God bo-aan my trefferparade

Ek het ’n groot kys op universiteit gehad. Sy was ’n wonderlike meisie en ek was mal oor haar. My trouvrou.

Maar toe sy begin werk, was ek nog ’n student. Dit het ekstra spanning op ons verhouding geplaas, want ’n student stap anders deur die lewe as ’n werkende mens. So het dit dan gekom dat ons vakansies uitgegaan het, maar sodra die kwartaal weer begin het, het sy ’n stopbordjie voor ons verhouding gesit. Vandag kan ek verstaan hoekom dit so gebeur het, want die gaping tussen student en werkende jongmens was net te groot. Maar na ’n jaar of wat van so aan en af sê my broer ek moet nou finaal die ding stop, want dit is nie eintlik bevorderlik vir enige van die partye nie. Dit was vir my traumaties, want sy was die middelpunt van my lewe.

Ek onthou nog hoe ek een Sondag, seker so 2 maande nadat ek my gedwonge vryheid ontvang het, gaan stil word het en daar ’n prentjie by my opgekom het, want sien, ek was nog aan die worstel hoekom die dinge dan nie uitgewerk het nie. Die prentjie was ek wat onder staan, dan my vriendin en dan God. En dit slaan my soos ’n bom: Sy staan tussen my en God. Ek besef ewe skielik dat sy in God se pad staan. Nee, nog meer, dat ek toegelaat het dat sy God se plek in my lewe ingeneem het, want ek het haar liewer as vir God. Ek bely net daar my sonde, neem ’n potlood en teken my eie prentjie waar God eerste is, dan ek en dan sy.

Daardie middag stap sy doodluiters terug in my woonstelkamer en sê sy is jammer, sy het ’n fout gemaak. Ek het niks gesê nie en haar net omhels. Vir ’n paar maande het ons verhouding geblom en het ons planne gemaak om die res van die lewe saam te stap, maar ongelukkig is sy kort daarna in ’n motorongeluk oorlede.

Dit klink dalk vir jou na toeval of ’n stroperige storie, maar ek glo dat God my hand hier kom neem het om my iets groots te leer. Hy wil eerste in ons lewens wees. Hy is ’n jaloerse God en sal nie toelaat dat iets tussen Hom en ons kom staan nie. En as dit moet, sal Hy dit kom weghaal. Niks, maar niks, moet sy woning tussen ons en Hom kom maak nie.