God Gee Tweede Kanse

Ek hou van tweede kanse.

Dis dalk omdat ek dit al soveel keer in my eie lewe nodig gehad het. Ek vergeet ‘n liewe vriendin se verjaardag. Ek let nie op na my woorde en stemtoon terwyl ek ‘n probleem met my man “bespreek” nie. Ek het nie die nodige geduld gehad met een van my meisiekinders nie… Ek is ongelooflik dankbaar vir Klaagliedere 3:21-23.

Ek mors letterlik elke dag op!

Selfs gisteraand. Ek was by een van my dogter se vlugbaltoernooie. Ek wou die meisie wat gereed maak om te dien aanmoedig, en het geskreeu, “Jy kan dit doen ‘so en so,’” net om te besef dat ek so pas die verkeerde naam uitgeskree het! Die meisie wie se naam ek uitgeskree het, het op die bankie gesit! O, hoe graag wou ek in daardie oomblik ‘n tweede kans gehad het, ‘n geleentheid om dit oor te kon doen, om NIE DAARDIE ma te wees nie … jy weet, die een wat die verkeerde name van die kinders uitskree en haar dogter in die proses verneder, om nie eers van die arme meisie op die bankie te praat nie.

Ek het ‘n tweede kans nodig gehad, en so het Jona.

Gelukkig het God, in sy goedheid en liefde, vir Jona ‘n tweede kans gegee, en Hy doen dieselfde vir ons.

Hierdie keer sou Jona nie weer dieselfde fout maak nie. Toe hy weer gekonfronteer word met die keuse om God te gehoorsaam of nie, kies Jona om in die regte rigting te gaan … hierdie keer na Nineve.

Dis ongelooflik wat ‘n storm en drie dae in die buik van ‘n groot vis kan doen om jou perspektief te verander.

Miskien het jy, soos Jona, dalk ‘n dringende tweede kans nodig. Dalk het God jou geroep na ‘n ander “land” en ‘n ander “mense” en jou eerste reaksie was om in die teenoorgestelde rigting te hardloop.

Dalk is jy nou in ‘n storm vasgevang. Jy roep dalk uit na God om jou te vergewe en jou te red van die vernietiging wat jou keuses veroorsaak het.

Dit maak nie saak hoe jy in jou storm opgeeïndig het nie, wat saak maak is wat jy volgende gaan doen. Leer by Jona en roep uit na God. Alles is nie verlore nie. Daar is ‘n paar waardevolle lesse wat jy kan leer deur die proses terwyl jy terugkeer na God. Roep uit na Hom in jou nood en wanhoop en onthou, Hy is die enigste Een wat die storm kalm kan maak en die water kan stil.

Dis nie belangrik waarheen jy oppad was nie, wat belangrik is, is na Wie jy nou oppad is.

Draai terug na Jesus.

Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Johannes 1:9) Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. (Klaagliedere 3:22-23) Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. (Psalm 145:8) Moenie toelaat dat swak besluite in die verlede jou keer om nou goeies te maak nie. Ongeag jou verlede, Jesus kan alle dinge nuut maak (Jesaja 43:19).

Dit is die hartklop van die Evangelie. Jesus het gekom vir sondaars soos ons.

Hy het vir jou en vir my gekom. Onvolmaakte mense wat ‘n behoefte het aan ‘n volmaakte God.