God het Donnalee se pad beplan

0
400
donnalee.jpg

Pad na jou Hart is onlangs op DVD vrygestel, en die sukses skryf Donnalee Roberts alles aan God toe.

God gebruik ’n mens net daar waar jy is. Selfs al sal jy nooit droom dis ’n plek waar jy tuishoort of inpas nie. Dit het ek besef toe ek in 2006 joolkoningin geword het. Ek het dit nooit eens oorweeg om daarvoor in te skryf nie. As bietjie van ’n tomboy het ek vasgekyk in die miskonsepsie dat so ’n titel net vir “poppies” beskore is en sou ek nooit self ingeskryf het nie bloot net omdat ek bang was vir mense se opinies, dat mense dalk sou dink ek dink ek is mooier en beter as ander? Sonder dat ek geweet het, het een van my beste vriendinne wat my hart ken en my liefde vir liefdadigheidswerk deel, my ingeskryf en oortuig om ’n kans te vat, en toe ek weer sien was dit ’n warrelwind van projekte en fondsinsamelings, maar nogsteeds was ek bang vir mense se oordeel …

Toe lees ek die aand voor die uitdun in my Bybeldagboek:
“If you allow certain people, they will stop you from fulfilling God’s destiny for your life because they will always have something to say and those are the people who will try and bring you down.”

Ek het hoendervleis gekry. Duideliker kon die boodskap nie gewees het nie. Ek sou nooit kon raai watter deure daarna vir my sou oopgaan nie. Hy het my getuienis veel groter gemaak as wat ek ooit sou kon droom. En dit het net daar begin.

Ek het gou agtergekom wat die ware doel van jool is. Dit gaan nie net oor een week se partytjie per jaar en ’n klomp studente wat vlot bou nie. Dit behels harde werk regdeur die jaar om geld vir minderbevoorregtes in te samel. Ek kon my passie vir liefdadigheidswerk, soos die Reach for a Dream-organisasie en Help Net Huise van Veilige Bewaarding vir Kinders maklik voortsit as joolkoningin.

Ná die titel as joolkoningin het Mej. Kampus SA gevolg en moes ek Suid-Afrika by die Mej. Wêreld-kampus in Suid-Korea verteenwoordig. Al het dit vir my gevoel asof ek glad nie inpas nie het ek geweet daar is ’n rede hoekom ek daar moes wees. Ek het die kans gekry om met ongelowiges te praat oor wat regtig saak maak en daar het ek besef dat hierdie skoonheidstitels vir my ’n platform op ’n verhoog geskep het waarvandaan ek met mense kon werk. Nog twee internasionale titels, Mej. Persoonlikheid en die International Goodwill Ambassador, het vir my nog meer deure oopgemaak vir geldinsamelingsprojekte vir liefdadigheid. Dit was vir my elke keer meer as ’n titel, en God se plan het elke keer duideliker geword, Hy het my liefde vir die verhoog en my passie vir mense op hierdie manier gekombineer.

Met toneelspel, my groot liefde, het ek ook gesien: Wat jy insit, is wat jy uitkry. As jy aanhou met alles in jou werk aan iets waaroor jy passievol is, en ten alle tye alles wat jy sê en doen met integriteit aanpak, kan dit nie anders as om geseënd te wees nie. Dit kon nie vir my meer duidelik gewees het as met die film Pad na jou Hart nie, waarin ek gespeel het en ook die mede skrywer en mede vervaardiger was, God se guns en genade het letterlik daarop neer gereën.

Ek glo die beste lê nog voor… Dit sluit in reise na verre lande, om voluit as storieverteller – akteur, skrywer en vervaardiger aan te hou om films te maak wat mense positief aanraak en trots maak op die stories wat in ons land gebore word en die films wat in ons land gemaak word. En om deel te wees van verhoogstukke wat groot gehore trek. Natuurlik is die liefde nie uitgesluit nie en sal dit vir my die grootste geskenk en voorreg wees om ook eendag ’n ma te wees en onvoorwaardelik te kan liefhê soos wat ek onwrikbaar weet my ouers my het. Maar om bowenal elke kosbare oomblik saam met my geliefdes te eer. Ek weet en is nou al dankbaar dat Hy die meetsnoere vir my verder op my pad ook in lieflike plekke sal laat val – soos Hy tot nou toe gedoen het.