ek op skool geboelie is en op ’n jong ouderdom geskei is, het verdwyn. Die Here het stil-stil alles weggestroop wat my afgetrek en afgetakel het.

Gister se seerkry is nie meer deel van wie ek is nie. Ek kan soms nie eers slegte gebeurtenisse in my verlede onthou nie.

Vir my was volkome genesing die begin van my nuwe lewenspad. Hy neem nooit iets weg sonder om dit met iets beters te vervang nie; daarom leef ek elke dag met absolute dankbaarheid.

Hoe het jy jou ware identiteit gevind?

My lewe het verander toe ek geleer het om myself deur God se oë te sien. Nou aanvaar ek myself. Dis ’n sprankeling wat net Hy jou kan gee.

Eksterne of materiële dinge het niks met geluk of sukses te make nie. Dis iets wat van binne af kom, ongeag jou omstandighede.

’n Suksesvolle persoon is iemand wat sy doel in die lewe uitleef. Iemand wat ’n nou pad saam met die Here stap.

My man, Wikus, is so ’n persoon. Hy is alles waarvoor ek gebid het. ’n Sterk leier, ’n wonderlike pa en ’n diep gelowige mens. Ons vul mekaar aan in ons reis saam met die Here. By hom kan ek my skoene uitskop en net wees.

Is dankbaarheid ’n daaglikse besluit of ’n leefstyl?

Dis ’n ingesteldheid wat mens kan aanleer. Dit begin deur elke dag net drie dinge raak te sien wat jou hart met blydskap vul. Hoe meer jy dit doen, hoe minder sien jy die negatiewe raak.

Niemand is perfek nie. Ek hou nooit op om met die Here te praat nie. Daar is ’n absolute fokus op dit wat Hy vir my gee, nie op die negatiewe nie. Daarom is ’n groot deel van my dankbaarheidsreis om met oorgawe terug te gee.

Hy gebruik my liefde en passie vir kinders om elke dag ’n verskil te maak. Vir my is dit nie ’n werk nie, dis ’n roeping. Of dit nou deur Pienkvoetpret of my babahuis is, my leuse is #beablessing.

Wat beteken hoop vir die toekoms vir jou?

Niemand spring hartseer vry nie. Daar was ’n doel met alles, al het ons nie verstaan wat dit was nie. Niks berei jou voor vir ’n miskraam nie. ’n Mens dink nooit dat so iets met jou sal gebeur nie.

Kort daarna het ek weer swanger geraak met Wikus, ’n pragtige, gesonde seuntjie. Nou gee twee lewendige seuntjies selfs meer betekenis aan my dankbaarheidsreis.