God eerste

God eerste
God eerste

In ‘n wêreld waar soveel dinge konstant vir ons aandag kompeteer kan dit nogals uitdagend wees om God heel eerste te hou. Ons fokus word so dikwels  weggewink, of is dit net ek? 

Vandag wil ek my en jou kom herinner. Ons gaan en kan net nooit verloor as ons God in daardie heelboonste plekkie hou.

Als word in perspektief gebring en in balans gehou wanneer ons dit doen. Dit mag dalk nie altyd maklik wees nie maar dit is moontlik.

Kom ons wees bewus waaraan ons tyd bestee. Hoe weeg tyd saam met God op in vergelyking daarmee?

Hou God eerste vriende, eerste.

Dis nie dat die ander goed noodwendig sleg is nie maar wanneer hierdie goeters begin inbraak maak op die tyd en aandag wat veronderstel is om aan God te behoort dan raak dit ‘n probleem.

Als wat LEWE is vloei voort uit Jesus nommer 1 hou. Johannes 10 vers 10.

Sal God vertroue vind in die woorde wat Hy in Mattheus 6:33 sê … Hou My eerste en die res sal bygevoeg word?

God is so trots en Hy sê voorwaar dankie aan al Sy kinders wat altyd seker maak dat die skaal van tyd en belangrik in Sy guns bly lê. As jou skaal oorhel na dinge meer belangrik as God wil ek net vra wees bereid om te besin, dinge in heroorweging te neem en te sê: “Nee wag, hier kort ‘n bietjie verandering.”

Dit pla God as ander dinge vir ons belangriker is as Hy. Dit moet ons ook hinder. ‘n Hart wat altyd opreg vra: “Help my U die belangrikste hou.” Dit eer Hom. Kom ons hê so ‘n hart.

Dit als omdat ons so graag wil uitkom by die land van melk en heuning wat Abba vir ons voorberei het in verhouding met Hom.

Ek sien onlangs ‘n prentjie wat sê dis nie dat ons nie tyd het nie, dis dat dit nie belangrik genoeg vir ons is nie. Ek dink daar’s nogal waarheid daaraan. Hart-in-lyn-bring-woorde. Dis ‘n goeie ding, al voel dit nie so. Glo my!

Baie liefde,

Letitia